PEN Afrikaans AJV 2018: Voorsittersverslag – Marga Stoffer

PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering
Dinsdag 2 Oktober 2018 om 19:00
ATKV-Boeke-oase (Hoffmanstraat 61), Potchefstroom

Agenda

  1. Verwelkoming
  2. Verskonings en vasstelling van ’n kworum
  3. Afspraak oor lede wat volmag het om vir ander te stem
  4. Goedkeuring van notule vir die AJV gehou op 16 September 2017 in Wellington, en sake voortspruitend uit die notule
  5. Voorsittersverslag
  6. Tesourier se verslag
  7. Bestuurder se verslag
  8. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds  
  9. Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg se implikasies vir skrywers en uitgewers
  10. Taalregte: die stand van sake en ’n stemming oor die pad vorentoe
  11. Algemeen

Verwelkoming, verskonings, kworum, goedkeuring van notule

Goeienaand! Dit is ’n plesier om Afrikaanse skrywers, joernaliste, uitgewers en ander taalgenote te kan verwelkom by ’n algemene jaarvergadering van PEN Afrikaans. Vanjaar is dit PEN Afrikaans se sesde byeenkoms van dié aard.

Lede wat verskoning aangeteken het, is Bernard Odendaal, Wannie Carstens, Andries Visagie, Charl-Pierre Naudé en Fanie Viljoen. Ons het volmagte ontvang van die volgende lede: Amanda Lourens, Annie Olivier, Bernard Odendaal, Carina Stander, Chanette Paul, Fanie Viljoen, Fiona van Kerwel, Franci Greyling, Francis Galloway, Frederick J Botha, Hannes Deetlefs, Irma Venter, Jaco Fouché, Martin Steyn, Miemie du Plessis, Pierre-Marie Finkelstein, Ronel de Goede, Tertius Kapp, Wannie Carstens en Fanie de Villiers.

Oor die vasstelling van ’n kworum: Ons het tans 68 opbetaalde lede en ’n kworum is 40% daarvan, d.w.s. 27 lede.

Die sakelys vir vandag is per e-pos aan alle lede gestuur, en so ook die notule van die vorige algemene jaarvergadering, in September 2017. Ten aanvang vra ek nou goedkeuring vir vandag se sakelys, en daarna vir die 2017-notule. Daar is geen sake voortspruitend uit die notule wat nie ook ondervang word in die sakelys vir vandag nie, dus gaan ek direk voort met die voorsittersverslag.

Voorsittersverslag

Bekronings

Ten aanvang wil ek, soos gebruiklik, graag PEN Afrikaans se gelukwensinge oordra aan alle skrywers wat sedert die begin van vanjaar bekroon is vir publikasies wat in 2017 (en in sommige gevalle vroeër) verskyn het. Hulle sluit in:

Pieter-Dirk Uys: Hertzogprys vir drama vir Stukke teater, met inagneming van sy hele oeuvre;

SJ (Fanie) Naudé: Eugène Maraisprys, die UJ-prys en die kykNET Rapportprys vir fiksie vir Die derde spoel;

Etienne van Heerden: ATKV-prosaprys vir Die wêreld van Charlie Oeng;

Eben Venter: WA Hofmeyrprys vir Groen soos die hemel daarbo;

Nicole Jaekel Strauss: Jan Rabie-Rapportprys vir haar kortverhaalbundel As in die mond;

Marlene van Niekerk: CL Engelbrechtprys vir Letterkunde vir Kaar en die Elisabeth Eybersprys vir poësie vir In die stille agterkamer;

Jolyn Phillips: UJ-debuutprys vir haar digbundel Radbraak;

Johan Myburg: ATKV-prys vir poësie vir Uittogboek;

Elsa Joubert: kykNET Rapport-prys sowel as die ATKV-prys vir niefiksie vir Spertyd;

Rudie van Rensburg: ATKV-prys vir spanningslektuur vir Kamikaze;

Irma Joubert: ATKV-prys vir liefdesroman vir Mentje, kind van Pas-Opkamp;

Gerda Taljaard: kykNET Rapport boekprys vir film vir Die laksman se dogter;

Dina Botha: ATKV-prys vir romanses vir Alles is perfek;

Jaco Jacobs: Tienie Hollowaymedalje vir kleuterliteratuur vir Grom (geïllustreer deur Lilje Karsten); en

Carin Krahtz: MER-prys vir jeugromans vir Blou is nie ’n kleur nie.

ATKV-Kinderboektoekennings is ook gewen deur die volgende skrywers:

Louise Smit: Voorleeskategorie vir Bennie Boekwurm se tonnelhuisie

Jaco Jacobs: Selfleeskategorie graad 2-3 vir Professor Fungus en die monsterformule en Selfleeskategorie graad 4-5 vir Zackie Mostert en die super-stinkbom

Cecilia Steyn: Sefleeskategorie graad 6-7 vir #PresiesAnders: Eksperimente en eerste soene

Marion Erskine: Selfleeskategorie graad 8-10 vir Vlerke vir almal.

Ook die werk van joernaliste en resensente het erkenning ontvang. Herman Wasserman is bekroon met die Stalsprys vir kommunikasiekunde en joernalistiek, en Martie Retief Meiring het die Markus Viljoenmedalje vir joernalistiek ontvang. Die wenners van die kykNET-Rapportpryse vir boekresensent van die jaar is Charl-Pierre Naudé, in die fiksie-kategorie, vir sy resensie van Jolyn Phillips se digbundel, Radbraak; Jean Meiring in die niefiksie-kategorie met sy resensie van Elsa Joubert se Spertyd; en Ronel Foster in die kategorie vir langer resensies met haar resensie van Krap uit die see deur Fourie Botha. 

Dié wat ons verlaat het

Sedert ons algemene jaarvergadering in Wellington verlede jaar het ons afskeid geneem van verskeie individue wat groot spore getrap het in die Afrikaanse letterkundige wêreld. Ryk Hattingh is in Oktober verlede jaar, kort nadat hy bekroon is met die kykNET Rapportprys vir fiksie vir Huilboek, in Nieu-Seeland oorlede. In Junie vanjaar is die literêre wêreld geruk deur die moord op die digter Tom Gouws. Ons het ook vanjaar afskeid geneem van Lerina Erasmus, skrywer van Die Mannheimsage en meer onlangs Die leliemoordenaar; die skrywer en sanger Annalise Wiid; die joernalis en skrywer Cas van Rensburg; en die navorser Christo van Rensburg. Koos Human, medestigter van Human & Rousseau en ’n reus in die plaaslike uitgewersbedryf, is ook onlangs oorlede. Ons rou ook oor die skielike dood onlangs van Mark Minnie, medeskrywer van Die seuns van Bird Island.

PEN Afrikaans Vertaalfonds

Ek wil vlugtig drie sake aanraak wat op die sakelys is en in meer besonderhede bespreek sal word deur ons bestuurder, Catrina Wessels, en ons ondervoorsitter, Danie Marais. Die eerste is die PEN Afrikaans Vertaalfonds, tweedens is daar die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, en derdens die kwessie van taalregte.

Oor die PEN Afrikaans Vertaalfonds: Soos u weet, het Afrikaanse literêre werk in die verlede nooit dieselfde voordele geniet wat ander tale het waar daar ’n vertaalfonds is wat dit makliker maak om werk in vertaling die lig te laat sien nie. Dit was baie moeilik om vertaalregte in literêre werke verkoop te kry omdat die vertaalkostes dit bitter duur gemaak het vir buitelandse uitgewers om bo en behalwe die gewone produksiekoste te absorbeer. PEN Afrikaans het twee jaar gelede ons vertaalfonds op die been gebring danksy ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Ons kon in Desember 2017 en Mei 2018 aansoeke vir vertaalkoste oorweeg en die eerste titels het reeds die lig gesien in vertaling. Die meeste daarvan is in Nederlands – en dit weerspieël die sterk bande wat Afrikaanse uitgewers met hul Nederlandse kollegas het. Ons glo egter dat brûe na ander taalgemeenskappe ook versterk sal word, tot voordeel van ons skrywers, en dat ons binnekort ook vertalings in ander tale sal sien.

Wysigingswetsontwerp op Outeursreg

Ons lede is bewus van ons kommer oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, wat ons die afgelope drie jaar by ons vergaderings bespreek het. Die hersiene weergawe van die Wysigingswetsontwerp is vroeër vanjaar beskikbaar gemaak en belanghebbendes is uitgenooi om geskrewe kommentaar in te dien oor spesifieke bepalings in die hersiene dokument. Die hersiene weergawe bevat steeds, en ten spyte van die gedokumenteerde besware van organisasies soos die Suid-Afrikaanse Uitgewersvereniging en verskeie vooraanstaande regskenners, bepalings wat uiters nadelig vir skrywers en uitgewers sal wees. PEN Afrikaans het ook ’n voorleggings aan die Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid ingedien.

Catrina is goed ingelig oor die Wysigingwetsontwerp en sal die jongste verwikkelinge opsom.

Taalregte

As organisasie wat hom toespits op vryheid van spraak en die bevordering van die belange van Afrikaanse skrywers is taalregte ’n prioriteit vir PEN Afrikaans.

Soos Kerneels Breytenbach twee jaar gelede gesê het: Skrywers het lesers nodig. ’n Skrywer se toegewyde werk aan ’n manuskrip – die ure wat gespandeer word, die herhaalde oorskryf en skaaf aan ’n stuk skryfwerk – en die verdere werk wat gedoen word om die manuskrip tot by publikasie te bring, is tevergeefs as daar nie ’n leserspubliek is nie.

Op sy beurt kan ’n leserspubliek alleen bestaan en in stand gehou word as daar ’n toereikende onderwysstelsel is, en universiteite waar die taal as medium gebruik word, maar ook bestudeer en verfyn kan word.

PEN Afrikaans is uiteraard ten gunste van alle pogings wat daarop gemik is om die teelaarde vir Afrikaans te koester, te behou en uit te bou.

Danie Marais het in Junie ’n byeenkoms van PEN International se Komitee vir Vertaling en Taalregte in Switserland bygewoon. Hy het tydens die konferensie ’n referaat gelewer oor meertaligheid en taalregte in Suid-Afrika. Hy sal kortliks daaroor terugrapporteer en ook die gesprek oor waar PEN Afrikaans oor taalregte staan bespreek en die stemming oor die pad vorentoe lei. Ons sal vandag graag ons lede se gevoelens daaroor wil peil.

Stellingnames deur PEN Afrikaans

Die beskerming van die reg op vryheid van uitdrukking – die vryheid om idees uit te druk sonder vrees vir aanvalle, arrestasie of ander vervolging – lê sedert PEN International se ontstaan in 1921 aan die kern van dié organisasie se werksaamhede.

As lid van PEN International, die wêreld se grootste skrywersvereniging, skaar ons ons graag by standpunte wat op internasionale vlak geneem word oor die skending van skrywers en joernaliste se regte, en teenstand teen alle vorme van sensuur. Eweneens geniet ons die steun van PEN International oor standpunte wat ons inneem oor plaaslike skrywersake.

In hierdie konteks het ons in die afgelope jaar ten sterkste beswaar aangeteken teen die regering (die departement Staatsekuriteit sowel as SARS) se pogings om Jacques Pauw en sy uitgewer te dwing om sy boek The President’s Keepers aan die mark te onttrek, en hulle te intimideer. Hierin het ons die ondersteuning van PEN International (sowel as die International Publishers’ Association) ontvang.

PEN Afrikaans het ook beswaar gemaak teen die intimidasie van die skrywers van Die seuns van Bird Island, Chris Steyn en Mark Minnie, en die joernalis Marianne Thamm, wat die voorwoord van die boek geskryf het en dit geredigeer het.

PEN Afrikaans het ook ’n openbare verklaring uitgereik waarin versoek is dat die Film- en Publikasieraad die X18-ouderdomsbeperking op die kontroversiële film Inxeba|The Wound terugtrek, aangesien dit neerkom op sensuur, en dat die vorige ouderdomsbeperking van 16 herstel word sodat die film vryelik landwyd getoon kon word. Die ouderdomsbeperking is uiteindelik wel herstel tot 16.

Ander

PEN Afrikaans is egter ook met ander projekte gemoeid waar daar geen politiek of aktivisme betrokke is nie, en waar dit gewoon gaan oor die ondersteuning van skrywers, en die fasilitering van projekte. So het ons vanjaar twee afsonderlike sessies tydens die jaarlikse poësiefees Tuin van Digters in Wellington aangebied.

As diens aan ons lede het ons ook vanjaar ’n artikelreeks in ons nuusbrief begin oor onderwerpe wat spesifiek relevant is vir skrywers. My dank aan Catrina Wessels, wat dit gereël het.

Afsluiting

Ten slotte wil ek ons dankbaarheid uitspreek aan die Trust vir Afrikaanse Onderwys, vir hulle finansiële ondersteuning wat dit vir ons moontlik maak om ’n aktiewe vereniging met internasionale aansien te wees, en wat die PEN Afrikaans Vertaalfonds moontlik maak.

Ek wil ook graag ons bestuur bedank, wat almal op verskillende maniere groot bydraes gemaak het. Ek is baie dank verskuldig aan ons ondervoorsitter, Danie Marais, ons bestuurder, Catrina Wessels, en ons tesourier, Naomi Bruwer vir hulle harde werk, tyd en ondersteuning. Ons ander bestuurslede – Bernard Odendaal, Charl-Pierre Naudé, Francis Galloway, Izak de Vries, Fiona van Kerwel, Andries Visagie – dra ook almal aktief by tot ons projekte en ek wil vir hulle almal baie dankie sê. In ’n jaar wat vir my op persoonlike vlak onverwags uiters veeleisend was, kon ek staatmaak op ’n bestuur wat besonder begeesterd is, en wat uiters sinvol en positief saamwerk. Ek is trots op wat ons as span kon vermag.

Oor die pad vorentoe: Ek hoop dat PEN Afrikaans dit toenemend sal regkry om die volle spektrum van Afrikaanse skrywers te verteenwoordig, dat ons op ’n sinvolle wyse sal kan bydra tot die belange van alle Afrikaanse skrywers, dat ons meer jonger lede kan lok, en dat ons as organisasie kan groei sodat ons ook sodoende meer kan vermag, tot voordeel van Afrikaanse skrywers.

Marga Stoffer

2 Oktober 2018