Nuusbrief: Oktober 2024



Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Right to Write-projek: publikasie van artikels en simposium
 
Hoe lyk die landskap en klimaat vir kreatiewe skryfwerk en uitdrukkingsvryheid in vyf verskillende Afrikalande vandag? Wat is van die kwessies wat skrywers raak?
 
Op uitnodiging van PEN International neem PEN Afrikaans vanjaar deel aan die Right to Write-projek. Die doel van dié UNESCO-befondsde projek is om in vyf Afrikalande (Malawi, Suid-Afrika, Uganda, Zambië en Zimbabwe) openbare dialoog te bevorder oor kwessies wat skrywers raak.
 
PEN Afrikaans kon vyf Afrikaanse skrywers vra om oor bepaalde onderwerpe artikels te lewer. Die eerste van die reeks van vyf artikels is onlangs gepubliseer en skop dié reeks op ’n hoë noot af. Antjie Krog skryf daarin oor die rol wat poësie in ’n land soos Suid-Afrika speel.

 
Die artikel is gratis aanlyn beskikbaar en oop vir enigeen om te lees: https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/antjie-krog-poesie-hou-ons-uit-die-hande-van-barbare-20241006-2
 
Dankie aan Rapport en Netwerk24 vir die goeie samewerking. Hierdie artikels sal ook in Engels op Daily Maverick verskyn.
 
Omkring solank die datum: Op 16 November hou ons beraad om oor van hierdie kwessies te praat. By dieselfde geleentheid beoog ons om ons jaarlike lesing oor die stand van uitdrukkings- en persvryheid in Suid-Afrika aan te bied, sowel as ons algemene jaarvergadering.
 
Die gesprekke, met uitsluiting van die algemene jaarvergadering, sal op YouTube uitgesaai word.
 
’n Oop uitnodiging na PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering 2024
 
Ons stel hierdie jaar weer die deure na ons algemene jaarvergadering oop – nie net aan lede nie, maar ook metgeselle en ander belangstellendes. Slegs opbetaalde lede sal egter stemgeregtig wees.
 
Sluit gerus op Saterdag 16 November by SASNEV by ons aan.
 
Kom vind meer uit oor PEN Afrikaans se bedrywighede oor die afgelope jaar. Daar sal ook ligte verversings na afloop van die vergadering beskikbaar wees.
 
Lede word versoek om hul teenwoordigheid by penafrikaans@gmail.com te bevestig. Verskonings en volmagvorms kan na dieselfde adres gestuur word, sowel as voorgestelde agendapunte wat ons asseblief teen 1 November moet bereik. Die volmagvorm is hier beskikbaar.
 
Die agenda vir die algemene jaarvergadering sal metteryd in ’n afsonderlike e-pos volg.
 
In memoriam: Martie Retief Meiring

 
Die bestuur van PEN Afrikaans is baie jammer oor die hartseer nuus van Martie Retief Meiring se afsterwe. Sy sal onthou word as ’n gevierde joernalis, rubriekskrywer, ’n vaandeldraer vir vroue in die joernalistiek, ’n energieke kuns- en kultuuraktivis, en ’n uiters geliefde mens.
 
Lees hier hoe prof. Lizette Rabe hulde bring aan Meiring, die “grande dame van die Afrikaanse joernalistiek”:
https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/profiele/grande-dame-van-die-afrikaanse-joernalistiek-20241006-2.
 
Ons deel ook, met sy vergunning, Danie Marais se aangrypende huldiging:

“Die idee dat ek Martie Retief Meiring nooit weer in die dorp of iewers by ’n boekding of paartie gaan raakloop nie, is ’n aaklige gedagte.
 
Sy het my altyd aan hierdie gedig van Breyten herinner:
 
om te lewe is om te brand
(Andrej Voznesenski)
heeltemal helder en heeltemal stil: om te lewe is om verteer
te word soos hierdie somersdag van heerlikheid; om weer
en altoos die aardbol se verbyrol te loof, die soel lower
van ruigtes, waterslope, tonge klip, geveerdes se hartnote omtower
tot kettinkies wat die stiltes skakel; hoe heeltemal ryk
is die berg en helder en kaal – net een pluim pryk
reeds wit waar die wind saans fyn serfynklanke en wimpels
sal bol; en dis volbring. kringend het die seisoenesiklus ou rimpels
soos wurms uitgestoot uit die skoot – maar kyk, ons is elk
self die koetsier van vergaan, goejop-regop met hande verwelk
om die doodskar se leisels. want so bid-bid is ons reis
gewik, koel, ‘n skelet gekelk in die dagkabaai van vleis …
brand, brand saam met my, lief – te hel met verderf!
om te lewe is om te lewe, is om lewe-lewe te sterwe
 
***
 
Martie het gebrand van lewe, en hierdie lewensbrand het haar gevolg waar ook al sy gegaan het. Rondom haar was alles dringend, betekenisvol en moontlik. Sy was ’n uitbundige eenvrou-kommissie van ondersoek – ewig nuuskierig. Altyd kans gesien vir meer.
 
Sy het waaragtig gelewe om te lewe en het lewe-lewe gesterwe.
 
En daarom gaan sy so ’n groot Martie-vormige leemte in soveel lewens laat.
 
Kabous Meiring, my hart gaan uit na jou. Martie is nie iemand wat ’n mens sommer net groet of begrawe nie, maar dis ook nie nodig nie. Te hel met verderf! Haar lewensvuur brand in jou, en haar lewe gaan nog lank gevier word om baie tafels met baie vonkelwyn.
 
Saluut!”
 
 
Wenners: ATKV-Woordveertjies 2024
 
Die wenners van die ATKV-Woordveertjies is onlangs aangekondig. Met dié gesogte toekennings wil die ATKV uitnemendheid en kreatiwiteit rondom die Afrikaans woordkuns vereer.
 
“Ons vereer bydraes oor ’n breë spektrum – van woordeboeke tot prosawerke – en hoop dat hierdie toekennings ’n liefde en passie vir lees by mense sal kweek. Dit moet vir skrywers bemoedigend wees om werk te kan skep en mense aan die lees te kry,” sê Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW.
 
Ons sê hartlik geluk aan al die wenners.
 
ATKV-Prosaprys: Van vaders en vlugtelinge – S.J. Naudé (Human & Rousseau)
Prys vir Liefdesroman: Hulle noem haar Carminda – E. Kotze (Kwela Boeke)
Prys vir Poësie: Nou in infrarooi – Tom Dreyer (Kwela Boeke)
Prys vir Romanses: Belle, met die hart vol blomme – René van Zyl (Romanza)
Prys vir Spanningslektuur: Leo – Deon Meyer (Human & Rousseau)
Prys vir Niefiksie: Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so? – Anelia Heese (Tafelberg)
Prys vir Dramateks: Goed wat wag om te gebeur – Philip Rademeyer

Wenners: kykNET-Rapport-boekpryse en -resensiepryse 2024
 
Die skrywer SJ Naudé is vir sy roman Van vaders en vlugtelinge ook met die kykNET-Rapportprys vir fiksie bekroon – die tweede keer dat hy hierdie toekenning ontvang.
 
Naudé het die prys ook in 2018 gewen vir sy roman Die derde spoel. Slegs een ander skrywer, Willem Anker, kon nog dié tweekuns vermag sedert die kykNET-Rapport-boekpryse in 2014 ingestel is.

Die kykNET-Rapportpryse, wat altesaam R1 miljoen bedra, is op Saterdagaand 21 September 2024 in Kaapstad oorhandig. Met dié pryse word jaarliks erkenning gegee aan uitnemende Afrikaanse boeke en resensies wat die vorige kalenderjaar verskyn het. Benewens die kykNET-Rapportprys vir fiksie (romans) is die volgende pryse toegeken: die kykNET-Rapportprys vir niefiksie, die kykNET-Rapport Herman Binge-prys vir ’n fiksie- of niefiksiewerk met filmpotensiaal, die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede werke, en twee pryse vir resensies van Afrikaanse fiksie en niefiksie onderskeidelik.
 
Die niefiksieboekprys is gewen deur Dana Snyman vir Die binneland in, wat by Tafelberg verskyn het; die filmprys deur Elmarie Viljoen-Massyn vir haar debuutroman Vuurvoël, wat deur Human & Rousseau gepubliseer is; en die Jan Rabie-Rapportprys deur Pieter Marais vir Konkel, uitgegee deur Protea Boekhuis.
 
Vanjaar se wenners van die kykNET-Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar is:
– Fiksie: Nathan Trantraal vir “Ons is gevangenes van dit wat ons liefhet: Magmoed Darwiesj gedigte in Afrikaans” oor Die vlug van ’n vreemdeling, soos vertaal deur Bester Meyer, in Herri, Julie 2023.
– Niefiksie: Lindie Koorts vir “Wanneer die geskiedenis swaarder weeg as die vrou” oor Onder ‘n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk in Rapport, 30 Julie 2023.

Nathan Trantraal se resensie is die eerste een in Kaapse Afrikaans wat met ’n kykNET-Rapportprys bekroon word.
 
Hartlik geluk aan die wenners van 2024 se kykNET-Rapportpryse!
 
Aanlyn aanbieding oor kunsmatige intelligensie, skrywers en letterkunde

 

PEN Afrikaans sien uit daarna om eersdaags ’n aanlyn gesprek aan te bied oor kunsmatige intelligensie en hoe dit letterkunde en skrywers raak. Dr. Sabine Kirchmeier, ’n Deense taalkundige, sal op Woensdag 30 Oktober om 18:00 ons lede en ander belangstellendes via Zoom oor die onderwerp toespreek. Daar sal ook tyd wees vir vrae.
 
Sabine Kirchmeier is lid van Deense PEN en het al verskeie aanbiedings oor die impak van KI op die letterkunde gedoen. Sy is ’n rekenaartaalkundige, president van die Europese Federasie van Nasionale Taalorganisasies, en is betrokke by allerlei projekte wat daarop gerig is om die situasie rondom tegnologie, KI en Europese tale te karteer.
 
Ons is dankbaar vir dr Kirchmeier se bereidwilligheid om haar spesialiskennis met ons, ons lede en ander belangstellendes te kom deel. Dankie aan Conrad Steenkamp vir die bekendstelling.
 
Skakel gerus in en gesels saam oor hierdie uiters relevante tema. Laat weet ons by penafrikaans@gmail.com as jy die skakel wil ontvang.
 
Maandelikse resensie-oorsig
 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in September 2024 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.  
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Oktober 2024
 
Baie geluk aan ons lede wat in Oktober nuwe boeke op die rakke het. Dit sluit in: Joan Hambidge, Carina Stander, Philip de Vos, Malene Breytenbach, Elize Parker, Erla-Mari Diedericks, Rudie van Rensburg en Chris Karsten. Ons is saam bly oor die nuwe pennevrugte.
 
Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans