PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering het op 14 September 2019 in die Wellington-biblioteek plaasgevind. Hier is die voorsittersverslag.
Bekronings
Ek wil graag, soos gebruiklik, PEN Afrikaans se gelukwensinge oordra aan alle skrywers wat sedert die begin van vanjaar bekroon is vir publikasies wat in 2018 (en in sommige gevalle vroeër) verskyn het. Hulle sluit in:
- SJ (Fanie) Naudé: Hertzogprys vir prosa vir Die derde spoel
- Lodewyk G du Plessis (skuilnaam van oudregter Andries Buys): Eugène Maraisprys, die Universiteit van Johannesburg se debuutprys, die WA Hofmeyrprys en die ATKV-prosaprys vir Die dao van Daan van der Walt
- Charl-Pierre Naudé: Universiteit van Johannesburgprys vir Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey
- Deon Meyer: ATKV-prys vir spanningslektuur vir Prooi
- Pieter Odendaal: Ingrid Jonkerprys vir poësie – wat vanaand hier by die Tuin van Digters aan hom oorhandig word – en die ATKV-prys vir poësie vir sy bundel Asof geen berge ooit hier gewoon het nie
- Petrovna Metelerkamp: ATKV-prys vir niefiksie vir Ingrid Jonker
- Chanette Paul: ATKV-prys vir ’n liefdesroman vir Uit die bloute
- Elsa Winckler: ATKV-prys vir romanses vir Blameer die skoenlapper
- Philip Rademeyer: ATKV-prys vir ’n dramateks vir Klippe wat val
- Louis Pretorius: Deleen Bekkerprys vir die beste draaiboek vir ’n televisiedrama in Afrikaans vir Die Boekklub; en die SA Akademie se Erepenning vir ’n televisiedrama in Afrikaans vir Fynskrif, episode 3.
- Jaco Jacobs en illustreerder Zinelda McDonald: Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur vir Moenie hierdie boek eet nie! Jaco Jacobs het ook ATKV-Kinderboektoekennings vir drie titels in verskillende ouderdomsgroep-kategorieë ontvang, naamlik Die dag toe Ernst ’n ertjie geëet het (voorleeskategorie vir graad RR tot graad 1), Spaghetti tussen jou tone (selfleeskategorie vir graad 2 tot 3) en Max die masjien (selfleeskategorie graad 4 tot 5).
- Celeste Slabber-Loriston: ATKV-kinderboektoekenning in die selfleeskategorie (graad 6 tot 7) vir Jinx
- Fanie Viljoen: ATKV-kinderboektoekenning in die selfleeskategorie (graad 8 tot 10) vir Veldiep
- Dihanna Taute: die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke vir Die legendariese Lua Verwey
Ander pryse wat nog voor die einde van die jaar bekendgemaak gaan word, is die kykNET Rapport-pryse en die Jan Rabie Rapportprys, wat vanaand in Stellenbosch oorhandig word, en die Sanlampryse vir jeuglektuur wat in Oktober aangekondig word.
Weeping Waters, die Engelse vertaling van Karin Brynard se spanningsroman Plaasmoord, is op die kortlys vir die CWA International Dagger Award. ’n Aantal jare gelede was Deon Meyer ook op die kortlys van hierdie toekenning. Die wenner word op 24 Oktober vanjaar in Londen aangekondig en ons hou duim vas vir Karin.
Dié wat ons verlaat het
Sedert ons algemene jaarvergadering in Potchefstroom verlede jaar het ons afskeid geneem van verskeie individue wat groot spore getrap het in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse boekewêreld.
Naas Steenkamp, een van ons stigterslede, is op 21 Desember verlede jaar oorlede. Naas was saam met John Miles, Fanie Olivier en Kerneels Breytenbach die dryfkrag agter die stigting van PEN Afrikaans in 2012 en was iemand wat ’n groot bydrae gelewer het waarhy ook al gegaan het.
Op 26 Julie vanjaar het ons afskeid geneem van die geliefde en bekroonde skrywer Harry Kalmer wat op 62-jarige ouderdom aan kanker gesterf het.
John W Fredericks, die skrywer van Noem my skollie – wat ook later verfilm is – het ook in Julie sy stryd teen kanker verloor. Hy was 73.
Die joernalis en rubriekskrywer Jan Taljaard is op 28 Julie in Kaapstad aan leukemie oorlede. Ons het ook afskeid geneem van Charlotte Sullivan, medeskrywer van verskeie opvoedkundige titels vir die grondslagfase en Phil Zaayman, ʼn voormalige sportredakteur van Rapport.
Die radio-omroeper Ampie Muller is op 5 September in die ouderdom van 88 oorlede. Hy was vroeër jare aan die SAUK verbonde en meer onlangs aan FMR. Hy het veral as kenner van musiek en literatuur ’n groot bydrae gelewer.
Lieze Kotze, hoof van Oxford University Press in Afrika, is op 18 Oktober verlede jaar oorlede aan kanker. Sy is verlede maand tydens die SA Uitgewersvereniging se jaarvergadering postuum vereer vir haar bydrae tot die uitgewersbedryf.
Die oud-uitgewer Stephen Johnson het op 31 Desember verlede jaar sy eie lewe geneem. Hy was vir meer as 40 jaar in die uitgewersbedryf en was die besturende direkteur van Random House Struik. Ook hy is in Augustus postuum vereer deur die SA Uitgewersvereniging.
Andrew Marjoribanks, stigter van Wordsworth Books en die persoon wat FMR Book Choice 19 jaar gelede begin het, is op 16 Februarie vanjaar oorlede.
PEN Afrikaans Vertaalfonds
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak. Die Fonds is drie jaar gelede gestig danksy ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Sedertdien word aansoeke vir die befondsing van vertalings twee keer per jaar – in November en Mei – oorweeg. Verskeie titels het reeds die lig gesien in vertaling. Ons is trots op ons klein uitstalling hier van boeke in vertaling wat reeds die lig gesien het danksy die PEN Afrikaans Vertaalfonds.
Vertalings wat befonds is:
In November 2017 is befondsingsaansoeke vir die volgende drie vertalings goedgekeur:
- ’n Nederlandse vertaling van Abjater wat so lag deur Wilma Stockenström (Uitgeverij Aldo Manuzio)
- ’n Nederlandse vertaling van Fees van die ongenooides deur P.G. du Plessis (Uitgeverij Aldo Manuzio)
- ’n Nederlandse vertaling van Alles begin met Anna deur Annemari Coetser (Uitgeverij Mozaïek)
In Mei 2018 is befondsingsaansoeke vir nog drie vertalings goedgekeur:
- ’n Nederlandse vertaling van Slagyster deur Rudie van Rensburg (Uitgeverij Conserve)
- ’n Nederlandse vertaling van Wonderboom deur Lien Botha (Zirimiri Press)
- ’n Nederlandse vertaling van Die hemeltuin deur Karel Schoeman (Uitgeverij Aldo Manuzio)
Dis lekker om te rapporteer dat ons vordering gemaak het sedert ons algemene jaarvergadering van verlede jaar. In November verlede jaar het die Vertaalfonds vyf aansoeke goedgekeur. Dit was ’n ronde vol eerstes vir die Vertaalfonds: die eerste jeugroman, eerste biografie, eerste poësie, en die eerste keer wat ons aansoeke vir ander tale as Nederlands ontvang het – naamlik vanuit Frankryk en Kroasië. Die goedgekeurde aansoeke was:
- ’n Franse vertaling van ’n keur uit Die singende hand en die na-dood deur Breyten Breytenbach (Éditions Bruno Doucey)
- ’n Kroasiese vertaling van Die sneeuslaper deur Marlene van Niekerk (Lector d.o.o.)
- ’n Nederlandse vertaling van Danda deur Chris Barnard (Uitgeverij Aldo Manuzio)
- ’n Nederlandse vertaling van 1795 deur Dan Sleigh (Uitgeverij Aldo Manuzio)
- ’n Nederlandse vertaling van DF Malan en die opkoms van die Afrikaner-nasionalisme deur Lindie Koorts (Uitgeverij Bornmeer Noordboek)
In Mei vanjaar het ons nog drie aansoeke goedgekeur – weer eens was twee aansoeke vir Franse vertalings, en vir poësie, naamlik:
- ’n Franse vertaling van ’n keur uit Ronelda Kamfer se werk (Éditions Caractéres)
- ’n Franse vertaling van Chokers en survivors deur Nathan Trantraal (Éditions LanSkine)
- ’n Nederlandse vertaling van Een nag en ’n bietjie deur Hester Kruger (Uitgeverij Mozaïek)
Die reglement met meer volledige riglyne en bepalings is hier beskikbaar.
Wysigingswetsontwerp op Outeursreg
Ons lede is bewus van ons kommer oor die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg, wat reeds sedert 2015 by ons vergaderings bespreek word. Die uiters omstrede Wysigingswetsontwerp is reeds deur die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar. Die parlementêre rol is dus eintlik uitgespeel en die wetsontwerp is na die president verwys vir ondertekening.
Daar is egter steeds volgehoue teenstand teen die wetsontwerp, veral deur die Koalisie vir Effektiewe Kopiereg, ’n assosiasie wat bestaan uit organisasies uit die onder meer musiek-, film- en uitgewersbedrywe. PEN Afrikaans is deel van hierdie beweging. In die afgelope jaar het die Koalisie voorleggings aan die regering gedoen, ’n advertensieveldtog geloods, openbare gesprekke gehou, optogte gehou, ’n proteslied geskryf en opgeneem, ens ens ens.
Verlede week is die wetsontwerp weer eens in die parlement bespreek. Jan-Jan Joubert berig soos volg op 3 September: “Die implikasies van die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg word vandag in ’n uiters ongewone stap wat dalk ’n welkome aanduiding van politieke nadenke by die ANC verteenwoordig, deur belanghebbendes en die parlementêreportefeuljekomitee oor kuns en kultuur bespreek.” Dat die kwessie weer eens in die parlement bespreek is, kan volgens hom “dui op ’n kentering aan ANC-kant”.
“Wat elke skrywer moet weet”: Artikelreeks en publikasie van ’n bundel
Tydens die debatte oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg het PEN Afrikaans se lede ons gevra om te verduidelik wat die Wetsontwerp behels en wat die implikasies daarvan vir skrywers is. Lede vra soms ons hulp in gevalle van outeursregskending, of raad oor hoe hulle hul intellektuele goedere in hul testamente behoort te hanteer. Skrywers vra vrae soos: Wat is outeursreg? Wat gebeur met ’n skrywer se werk ná sy of haar dood? Wat is die slaggate waarin skrywers kan beland as hulle oor lewende persone skryf? Wanneer is ’n teks lasterlik of skend dit iemand se reg op privaatheid? En wanneer pleeg ’n skrywer plagiaat? Wat moet skrywers weet voordat hulle ’n publikasie-ooreenkoms teken?
Ons as bestuur van PEN Afrikaans het besef dat daar ’n behoefte by skrywers bestaan om beter ingelig te wees oor sake wat hulle raak en het ’n aantal kundiges gevra om so bondig en toeganklik moontlik oor hierdie onderwerpe te skryf. In 2018 is hierdie artikels in ons maandelikse nuusbrief ingesluit, onder die opskrif “Wat elke skrywer moet weet”, en hulle is nou in ’n publikasie byeengebring as nuttige verwysingsbron vir ons lede.
Hierdie projek is gedryf deur ons bestuurder, Catrina Wessels, en ek bedank haar namens die bestuur en lede van PEN Afrikaans vir die saamstel van die artikelreeks en die bundel wat daaruit gespruit het en waarvan sy die redakteur was.
Stellingnames deur PEN Afrikaans
Die beskerming van die reg op vryheid van uitdrukking – die vryheid om idees uit te druk sonder vrees vir aanvalle, arrestasie of ander vervolging – lê sedert PEN International se ontstaan in 1921 aan die kern van dié organisasie se werksaamhede.
As lid van PEN International, die wêreld se grootste skrywersvereniging, skaar ons ons graag by standpunte wat op internasionale vlak geneem word oor die skending van skrywers en joernaliste se regte, en teenstand teen alle vorme van sensuur. Eweneens geniet ons die steun van PEN International oor standpunte wat ons inneem oor plaaslike skrywersake.
In hierdie konteks het ons in die afgelope jaar weer eens sterk beswaar aangeteken teen aanvalle op die media. In Maart vanjaar was daar byvoorbeeld ’n insident toe die joernalis Karima Brown deur die EFF gedreig is en hulle haar selnommer bekendgemaak het. Die gebeure is deur SANEF (SA National Editors’ Forum) veroordeel en PEN Afrikaans het ons steun aan hulle verklaar.
Op 9 April vanjaar is bekendstelling van Gangster State by Exclusive Books in Sandton deur ’n groep betogers ontwrig. Dié boek, deur die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh, bevat bewerings van korrupsie onder die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule. Verslae van ooggetuies en videomateriaal van die protesaksie wys hoe betogers eksemplare van die boek opskeur en die geleentheid tot so ’n mate ontwrig het dat die bekendstelling afgestel is nadat die polisie moes ingryp. PEN Afrikaans het die destruktiewe optrede van die groep betogers ten sterkste veroordeel in ’n verklaring wat op 10 April vrygestel is.
Bogenoemde is voorbeelde van die soort stellingnames wat ons as belangrik beskou, en ons sal in die toekoms voortgaan om ons stem te laat hoor waar ons van mening is dat daar gevalle is waar vryheid van spraak aangetas word.
Ander
PEN Afrikaans is egter ook met ander projekte gemoeid waar daar geen politiek of aktivisme betrokke is nie, en waar dit gewoon gaan oor die ondersteuning van skrywers, en die fasilitering van projekte. So het ons vanjaar weer ’n sessie aangebied hier by die Tuin van Digters. Ons het onlangs in samewerking met die Afrikaanse Taalraad slypskole in Delft gefasiliteer, aangebied deur Diana Ferrus.
Een projek waarop ons besonder trots is, is die onlangse skrywersresidensie by die Paulethuis in Somerset-Oos, waaraan ses skrywers (almal lede van PEN Afrikaans) deelgeneem het: Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Jeremy Veary, Kirby van der Merwe, Lynthia Julius en Ryan Pedro. Die residensie word in samewerking met die Jakes Gerwelstigting aangebied. Die residensieprogram fokus veral op skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie. Ons dank aan Theo Kemp en die Jakes Gerwelstigting wat hierdie projek moontlik gemaak het.
Afsluiting
Ten slotte wil ek ons dankbaarheid uitspreek aan die Trust vir Afrikaanse Onderwys, vir hulle finansiële ondersteuning wat dit vir ons moontlik maak om ’n aktiewe vereniging met internasionale aansien te wees, en wat die PEN Afrikaans Vertaalfonds moontlik maak.
Ek wil ook graag ons bestuur bedank, wat almal op verskillende maniere groot bydraes gemaak het. Ek is baie dank verskuldig aan ons ondervoorsitter, Danie Marais, ons bestuurder, Catrina Wessels, en ons tesourier, Naomi Bruwer vir hulle harde werk, tyd en ondersteuning. Ons ander bestuurslede – Bernard Odendaal, Charl-Pierre Naudé, Francis Galloway, Izak de Vries, Fiona van Kerwel, Andries Visagie – dra ook almal aktief by tot ons projekte en ek wil vir hulle almal baie dankie sê. ’n Spesiale dank ook aan Bernard Odendaal wat sy stoep gereeld beskikbaar maak vir ons vergaderings. Dit was vir my ’n voorreg om saam te werk met hierdie bestuurspan: ’n groep mense met integriteit, visie, entoesiasme en groot harte. Baie dankie. Ek is trots op wat ons as span kon vermag.
Oor die pad vorentoe: Ek hoop dat PEN Afrikaans dit toenemend sal regkry om die volle spektrum van Afrikaanse skrywers te verteenwoordig, dat ons op ’n sinvolle wyse sal kan bydra tot die belange van alle Afrikaanse skrywers, dat ons meer jonger lede kan lok, en dat ons as organisasie kan groei sodat ons ook sodoende meer kan vermag, tot voordeel van Afrikaanse skrywers.