PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering het op 14 September 2019 in die Wellington-biblioteek plaasgevind. Hier is die bestuurdersverslag.
Goeiemiddag en van my kant af ook welkom by PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering van 2019.
Onlangs het ek koffie gedrink saam met iemand wat aan my gevra het: Wat doen PEN Afrikaans? Die vraag is gestel op ’n manier wat dit laat klink het of die persoon nie oortuig is dat ons veel doen nie. Dit gaan oor die beklemtoning van die woord doen. Wat doen PEN Afrikaans?
In ons bestuursvergaderings en interne gesprekke gaan ons ook met hierdie vraag om. Wat doen ons? Wat bied ons aan ons lede?
Die breë antwoord hierop is dít wat in ons visie en missie vervat is: ons is ’n skrywersvereniging wat die Afrikaanse woordkuns vier en bevorder, plaaslik sowel as internasionaal. Ons beywer ons vir die belange van skrywers, vir die belang van taal, letterkunde en vryheid van uitdrukking. Tog bly so ’n antwoord maklik abstrak – ek sien dit in die oë van die persoon saam met wie ek koffie drink.
Hierdie bestuurdersverslag sluit dus aan by die tema van vanjaar se Tuin van Digters, waartoe ons as opbetaalde lede bevoorreg is om gratis toegang te verkry – baie dankie aan Francois Lötter. Dit fokus op (aan)dadigheid, op die daad by die woord voeg, op die doendinge.
Ek doen dus graag verslag oor PEN Afrikaans se reële werksaamhede sedert ons algemene jaarvergadering in Oktober verlede jaar.
Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg
Kort ná ons vorige algemene jaarvergadering, is daar aangekondig dat die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg aan die Nasionale Vergadering voorgelê sou word vir goedkeuring. PEN Afrikaans het in samewerking met mede-skrywersverenigings ANFASA en PEN South Africa ’n protesaksie teen die wetsontwerp geloods. Ons besware daarteen is aan julle bekend. Binne net meer as ’n week is die petisie deur meer as 3000 individue en 125 organisasies, stigtings en besighede onderteken.
Namate die gewraakte wetsontwerp deur die wetgewende proses gevorder het, het dié petisie, met handtekeninge van prominente plaaslike en internasionale skrywers en ander rolspelers, dit vergesel. Dit is aan die Nasionale Vergadering voorgelê, toe aan die Nasionale Raad van Provinsies, daarná is dit, as deel van die Kopiereg Koalisie se gesamentlike voorlegging, onder pres. Cyril Ramaphosa se aandag gebring.
Die president het die wetsontwerp steeds nie geteken nie en die oponthoud is waarskynlik te wyte aan die geweldige teenstand wat dit ontlok. Indien hy dit wel sou teken, is die kanse goed dat dit in die Konstitusionele Hof aangeveg sal word.
Ons weet nog nie wat die uiteinde van die proses sal wees nie. Ons weet wel dat skrywers se stemme dwarsdeur die proses gehoor is. Die oorweldigende steun van dié protesaksie is ’n sprekende voorbeeld van wat ons kan doen as ons saamstaan. Baie dankie daarvoor en laat ons daarop voortbou.
PEN Afrikaans Vertaalfonds
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds bevorder die vertaling en publikasie van Afrikaanse boeke in die buiteland deur die befondsing van die koste om die boek te laat vertaal. Te danke aan die ruim finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys kan ons verslag doen oor ’n opwindende jaar vir die Vertaalfonds vandat ons laas vergader het, met 8 suksesvolle aansoeke vir vertalings van Afrikaanse werke wat binnekort in die buiteland gelees sal word.
Die volgende sperdatum vir aansoeke is 15 November.
Om te hou by die tema van die reële, wys ons vandag graag ’n paar van die vertalings van Afrikaanse romans wat deur die Vertaalfonds befonds is en reeds verskyn het (en via die posdiens hul weg tot by ons gebaan het.)
Artikel- en rubriekreekse
- Wat elke skrywer moet weet
Verlede jaar het ons ’n reeks artikels gepubliseer waarin kenners skryf oor regskwessies wat skrywers raak: van publikasie-ooreenkomste, tot laster, plagiaat, verhoogverwerkings en die opstel van ’n testament om vir die oordrag van outeursreg na erfgename voorsiening te maak. Die bydraes is daarop gemik om skrywers in te lig en te bemagtig. Dit is lekker om vanjaar dié artikels in boekvorm aan ons lede beskikbaar te kan stel. Neem gerus ’n eksemplaar. Baie dankie aan die bydraers en aan Marga vir die hulp deur die publikasieproses.
- Die wêreld van die skrywer
Vanjaar het ons ’n nuwe artikelreeks geloods met ’n meer skryf-gerigte fokus. Dit heet “Die wêreld van die skrywer” en die artikels wat deel van hierdie reeks vorm, is deur Afrikaanse skrywers en fokus op die praktyk van skryf. Charl-Pierre Naudé het geskryf oor skrywersnetwerke en -residensies, EKM Dido en Jolyn Phillips het besin oor betekenisvolle oomblikke op hul weg daartoe om as skrywers te debuteer, en mees onlangs het Henning Pieterse ’n stuk geskryf oor die bywoning van skrywersbyeenkomste en die belang van verbintenisse met ander skrywers. Lees dit gerus op ons webportaal en hou ’n oog oop vir die volgende artikel in dié reeks. Die artikels verskyn kwartaalliks.
- Rubriekreeks: Boeke wat skrywers laat skryf
Ons gaan ook voort met Boeke wat skrywers laat skryf, ’n reeks rubrieke wat in die kwartaallikse tydskrif Taalgenoot verskyn. Dit word deur PEN Afrikaans aangebied en geborg. Tertius Kapp, Deborah Steinmair en Zirk van den Berg het sover die rubrieke van 2019 gelewer. Die doel van dié reeks is om die Afrikaanse boekjoernalistiek te bevorder en die kollig te plaas op die grootse impak wat boeke op skrywers kan hê. Skrywers is immers ook lesers.
Skrywersresidensie
Soos Marga genoem het, is ons bly dat ons vanjaar ’n skrywersresidensie in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting kon loods. Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kon aansoek doen om vir ’n maand in die pragtige Paulethuis op Somerset-Oos tuis te gaan om aan hul skryfprojekte te werk. Daar is foto’s van die ses skrywers se verblyf op ons LitNet-webportaal. Gaan kyk gerus.
Tydens die Woordfees was ons by twee kursusse en die Skrywerskamer betrokke:
- ’n Resensiekursus in samewerking met Netwerk24 en NB-Uitgewers. Kerneels Breytenbach, Jo Prins en Anastasia de Vries het kursusgangers met praktiese wenke en voorbeelde gelei. Kursusgangers het ’n pasverskene roman, Die verevrou deur Jan van Tonder, beoordeel en almal het ook ’n eksemplaar daarvan ontvang.
- ’n Slypskool in samewerking met die Woordfees se WOW-projek, wat uitstekende werk by skole doen, sowel as die ATKV-Skryfskool. Hierdie slypskool was vir hoërskoolleerders ’n gulde geleentheid om onder leiding van Bernard Odendaal en Franci Greyling, kenners en gesoute aanbieders, die eerste stap in hul skryfloopbaan te neem.
- PEN Afrikaans het die Skrywerskamer ingerig en beman. In hierdie rustige ruimte kon skrywers deur die loop van die fees inloer, koffie drink, skryf (joernaliste het veral hiervan gebruik gemaak) en vir hul sessies op die boekeprogram voorberei. Dit was lekker om mekaar daar te sien.
Slypskole in Delft
Daar het vanjaar twee slypskole in Delft plaasgevind waartydens graad 6-leerders kon leer oor kreatiewe skryfwerk en, tydens die tweede slypskool, die redigering daarvan. Dit is ’n inisiatief van die Afrikaanse Taalraad waaraan PEN Afrikaans meegewerk het. EKM Dido en Diana Ferrus het op ons versoek die leerders gaan toespreek en lei in die praktiese skryf- en redigeeroefeninge.
Stellingnames en nuusbriewe
Naas sake waaroor PEN Afrikaans standpunt inneem, waarna Marga verwys het, gaan ons ook voort met die saamstel van ’n maandelikse nuusbrief, ’n maandelikse oorsig van Afrikaanse resensies en boekbesprekings wat digitaal beskikbaar is, sowel as ’n publikasielys van nuwe Afrikaanse boeke wat in ’n betrokke maand gaan verskyn.
Ons sosialemedia-platforms toon gesonde groei, sowel as ons ledetal.
Baie dankie aan almal wat meedoen aan ons inisiatiewe ter wille van die Afrikaanse woordkuns, aan Marga, Danie, Naomi en die res van die bestuur van PEN Afrikaans, ’n wonderlike span om mee saam te werk.
Ten slotte herhaal ek waaraan ons graag aandadig is: die bevordering van die belange van skrywers, van die Afrikaanse taal, letterkunde en vryheid van uitdrukking.
Ons probeer dit bereik deur saam te dink, saam te skryf, saam te praat, maar ook saam te doen.
Dankie aan almal wat dit moontlik maak.