PEN Afrikaans veroordeel die aanval op Salman Rushdie ten sterkste

PEN Afrikaans neem ten sterkste standpunt in teen die gewelddadige aanval op die bekroonde skrywer en voormalige president van PEN Amerika, Salman Rushdie. Rushdie is op 12 Augustus 2022 bestorm en herhaaldelik met ’n mes gesteek, waar hy op die verhoog van die Chautauqua Instituut in die New York-deelstaat sy plek ingeneem het vir ’n beoogde openbare lesing.

Rushdie het ernstige beserings opgedoen. Die ondersoek na die aanval duur voort.

Ongeag die motivering vir die aanval, veroordeel PEN Afrikaans die skokkende en verwerplike inbreukmaking op Rushdie, wat soos alle skrywers, digters, joernaliste, essayiste en bloggers, die vryheid behoort te hê om in die openbaar te kan optree, te kan skryf en te kan bydra tot die publieke diskoers, sonder vrees vir vergelding of gewelddadige pogings om hul stemme stil te maak. 

Ons doen ’n beroep op ons lede, en op almal wat uitdrukkingsvryheid, vryheid van denke en vryheid om te skryf hoog ag, om saam met ons ten sterkste hierteen protes aan te teken.

Ons maak graag ’n ontwerp beskikbaar wat belangstellendes kan aflaai, uitdruk (in landskap-formaat vir beste resultate) en ’n foto mee neem om op sosiale media te versprei. Klik hier om dit af te laai.

“Tag” gerus vir PEN Afrikaans in plasings en gebruik asseblief die hutsmerke #staanbySalmanRushdie en #StandWithSalman. Laasgenoemde is reeds deur PEN Amerika aangewys as ’n hutsmerk vir gesamentlike protes.

Ons moedig ook ons lede aan om deel te neem aan beoogde voorleesinisiatiewe om solidariteit met Rushdie te toon. Die Berlynse Internasionale Literatuurfees beplan ’n wêreldwye voorleesdag vir 29 September. Klik hier vir meer inligting.