Die bestuur van PEN Afrikaans verwelkom president Cyril Ramaphosa se besluit om nie die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg in sy huidige vorm te onderteken nie, maar dit na die Konstitusionele Hof te verwys om die grondwetlikheid daarvan te bepaal.
Die president se besluit is op 15 Oktober via ’n persverklaring bekend gemaak. Die aankondiging is hier beskikbaar: https://www.thepresidency.gov.za/president-ramaphosa-refers-copyright-amendment-bill-and-performers-protection-amendment-bill
Dit kom nadat dié opspraakwekkende wetsontwerp, wat met ’n uitgebreide lys kopiereguitsonderings tot die grootskaalse verswakking van outeursregbeskerming sal lei indien dit bekragtig word, opnuut vroeër vanjaar met die meerderheidstem van die regerende party deur die Nasionale Vergadering aanvaar is, ondanks besware van opposisiepartye en grootskaalse teenkanting uit die skeppende bedrywe.
Die wetsontwerp is daarná na die president se lessenaar, en ons verwelkom sy besluit om dit na die Konstitusionele Hof te verwys. In 2020 was president Ramaphosa ook besorgd oor aspekte van die wetsontwerp en het hy dit na die parlement terugverwys vir heroorweging en hersiening. Sedertdien is slegs geringe veranderinge aan die wetsontwerp gemaak.
Vir PEN Afrikaans en ons lede, wat by uitstek mense is wat op ’n doeltreffende outeursregstelsel staatmaak, is die president se besluit ’n welkome en blye wending, hoewel ons ook die dringendheid van ’n kopiereguitsondering vir blinde en gesiggestremde lesers wil beklemtoon.
Ons sal die saak verder volg, ons lede oor verwikkelinge ingelig hou, en sover as moontlik bydra tot toekomstige stappe om seker te maak dat skrywers se stem gehoor word.