Waarom by PEN Afrikaans aansluit of ’n betaalde lid bly? – Marga Stoffer

Ons wil graag hê dat soveel moontlik mense opbetaalde lede word, want hoe meer lede ons het, hoe meer relevant is ons, hoe meer verteenwoordigend van Afrikaanse skrywers en die boekomgewing, en hoe sterker is die stem wat ons as organisasie het.
 
As organisasie wil ons geleenthede vir ons lede skep, hulle belange beskerm (spesifiek oor sake soos vryheid van uitdrukking), en namens hulle en in hulle belang optree en agiteer waar nodig. Ons wil hê ons lede moet aanhou skryf, resenseer, doseer, uitgee, redigeer – wat ook al hulle betrokkenheid is by Afrikaanse skryfwerk.
 
Om hierdie dinge te kan doen, moet ons ’n behoorlike mandaat hê van ’n wye verskeidenheid Afrikaanse skrywers en betrokkenes by Afrikaanse skryfwerk. Ons werk hard aan voorleggings m.b.t. die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg; ons skakel met verskillende partye oor skrywersresidensies; ons bied resensiekursusse aan; ens. PEN Afrikaans moet as organisasie lede hê namens wie ons dit doen, anders is dit sinneloos en het die organisasie geen geloofwaardigheid in die gemeenskap daarbuite nie. Aangesien die bestuur uit die lede gekies word, kan ons as bestuur met groter vrymoedigheid besluite neem as ons weet dat ons die steun het van ’n stewige en groeiende getal lede namens wie ons optree.
 
Dit is hoofsaaklik die bestuur wat die “werk” doen (veral die bestuurder, wat deeltyds vir PEN Afrikaans werk; die res van ons is vrywilligers). Elke nou en dan vra ons vir spesifieke dinge die hulp van ’n lid (so het Kerneels Breytenbach verlede jaar ons resensiekursus in samewerking met Netwerk24 by die Woordfees aangebied), of vra ons dat ons lede hulle stemme laat hoor ter ondersteuning van ’n belangrike saak (bv die petisie toe ons geprotesteer het teen die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg).
 
Elke lid van PEN Afrikaans speel ’n belangrike rol om die reg op vrye uitdrukking te beskerm en bevorder, uitmuntende literêre prestasie te vereer, en gemarginaliseerde stemme die kans te gee om gehoor te word. Ons het julle stemme en ondersteuning nodig, sodat ons PEN Afrikaans se doelwitte kan bereik – ook binne die konteks en met die ondersteuning van PEN International.  
 
Lede van PEN Afrikaans word outomaties lid van PEN International, die grootste en mees invloedryke skrywersorganisasie ter wêreld. PEN International is 99 jaar gelede gestig en beywer hom vir die bevordering van letterkunde en die beskerming van vryheid van spraak wêreldwyd. Lees gerus meer hier: https://pen-international.org/who-we-are.
 
Ten slotte: Ons krag en invloed as organisasie lê in ons lede, ’n gemeenskap van skrywers, dramaturge, joernaliste, uitgewers, redakteurs, vertalers, agente en ander betrokkenes by die geskrewe woord wat almal saam ons waardes ondersteun en ons beywer vir die bevordering van letterkunde.