Trippel-7 is inderdaad meer as gelukkige nommer

“Sewe dae, sewe dorpe, sewe skrywers, 1 400 km, 174 deelnemers – dis die getalle, maar die syfers vertel net ‘n baie klein deeltjie van die storie. Die kameraderie, die absolute toegewydheid van die Magnificent 7, die entoesiasme waarmee ons oral ontvang is, die talent wat ons sien gedy het, die wete dat ons in daai mense se lewens ‘n verskil kon maak … dit alles sal my nog lank bybly.”

Dis die woorde van Bettina Wyngaard, die bekroonde skrywer en PEN Afrikaans se ondervoorsitter, wat pas saam met ses ander woordenaars geïnspireerd teruggekeer het van die geskiedkundige Trippel-7-toer deur die Noord-Kaap. Saam met Frazer Barry (liedjieskrywer van Tribal Echo), Eldridge Jason (skrywer van Gerook), Daniel Swartz (rymkletser van Rimestein), die skrywer, joernalis en dosent Anastasia de Vries, die internasionaal bekende digter Diana Ferrus en die baie gewilde jeugboekskrywer Anzil Kulsen, het Bettina op soek gegaan na onontdekte vertelkunstenaars en stories in enige vorm of taalvariant – enersyds ter viering van Afrikaanse taalverskeidenheid en andersyds ter bemagtiging van diegene wat nog nooit of bitter selde tevore ’n kans gegun is om hul verhale of talent te slyp nie. Dié sewe van Trippel-7 het gratis werkswinkels aangebied in Griekwastad, Groblershoop, Upington, Kakamas, Pofadder, Okiep en Kharkams aan 174 vertel- en leergierige aspirant-skrywers.

Hierdie syfers getuig van ’n merkwaardige opkoms en ’n brandende belangstelling, maar dit is, soos Bettina sê, net ’n deeltjie van die storie. Die foto’s hieronder spreek verdere boekdele en PEN Afrikaans sien uit na die Trippel-7-bloemlesing wat in die vooruitsig gestel word. Dié boek sal ’n ander deel van al die stories agter hierdie hartverwarmende foto’s vertel. Die bundel word uitgegee in samewerking met die ATKV en behoort teen die einde van dié jaar of vroeg in 2017 te verskyn.

Verdere mentorskappe in samewerking met die Breytenbach Sentrum op Wellington word ook in die vooruitsig gestel.

Maar eers klink ons op ’n voorspoedige, epiese storiereis: Op Trippel-7 en al die vertellers wat hul verhale kom deel het!

Eldridge Jason oor Trippel-7: 

Untitled-1

PEN Afrikaans se Trippel-7-toer na die Noord-Kaap was een van die oomblikke wat my altyd by sal bly. Nie net kon ek skouers skuur met die room van Afrikaanse talent wat saam my op toer was nie, maar die mense en hul stories was hartroerend. Dit was ‘n lekker hoendervleis gevoel om te sien watter impak ons op die mense gemaak het, hoe hulle ons in hul binnekring aanvaar het en hul harte oopgemaak het om hul stories met ons te deel. Ek is daarvan oortuig dat die wonderlikste van stories en verhale hieruit gaan spruit en dat die Noord-Kapenaars die lesse wat ons met hulle kon deel, hul eie sal maak en die stories wat saak maak finally die lig sal laat sien. Hierdie inisiatief van PEN Afrikaans verdien ‘n klompie goue sterre!

Anastasia de Vries oor Trippel-7:

anastasia

Ons was op soek  na stories en talent en toe gebeur met ons van die mooiste mense vir wie ons soveel van ons eie menswees wou gee, soveel van ons eiewaan wou afsterf sodat ons hul stories en wese met ewe veel medemenslikheid kon ontvang. Op dié dag op Kakamas kon ek saam met dié groot geeste besin oor die vreugde en pyn van soveel mense, soveel stories, wat danksy die Trippel-7-toer, nou ook in ons leef.

Anzil Kulzen oor Trippel-7:

Trippel7-in-pienk

Groblershoop het ons verseker baie verras met die Trippel 7- hempies en die gulle ontvangs. Die diversiteit in deelnemers, party skoolleerders en ander bejaardes wat nie eens skryfvaardig is nie, het gesorg vir groot vermaak. Ons kon so baie by die grootmense leer.

Trippel7-028

Hier is ouma Maria Neels (80) en tannie Clara Oor (65). Hierdie twee mag dalk bejaarde dames wees, maar is nog laaaank nie oor die muur nie, en kon hulle vir jou stuk sny, lip kap en stories vertel!! Die jong leerders het belowe dat hulle die bejaarde deelnemers se stories sou opteken en vir ons instuur.

Trippel7-017

Ons twee rymkletsers (Frazer en Daniel)  het tydens die toer hulle REG-handelsmerk gevestig het. RITME EN GEDIGTE in aksie saam met Moses, ‘n talentvolle deelnemer van Griekwastad. My hart swel steeds van trots, as ek so na die foto’s kyk, kan ek hulle byna weer hoor!!!

Daniel Denver Swartz oor Trippel-7:

DSC_0759

Dit was vir my ‘n groot eer en onvergeetlike ervaring om saam te werk as lid van die Trippel-7-vonk, wie soveel inspirerende en stimulerende talent in jonk en oud kon vind.

Frazer Barry oor Trippel-7:

DSC_1020

Wat vir my nogal baie opvallend was, is dat die Noord-Kaapse mense lief is vir hul eie stories opteken. Dat daar ‘n bestaande kultuur is van stories dokumenteer en dat die mense die waarde van stories hoog op prys stel. Die moeilikste gedeelte vir my was die wete dat ons nie genoeg tyd kon spandeer met die mense om daardie volle potensiaal en magdom stories, gedigte ens te kon ontwikkel nie. My ervaring van die Trippel-7-span: Elkeen het geskitter in hul vakgebied en dit was vir my ook een leersame en verrykende ervaring wat ek vir niks sal ruil nie. Die foto is by die Oukiep-skryfsessie geneem.

Diana Ferrus oor Trippel-7:

Untitled-2

Die honger na skryf, na vertel, die begeerte om altyd te wil onthou, dit is wat my bybly wanneer ek dink aan die Trippel-7-projek. Sewe dorpe in sewe dae en sewe skrywers wat mekaar diep leer ken en saamvleg as ‘n span. Skryf is nie ‘n eenmens-projek nie, skryf is lewe …

trippel7hemp
ddswartz
frazer
springbok

Hierdie artikel het eerste in PEN Afrikaans se portaal op LitNet verskyn.
Besoek www.litnet.co.za.