Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
Ek wens julle graag eerstens namens die bestuur van PEN Afrikaans ’n goeie, sinvolle en produktiewe jaar toe. Ons sien uit daarna om vanjaar saam met julle op ’n vol 2019 voort te bou.
Baie welkom aan die volgende persone wat sedert ons vorige nuusbrief as lede by ons aangesluit het: Marida Fitzpatrick, Nandi Lessing-Venter, Hanlie van Tonder, Ivor Price, Almero Welgemoed en Jean Meiring. Ons is baie bly om julle in ons geledere te hê.
Skrywerskamer en slypskool by die Toyota US Woordfees
Die Toyota US Woordfees is om die draai en dit is vir PEN Afrikaans ’n plesier om weer vanjaar die Skrywerskamer daar te kan behartig, en ook betrokke te wees by ’n spesiale slypskool op die feesprogram.
Die PEN Afrikaans Skrywerskamer is ’n ruimte waar skrywers, joernaliste en ons lede wat aan die boekeprogram deelneem, of gewoon die fees bywoon, tydens die Woordfees kan kom inloer tussen sessies vir ’n koppie koffie of tee, om te sit en voor te berei vir paneelbesprekings, te skryf, te lees, of net te ontspan. Die besonderhede is hieronder.

Vanjaar word daar ook weer ’n WOW-Skryfskool in samewerking met PEN Afrikaans en die ATKV-Skryfskool van die NWU aangebied. Tydens dié slypskool sal gekose hoërskoolleerders en studente touwys gemaak word oor die fynere kuns van skryf. Dié slypskool is vir aspirantskrywers ’n gulde geleentheid om onder leiding van Bernard Odendaal en Franci Greyling, kenners en gesoute aanbieders, die eerste stap in hul skryfloopbaan te neem.
Afrikaanse skrywers uitgenooi vir maand se skrywersverblyf

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans nooi vanjaar weer alle opbetaalde lede van PEN Afrikaans uit om aansoek te doen vir die verblyfsprogram wat in die Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos in die Oos-Kaap aangebied word. Die doel met hierdie projek is om aan skrywers – beide opkomend en gevestig – die geleentheid te bied om vir ’n maand lank van hulle daaglikse verpligtinge te ontsnap om voltyds aan hul manuskripte te kan werk. Die fokus van die residensieprogram is veral gemik op skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse literatuur bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.
Die historiese Paulet Huis met sy sjarmante ouwêreldsheid, ruim kamers en lowergroen tuin, bied die ideale geleentheid vir skrywers om in ’n inspirerende omgewing aan hul manuskripte te werk.
Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf vanaf 1 tot 27 Julie 2020, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe.
Alle genres sal oorweeg word.
Belangstellende skrywers moet hulle aansoeke teen 16 Maart rig aan Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stiging, by theo@jgf.org.za. Aansoeke moet bestaan uit:
- ’n Brief ter motivering van waarom die aansoeker van die residensie gebruik wil maak
- ’n Opsomming van die aansoeker se loopbaan as skrywer. Gepubliseerde skrywers moet ’n lys van publikasies insluit, terwyl ongepubliseerde skrywers bestaande skeppende skryfwerk (30 bladsye prosa of 10 bladsye poësie) by die aansoek moet insluit.
- ’n Projekuiteensetting wat aandui waaraan die skrywer tydens die residensie sal werk.
Verteenwoordigers van die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans sal die aansoeke oorweeg, waarna onderhoude in Kaapstad sal plaasvind op 8 April. Die suksesvolle aansoekers sal op Internasionale Boekedag op 23 April aangekondig word.
Doen hier aansoek om ’n lid van PEN Afrikaans te word. https://www.litnet.co.za/pen-afrikaans-aansoekvorm/
Die Jakes Gerwel Stigting is in die lewe geroep met die doel om die nalatenskap van wyle prof Jakes Gerwel – wat uitgeblink het as opvoeder, bevryder, beskermheer van die kunste en sakeman – deur relevante projekte uit te bou. Die Stigting fokus op die bevordering en bemagtiging van skrywers en wil bydra tot die verryking en verruiming van ons letterkunde. Die Stigting is trots op die vennootskap met PEN Afrikaans, aangesien prof Gerwel passievol was oor Afrikaans en sy diverse moedertaalsprekers.
Meer inligting oor die Jakes Gerwel Stigting is beskikbaar by www.jgf.org.za
Spesiale aanbod: Lizette Rabe se skryfgids

Te danke aan LAPA-Uitgewers kan opbetaalde lede van PEN Afrikaans teen ’n reuse-afslag kopieë aanskaf van Om tot verhaal te kom, ’n praktiese skryfgids deur Lizette Rabe, professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch.
LAPA bied die gids teen R30.00 per kopie (vervoerkoste uitgesluit) aan lede van PEN Afrikaans, vir eie gebruik of vir weggee of vir aankoop vir herverkoop. Die boek kos gewoonlik R260.00 per eksemplaar.
Belangstellendes kan ’n e-pos stuur aan penafrikaans@gmail.com vir verdere stappe.
Antjie Krog aangestel as eerste Writer in Residence by die Universiteit Gent
Die Universiteit Gent (UGent) het pas aangekondig dat Antjie Krog die eerste besoekende skrywer sal wees wat aan hul nuwe residensieprogram deelneem. Krog, bekroonde Afrikaanse skrywer, vertaler en letterkundige, sal in Oktober en November 2020 in Gent tuisgaan, waar sy gaslesings vir studente en akademici sal aanbied en ook voordragte aan die breër publiek.
UGent beskou hul gasouteurs as ’n bron van inspirasie en ’n baken vir kritiese nadenke. Hulle beoog om outeurs met ’n internasionale uitstraling te nooi, wie se werk byvoorbeeld in verskeie tale vertaal is.
Krog geniet groot aanhang in die Lae Lande, waar haar werk gereeld in vertaling verskyn. Haar werk word as so ’n belangrike deel van die Nederlandse letterkunde geag, dat sy in 2018 ’n Gouden Ganzenveer-toekenning ontvang het vir haar bydrae tot die Nederlandse taal. Sy is die eerste buitelandse skrywer wat dié eer te beurt val.
Hartlik geluk aan die Universiteit Gent met dié inisiatief en aan Antjie Krog wat hul eerste Writer in Residence sal wees.
Waarom by PEN Afrikaans aansluit of ’n betaalde lid bly?
Fakture vir ledegeld sal hierdie maand uitgestuur word. Die bedrag, wat van belasting aftrekbaar is, bly R300.00. Ons doen graag ’n beroep op jou om weer vanjaar by ons aan te sluit en, as jy nog nie ’n lid is nie, om een te word. Jy sou jouself kon afvra: Waarom moet jy lid van PEN Afrikaans word en wat word van lede verwag? Ons voorsitter, Marga Stoffer, antwoord só:

Ons wil graag hê dat soveel moontlik mense opbetaalde lede word, want hoe meer lede ons het, hoe meer relevant is ons, hoe meer verteenwoordigend van Afrikaanse skrywers en die boekomgewing, en hoe sterker is die stem wat ons as organisasie het.
As organisasie wil ons geleenthede vir ons lede skep, hulle belange beskerm (spesifiek oor sake soos vryheid van uitdrukking), en namens hulle en in hulle belang optree en agiteer waar nodig. Ons wil hê ons lede moet aanhou skryf, resenseer, doseer, uitgee, redigeer – wat ook al hulle betrokkenheid is by Afrikaanse skryfwerk.
Om hierdie dinge te kan doen, moet ons ’n behoorlike mandaat hê van ’n wye verskeidenheid Afrikaanse skrywers en betrokkenes by Afrikaanse skryfwerk. Ons werk hard aan voorleggings m.b.t. die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg; ons skakel met verskillende partye oor skrywersresidensies; ons bied resensiekursusse aan; ens. PEN Afrikaans moet as organisasie lede hê namens wie ons dit doen, anders is dit sinneloos en het die organisasie geen geloofwaardigheid in die gemeenskap daarbuite nie. Aangesien die bestuur uit die lede gekies word, kan ons as bestuur met groter vrymoedigheid besluite neem as ons weet dat ons die steun het van ’n stewige en groeiende getal lede namens wie ons optree.
Dit is hoofsaaklik die bestuur wat die “werk” doen (veral die bestuurder, wat deeltyds vir PEN Afrikaans werk; die res van ons is vrywilligers). Elke nou en dan vra ons vir spesifieke dinge die hulp van ’n lid (so het Kerneels Breytenbach verlede jaar ons resensiekursus in samewerking met Netwerk24 by die Woordfees aangebied), of vra ons dat ons lede hulle stemme laat hoor ter ondersteuning van ’n belangrike saak (bv die petisie toe ons geprotesteer het teen die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg).
Elke lid van PEN Afrikaans speel ’n belangrike rol om die reg op vrye uitdrukking te beskerm en bevorder, uitmuntende literêre prestasie te vereer, en gemarginaliseerde stemme die kans te gee om gehoor te word. Ons het julle stemme en ondersteuning nodig, sodat ons PEN Afrikaans se doelwitte kan bereik – ook binne die konteks en met die ondersteuning van PEN International.
Lede van PEN Afrikaans word outomaties lid van PEN International, die grootste en mees invloedryke skrywersorganisasie ter wêreld. PEN International is 99 jaar gelede gestig en beywer hom vir die bevordering van letterkunde en die beskerming van vryheid van spraak wêreldwyd. Lees gerus meer hier: https://pen-international.org/who-we-are.
Ten slotte: Ons krag en invloed as organisasie lê in ons lede, ’n gemeenskap van skrywers, dramaturge, joernaliste, uitgewers, redakteurs, vertalers, agente en ander betrokkenes by die geskrewe woord wat almal saam ons waardes ondersteun en ons beywer vir die bevordering van letterkunde.
Pasella! Lekker leesstof uit Taalgenoot se Lente 2019-uitgawe

Baie dankie aan die Taalgenoot-redaksie wat dit vir PEN Afrikaans moontlik maak om die taal- en boekverwante inhoud uit dié kwartaallikse tydskrif se Lente 2019-uitgawe te deel. Klik gerus hier om die artikels gratis in PDF-formaat af te laai. Die tema van dié uitgawe is “geheime”…
Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Januarie 2020 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Nuwe Afrikaanse boeke in Januarie en Februarie 2020
Die stewige lys van nuwe Afrikaanse boeke wat in Januarie en Februarie verskyn het, voorspel goeie dinge vir ’n jaar vol boeke. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het.
Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
Laastens herinner ek julle graag aan die jongste artikel in “Die wêreld van die skrywer”, ons reeks artikels wat kwartaalliks verskyn en waarin skrywers uitwei oor sake wat hulle raak. Hier besin bekroonde skrywer Eben Venter oor die keuse om in Afrikaans te skryf (of om ‘n taal soos Engels as alternatief te kies). Moet dit nie misloop nie.
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans