Fiona van Kerwel en Catrina Wessels het PEN Afrikaans verteenwoordig by die internasionale PEN-kongres wat 25–29 September in Pune, Indië, plaasgevind het. By dié jaarlikse byeenkoms kom ledesentrums van oor die wêreld byeen in komiteevergaderings en algemene vergaderings wat met PEN se bedrywighede te doen het. Fiona van Kerwel deel hier haar indrukke van die kongres.

25 September 2018
Ons eerste dag skop af met ’n vergadering van PEN Internasionaal se Komitee vir Vertaling en Taalregte. Die onsekerheid oor wat alles sal gebeur en verwag word oorval my ’n bietjie. Nietemin, ek en Catrina word deel van ’n internasionale groep mense wat kwessies bespreek en aanspreek oor die vertaling en taalregte van skrywers in hul onderskeie lande.
Die sessie begin met ’n kort bekendstelling van almal in hierdie komitee, en gou voel ’n mens tuis tussen al die woordmense. Die protokol word ook deur die voorsitter, Simona Skrabeç verduidelik.
Simona vertel kortliks oor die belangrikheid van taal en die verwerwing daarvan, asook hoe hierdie komitee hierdie taalregte kan beskerm deur mense ’n platform te gee, of om mense ’n stem te gee, asook ondersteuning te gee aan mense wat bedreiging in die oë staar. Hierdie komitee gee aan skrywers toegang tot ’n globale stem, die wat onderdruk word sowel as dié wat skep.
Ons kyk na ’n dokumentêr oor toegang tot leesboeke vir leerders in marginale of afgeleë plattelandse dele van Indië. ’n Toegewyde opvoeder het seker gemaak dat leerders leer lees in ’n taal en konteks wat vir hulle bekend is. Die behoefte van moedertaalonderrig word weereens beklemtoon, veral in ’n land soos Indië waar geleenthede tot onderwys baie belangrik is.
Ganesh Devy, gasheer en voorsitter van PEN Suid-Indië, word hierna aan die woord gestel. Hy het drie gaste wat die gehoor gaan toespreek oor hul onderskeie projekte en studies rakende taal. Die gassprekers praat onderskeidelik oor die neurologiese funksies wat met taal te doen het, die belewing van taal in visuele media veral in films en die linguistiese identiteit en funksies binne verskillende kontekste.
Samevattend word die belangrikheid van die beskerming van taalregte bespreek en die rol van PEN-sentrums word beklemtoon as ’n plek waar taalregte en linguistiese funksies beskerm en ontwikkel moet word, die belang om orale tekste en gebaretaal te ontwikkel, asook veeltaligheid word aangeraak.
26 September 2018
“To make the unfamiliar familiar
To address things that make us uncomfortable”
Hierdie woorde van die voorsitter beskryf die rol van vertalers as inleiding tot die vergadering wat op literêre vertaling fokus. Genderkwessies word ook uitgelig, aangesien die meerderheid vertalers vroue is.
Vertalers moet deur hul werk reg laat geskied aan die konteks waarbinne die oorspronklike werk geskep is. Vertalers moet oor ’n deeglike kennis beskik van die taal en kultuur van die stories waaruit hulle vertaal, asook goeie begrip hê van die taal waarna hulle vertaal.
Die brandende kwessie of vraag is nog steeds wie besluit watter werke vertaal behoort te word en wie is die teikenmark. Is dit ’n kommersiële besluit of is daar ander belangrike kwessies, soos bemagtiging en ontwikkeling, wat ook aandag moet geniet?
Nog ’n brandende vraag was of dit eintlik veiliger is om liewers in Engels te skryf as in ’n inheemse taal, en hoe verteenwoordigend is werke vir almal? Is daar sprake van ’n sekere linguistiese elite?
Hierná lewer vier vertalers verslag oor die situasie met betrekking tot vertaling binne hul lande. Die uitdagings waarmee baie sukkel, is die politiese situasie in hul lande en die beperkings wat dit op inheemse tale plaas; asook om die gepaste tekste vir vertaling te vind en benut.
Die jaar 2019 is deur UNESCO aangekondig as die jaar vir inheemse tale en PEN-sentrums word aangemoedig om hierop te fokus.
Afgevaardigdes van Afrika-sentrums
“Translators speed dating”
Die “translators speed dating”-sessie is ’n geleentheid waar vertalers van Marathi en skrywers in die vertrek drie minute het om gedagtes met mekaar uit te ruil. Sodoende kon ’n mens ten minste vier vertalers ontmoet. Aan die einde van hierdie rondgaande sessie, was daar geleentheid om vir 15 minute te gesels met die vertaler by wie jy die meeste aanklank vind en met wie jy as’t ware die pad wil loop. Ek het gekliek met Varsha van Indië, maar ons kon ongelukkig nie verder gesels nie. Beide van ons is betrokke by skoleprojekte en moedertaalonderrig. Ons het egter kontakbesonderhede uitgeruil en hopelik sal hierdie verbintenis groei.
Die sessie is afgesluit deur twee genooide sprekers, bekend gestel deur Ganesh Devy van PEN Suid-Indië, wat die belangrikheid van vertaling beklemtoon het. In die woorde van een van die sprekers: “vertaling moet gesien word as die derde lewe van jou boek. Die eerste is dit wat jy geskep het, die tweede is die boek wat uitgegee is, en die derde lewe, is die vertaalde weergawe. Vertaling moet gesien word as die verryking en uitbreiding van taal en menslike moontlikhede.”
Simona Skrabeç het vertaling met die lewe van ’n blom vergelyk. As jy die blom pluk en in ’n vaas sit, sal dit ’n paar dae lewe, maar as jy die blomplant iewers oorplant, het dit ’n nuwe lewensiklus.
Civil Society Programme
Fiona dui haar naam op die bord by die Global Language Park aan.
PEN Internasionaal se “civil society programme” is ’n befondsingsprogram wat PEN-sentrums in staat stel om gemeenskapsprojekte aan te pak. PEN Afrikaans het in 2016 en 2017 die Trippel 7-skryfprojek as deel van hierdie program aangebied.
Die gesprek oor die “civil society programme” tydens die middagete was besonder insiggewend veral omdat dit so in lyn is met PEN Afrikaans se bemagtigings- en gemeenskapsprojekte. Hoewel ek nie deel was van die vorige projek nie, kon ek wel identifiseer met die aanbieding en evaluering van bestaande projekte wat befonds is deur PEN Internasionaal.
Aanbevelings vir aansoeke vir befondsing, sowel as protokol, verslaggewing, monitering en volhoubaarheid is bespreek. Moontlikhede vir ontwikkeling van gemeenskapsprojekte en die maniere om impak te meet, is ook deurgegee. Deursigtigheid en verantwoordbaarheid is belangrik, en so ook die vestiging van sinvolle vennootskappe ten einde volhoubaarheid te verseker.
Die algemene vergadering, die eerste groot byeenkoms van alle PEN-lede, was ‘n wonderlike ervaring. Die besef dat dit ’n internasionale gebeurtenis is, skop in. Dit voel amper soos die Verenigde Nasies. ’n Bywoningsregister is hardop geneem en dit het baie goed gevoel om PEN Afrikaans ook te hoor. Hierna was alle oorledenes vereer met ’n minuut van stilte. Verskeie PEN-sentrums doen hul deel op die podium. Hierdie is ’n absolute magiese ervaring.
Finansiële verslae word voorgelê en goedgekeur, asook die gebruik van die gekose ouditeurs, alles word eenparig aanvaar. VIDA, dit verwys na vroue in letterkunde en die kwessies wat vroue skrywers ervaar, word bespreek. Grace van Malawi deel die storie van vroue in Malawi en hul uitdagings. Dié PEN-sentrum skenk boeke aan gemeenskapsprojekte waar vroue leer om te kan lees en skryf. Grace bedank PEN Internasionaal vir die ondersteuning van hierdie projek.
Agakhan Paleis en Symbiosis Universiteit
Teen 15h30 vertrek ons na Agakhan Paleis, waar ons die grafte van Mahatma en Kasturba Ghandi besoek. Dit is voorwaar ’n area waar mens die rustige atmosfeer te midde van ’n uiters besige omgewing kan aanvoel. Ons vertrek later na die Symbiosis universiteit waar ons studente ontmoet wat hul kunswerke uitstal asook ’n vertoning van Jagadamba kyk. Hierdie eenvrouvertoning beeld die lewe van Kasturba Ghandi uit.
Ganesh Devy spreek gaste toe en bevestig dat die kongrestema van vryheid, diversiteit en waarheid baie gepas is vir die uitdagings waarmee Indiese skrywers worstel, en ook gepaste rigtingwysers is om die lewe van die Ghandi-egpaar te herdenk en te vier.
Fiona met studente by Pune Universiteit
27 September
Die samestelling en verantwoordelikheid van PEN Internasionaal se Londen-span word aan die kongresgangers verduidelik. Bestuursrolle en verantwoordelikhede is op ’n organogram uiteengesit en verduidelik. Die koördineerders van die verskillende streke wat ook na die belange van die sentrums in hul streek moet omsien, word genoem. Sentrums word aangemoedig om hul werksaamhede na die webwerf van PEN Internasionaal te stuur.
Hierna word die PEN-noodfonds se protokol en werksaamhede verduidelik en die voorsitters van die onderskeie komitees word bekendgestel, en lewer ’n kort verslag oor hul komitees se werksaamhede. Hierna begin die verkiesing vir vakante posisies, die goedkeuring van nuwe PEN-sentrums, die bespreking van sentrums met min of geen werksaamhede, asook die bespreking en stemming van en vir resolusies.
Hierdie besprekings duur lank en ons mis daarom ongelukkig die geleentheid om na die publieke lesing oor Ghandi se relevansie vandag te gaan luister.
Met soveel nuwe inligting as bron van inspirasie, vergader ek en Catrina en bespreek moontlike nuwe projekte vir PEN Afrikaans.
28 September
Ons vertrek reeds baie vroeg na Pune universiteit. Alle delegate van PEN-sentrums word hartlik verwelkom en kry die geleentheid om hul name op ’n bord aan te teken, asook die sentrums wat hulle verteenwoordig. Die gevoel van al die internasionale gaste tref ’n mens weer by dié spesiale opening van ’n Global Language Park wat voortaan by Pune Universiteit gehuisves word.
Hierna kry ons die geleentheid om ’n boom in ’n aangewese gedeelte van die universiteitsgronde te gaan plant. Hierdie boom verteenwoordig die taal wat ons praat. Almal kies lukraak waar hulle wil plant en watter boom hulle verkies. Heel toevallig raak die Afrikaanse boom die buurboom van Nederlands!
Catrina by die boom vir Afrikaans
Hierna vertrek ons na verskillende opleidingsentrums en PEN Afrikaans besoek SP College. Ons word hartlik verwelkom en elkeen kry ’n geleentheid om iets van hulself en hul werksaamhede te deel. Catrina word omtrent oorval oor die regsaspek van haar werk en studente stel ook baie belang om met WOW kontak te maak.
Daarna is ons die gaste vir middagete van hierdie uiters gasvrye personeel voordat ons vertrek na ’n optog oor taalregte deur die besige strate van Pune. Die optog eindig in ’n groot samekoms waar skrywers wat verban is of onder huisarres geplaas is hul stories met die gehoor deel. Indiese letterkundiges word ook hier vereer. Die vol dag word afgesluit met ’n aandete by een van die plaaslike skole en daarna vertrek ons na die hotel.
29 September
Net na ontbyt en voor die groot vergadering, ontmoet die delegate van die Afrika-sentrums en gesels op ’n informele, maar ook formele manier oor die kwessies wat Afrika-sentrums in die oë staar. Samesprekings van die verlede word kortliks verduidelik om konteks te gee aan almal en moontlike oplossings word bespreek. Die noodsaaklikheid aan ’n opvolgvergadering word bespreek en Marokko bied aan om die gasheer te wees. Hierna vertrek Catrina na die groot vergadering en ek gesels verder met die verteenwoordiger van Marokko.
Net na middagete maak ons gereed om terug te keer na Suid-Afrika. ’n Onvergeetlike leerskool en ervaring van mense en hul taalkwessies dwarsoor die wêreld, het vir my baie wêrelde geopen. Ek besef dat ons land baie uitdagings het, maar ook dat ons vele geleenthede het, wat nie noodwendig in ander lande bestaan nie. Die lang vlug huis toe is nogal uitputtend, maar die ryke leerervaring is absoluut fantasties. Ek hoop en glo dat PEN Afrikaans nog sommer baie dinge kan laat gebeur, en ek wil onmiddellik wegspring met die idee van ’n Boekefees vir ons jongspan en skole.
Baie dankie aan PEN Afrikaans vir hierdie wonderlike geleentheid. Ek sien uit na nog vele werksaamhede van hierdie besondere sentrum en taak van ons.