
Sluit asseblief by PEN Afrikaans aan vir ’n beraad op 16 November by SASNEV in Pinelands, Kaapstad. Belangstellendes kan gerus vanaf 09:30 arriveer vir ’n koppie tee of koffie vooraf. Die verrigtinge begin om 10:00 en ons sien uit daarna om saam te dink en te praat oor ’n aantal kwessies wat plaaslike skrywers, joernaliste en uitgewers raak.
Dit sal vir ons ’n eer wees om die joernalis Karyn Maughan eerste aan die woord te stel om PEN Afrikaans se jaarlikse lesing oor die stand van persvryheid in Suid-Afrika te lewer. Maughan se boek, I Will Not Be Silenced, het pas verskyn en word as volg beskryf:
Toe Karyn Maughan as ’n beginnerjoernalis in 2006 by hofverslaggewing betrek is, moes sy Jacob Zuma se verkragtingsverhoor dek. Vir die volgende twee dekades het sy oor Zuma se regsake verslag gedoen en het as gevolg hiervan sélf een van sy teikens geword het toe hy haar privaat begin vervolg het. Hierdie boek bied ’n indringende blik op hoe magtige mans aanvalle gebruik op individue, wat hulle aanspreeklik probeer hou, asook op die media en die howe, om demokrasie te ondermyn.

Die lesing sal in Engels gelewer word, maar sal na afloop van die simposium ook in Afrikaanse vertaling gepubliseer word.
Volgende op die dag se program is ’n paneelbespreking met van die bydraers tot die Right to Write-projek, ’n inisiatief waaraan PEN Afrikaans vanjaar, saam met vier ander PEN-sentrums, op uitnodiging van PEN International deelneem met die oog daarop om openbare dialoog te bevorder oor kwessies wat skrywers raak. Wat is van daardie kwessies? Hoe lyk die landskap en klimaat vir kreatiewe skryfwerk en uitdrukkingsvryheid vir Afrikaanse skrywers vandag? Bibi Slippers sal in gesprek tree met Lynthia Julius en Jolyn Phillips oor artikels wat hulle as deel van ’n reeks gelewer het en waarna lesers van Rapport nog kan uitsien.
Die eerste twee artikels het reeds verskyn. Lees gerus Antjie Krog se bydrae hier en Chase Rhys se bydrae hier. Eben Venter se stuk sal volgende verskyn.
Na die paneelbespreking sal PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering plaasvind. Kom klink ’n glasie en vind meer uit oor PEN Afrikaans se bedrywighede oor die afgelope jaar. Daar sal ook ligte verversings wees.
Die gesprekke, met uitsluiting van die algemene jaarvergadering, sal opgeneem en op YouTube uitgesaai word.
Bywoning is gratis. Bevestig asseblief bywoning en rig ander navrae, ook om die aanlyn skakel te bekom, aan: penafrikaans@gmail.com