Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Radiovoorlesings van top-3 wenverhale: Toegang Sedert ons vorige nuusbrief is nog een van ons Toegang-kortverhaalkompetisie se wenverhale op RSG se Kortom uitgesaai. Baie dankie aan Dean Balie en RSG vir die treffende voorlesings. Anton Döckel het die derde prys ontvang vir sy kortverhaal “Wind”. Luister hier na die voorlesing wat onlangs uitgesaai is: https://omny.fm/shows/kortom/kortom-2-augustus-2022 Skakel eerskomende Dinsdag om 21:40 in om na die tweedepryswenner te luister: “Nonnetjie van Aardt se laaste dag op aarde” deur Maretha Maartens. PEN Afrikaans kondig aanlyn kursus aan Dit is ’n plesier om aan te kondig dat PEN Afrikaans vanjaar ’n aanlyn kursus aanbied wat op die verpakking en verfyning van skryfwerk sal fokus. Kursusgangers sal dus nie hul eie skryfwerk indien vir oorweging met die oog op kursusdeelname nie, maar kan inskakel om by ’n verskeidenheid aanbieders te leer en met hul te praat oor temas soos: verskillende teikengehore, teksversorging, sosiale media en geleenthede vir skrywers. Mercy Kannemeyer sal die kursusfasiliteerder wees en ons sien uit daarna om verskeie aanbieders en deelnemers te verwelkom. Daar is slegs 30 plekke beskikbaar. Meer inligting is in die plakkaat onder, wat ook hier afgelaai kan word vir maklike verspreiding. Aansoeke ingewag: Dialoogprogram vir skrywers van die Lae Lande en Suid-Afrika Na ’n onderbreking van twee jaar weens die COVID-19-pandemie is die Jake Gerwel Stigting en Brussels-gebaseerde International House of Literature Passa Porta se Dialoogprogram vir Skrywers van die Lae Lande en Suid-Afrika weer onderweg. Twee Vlaamse skrywers word elke jaar gekies om die residensie met twee Suid-Afrikaanse skrywers te deel. Op hierdie manier moedig die vennote kruisbestuiwing tussen die skryfwerk van skrywers van verskillende agtergronde aan en streef daarna om die versameling literatuur van hier en oorsee te verryk. Suksesvolle plaaslike aansoekers sal vanjaar se residensie saam met Belgiese skrywers Yousra Benfquih en Fleur Pierets meemaak. Die Dialoogprogram vir Skrywers van die Lae Lande en Suid-Afrika vind plaas by Paulet Huis in Somerset-Oos van 7 tot 21 November 2022. As jy wil deel wees van hierdie opwindende samewerking, waarvan alle kostes gedek word, stuur asseblief jou voorlegging aan die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, Theo Kemp, by theo@jgf.org.za teen 5 September 2022. Die residensie-vereistes en meer inligting is hier beskikbaar. Skrywers en boeke: Oor die onregmatige verspreiding van e-boeke Teen die agtergrond van die aangekondigde sluiting van UpperCase-boekwinkel, het Ilse Salzwedel ’n segment van 13 Julie se Skrywers en boeke-program op RSG aan die onregmatige verspreiding van e-boeke gewy. Dit is iets wat onverpoosd voortgaan en groot skade aan die boekbedryf berokken. Sy steek oor dié onderwerp kers op by verskeie gewilde Afrikaanse skrywers, soos Irma Joubert, Rudie van Rensburg, Chris Karsten, Helene de Kock, Fanie Viljoen, Jaco Jacobs, Elsa Winckler en Sophia Kapp. Ons deel hier, met toestemming, Dibi Breytenbach se bydrae tot die program. Dibi is ’n regsgeleerde, ’n spanningskrywer en een van PEN Afrikaans se bestuurslede. “Ons ly almal onder beurtkrag. Een van die redes hoekom ons onder beurtkrag ly, is omdat Eskom se elektrisiteit fisies gesteel word deur mense wat onwettige verbindings by hulle huise aanbring omdat hulle voel hulle is geregtig op gratis elektrisiteit en omdat baie van hulle meen hulle kan nie bekostig om te betaal vir die elektrisiteit nie. Die gevolg is: Eskom is op sy knieë. Mense wat onwettig boeke steel en deel is die boekekwivalent van mense wat onwettige verbindings by ’n Eskom-installasie aanbring. Hulle steel letterlik kos uit skrywers se monde en, as gevolg daarvan, is die uitgewersbedryf, die boekbedryf, in Suid-Afrika besig om op sy knieë gedwing te word. Hoe kan iemand homself versoen met die feit dat hy kos uit iemand se mond uit steel? En die ergste van alles is, daar is van hierdie boekdiewe – dit is wat hulle is; as jy steel, is jy ’n dief, per definisie – wat voel hulle is geregtig daarop om hierdie gratis boeke te ontvang. Hulle gaan nou al so ver dat hulle hul eie PDF’s skep van bestaande boeke en dit so deel. Ek kan myself nie sterker uitdruk nie: Dit is diewery. Dit is daglig diewery. Ek hoop dat mense na hulself gaan kyk en begin introspeksie hou oor dit waarmee hulle besig is. Dit is onaanvaarbaar. Dit is krimineel.” Luister hier na die volledige program. Poësie uit Oekraïne Eben Viktor verskaf hierdie maand se bydrae tot ’n spesiale reeks gedigvertalings wat ons tot die einde van die jaar beplan. Hier volg sy vertaling van twee gedigte deur Oksana (Rozumna) Kutsenko, sowel as ’n inleidende bydrae ter toeligting daarvan. Baie dankie, Eben. ____________________________________________________________________________ “Oksana (Rozumna) Kutsenko is ’n Oekraïense digter wat haar poësiedebuut maak in 1996. Daarmee verwerf sy die Smoloskyp literêre toekenning vir jong digters. In 2015 loods Kutsenko ’n projek om kontemporêre Afrika-poësie in Oekraïens te vertaal, en is die samesteller van die publikasie wat daaruit voortspruit. Haar ander projekte sluit in: “The Sand” en “The Sand. Coming home” in die tydperk 2017–2018 (narratiewe oor vlugtelinge en globale migrasie), asook “In Memoriam of a River” uit 2018–2019 (met ekofeminisme as tema). Kutsenko het drie digbundels in Oekraïens gepubliseer: In die winters van begeertes (1996), Balletskool (2007) en Papies (2016). Sy skryf ook die volgende kinderboeke: Gebakte Appels (2015), Aurora en ander Prinsesse (2019) en Lerato beteken Liefde (2020). Haar vertaalwerk sluit in: Leopold Sengor’s Selected Poetry (2018), en ’n keur uit die gedigte van Tania Haberland (2020). In Suid-Afrika publiseer Kutsenko in die poësieversamelings Africa en Love in the time of Covid (saamgestel deur Patricia Schonstein), asook in die poësiejoernaal Stanzas. Sy neem deel aan twee plaaslike poësiefeeste: Poetry Africa (2017) en Poetry in McGregor (2019). Van haar poësie is in Engels vertaal deur die Suid-Afrikaanse digter Robert Berold. Enkele opmerkings by die gedigvertalings: Die gedigte wat hier verskyn, is ongepubliseerde gedigte wat goedgunstiglik deur die digter voorsien is. Ek was bevoorreg om die vertaling, met die ryklike hulp van die digter, direk uit die oorspronklike Oekraïens te kon aanpak. ’n Basiese kennis van Russies het ook gehelp, maar dit moet in gedagte gehou word dat Oekraïens nié ’n taalvariant, of ‘dialek’, van Russies is nie. Oekraïens, Russies, Bulgaars, Tsjeggies en Pools is deel van die Slawiese taalfamilie met een gemeenskaplike taal van herkoms, uit sowat ’n duisend jaar gelede. Sedertdien het beïnvloeding van elders – Oekraïens deur Pools, byvoorbeeld – veroorsaak dat hierdie tale, hoewel hulle nog heelwat in gemeen het wat betref woordeskat, grammatika en fonetiek, nie meer genoeg deel om taalwetenskaplik as variante beskou te kan word nie. Die moderne Oekraïense letterkunde word ingelei met Ivan Kotljarefskii se 1789 epiese gedig, Eneïda, ’n parodie op Virgilius se Aeneïde, en waarin die Trojaanse helde vervang word met Oekraïense Kosakke. Taras Sjeftsjenko bou in die negentiende eeu hierop voort met ’n meer uitgebreide oeuvre en ’n weergawe van Oekraïens wat nader is aan die taal soos wat dit vandag daar uitsien. Hy word bekend vir sy Oekraïens-nasionalistiese poësie (waarvoor hy gevangenisstraf en ballingskap opgelê word), wat tot vandag as inspirasie dien vir die Oekraïense onafhanklikheidsideaal. Oksana Kutsenko is tans woonagtig en werksaam in Pretoria as Sekretaris Gemoeid met Kulturele en Humanitêre Sake by die Oekraïense ambassade in Suid-Afrika. Haar oorlogspoësie spreek van die afgryse wat ’n Oekraïner vul wanneer sy, vanuit die buiteland, die brutale aanslag op haar land, familie en vriende via die media moet beleef, en hoe dít kontrasteer met die relatiewe rustigheid van Pretoria. Die digter het toestemming verleen dat die oorspronklike Oekraïense tekste naas die Afrikaanse vertalings geplaas mag word.” Eben Viktor (skrywende uit Dnipro) eerste oorlogsgedig dié nag in die taxi het hulle gevra watter taal dit is wat ons praat en ons het vir Stefanie gesing terwyl ons die hemp van ons smart oopknoop – net die kraag, maar asemhaal was al makliker – in hierdie land het ons onsself lankal verloor en tog het sy ons nooit verloor nie nie in die tuine by die voetheuwels nie nie tussen die huisies óp die heuwels nie sedert oorlog uitgebreek het tuis het al haar wonders weggesmelt tropiese voëls en bome elders heen gevlieg net kontinentale swart sluier-bedekte nuus met die kop tussen die skouers ingetrek vanaf ’n vliegtuig in die lug gehoor bly oor asof so ver van die ma en haar kinders wat op die vloer in die gang slaap ná sy die tussen-twee-mure-reël geleer het sedert oorlog uitgebreek het tuis het alles wat ons gehad het gevries tot stalaktiete van herinnering gevries in die wind van ons verbeelding sien jy hoe pienk is die maan vandag voel jy – binnekort is dit sonsopkoms vir die laaste een wat oorbly en as ons sing in Oekraïens begin ons kele van smart stadigaan herstel hoewel dit beter sou wees as hulle gevra het in watter taal dit is wat ons ween (Die “tussen-twee-mure-reël” moedig aan dat mense, as hulle nie toegang tot ’n bomskuiling het nie, tussen twee soliede mure in hulle woonstelle – in die gang byvoorbeeld – skuil ten tye van bomaanvalle.) ПЕРШИЙ ВІРШ ПРО ВІЙНУ у нічному таксі нас запитали якою мовою ми говоримо і ми заспівали Стефанію розстебнувши сорочку нашого смутку – тільки комір але дихати одразу стало вільніше – в цій країні нам давно бракувало самих себе хоча їй нас ніколи не бракувало ні у садах у передгір’ях ні біля халуп на пагорбах відколи вдома почалася війна усі її дива розчинилися тропічні птахи і дерева кудись відлетіли залишилися тільки континентальні запнуті чорним вельоном новин з втягнутою у плечі головою від почутого у небі літака наче так далеко до тих жінок що вкладають дітей спати на підлозі у передпокої вивчивши правило двох стін відколи вдома почалася війна все що у нас було завмерло сталактитами спогадів замерзло на вітрі нашої уяви бачиш який сьогодні рожевий місяць чуєш – скоро світанок для когось останній та коли ми співаємо українською наше горло печалі повільно одужує хоча краще б нас запитали якою мовою ми плачемо op die pad na Matroosberg asem in as die aalwyne op Matroosberg blom uitgestrekte velde koraaltrosse vra hulleself af waarvan is daar meer onder die hemel: vreugde of verdriet? asem in terwyl die pad berg-op nog nie ophou nie asem in as die winterfikus se droë blare op die bors van ’n rooi dak val soos briewe aan hulle na wie jy nooit sal terugkeer nie asem in, Pretoria is veilig in die middaguur dis haar uit-die-kop-geleerde verhaal van prag en van verlies, van alles waaraan sy mank gaan – die waarheid oor ander stede van die aarde se gesig afgevee en opgeneem in as asem in, hierdie stralende dag sal smelt soos nooit tevore nie knusheid te veel illusies te veel bedrieglike name laat hulle almal vir ’n slag met M begin mamma mond Maria matroos metaal Mariupol êrens neem die aarde Oekraïense Mariniers op asem in tussen die aalwyne teen Matroosberg wat al hoe meer na vuurtonge begin lyk wegwysers na ’n plek waar jy van bo af ver kan sien en op die piek, met jou hart vasgeklem, vries ДОРОГОЮ НА МОРЯЦЬКУ ГОРУ дихай коли на Матрусберг розквітають алое простягають коралові кетяги звуть за собою чого під цим небом більше: горя чи радості? дихай поки дорога під гору не зупиняйся дихай коли сухий листок зимового фікуса лягає на груди одного з червоних дахів наче листи до тих кого не повернеш ніколи дихай Преторія цілком безпечна у полудень це її завчена розповідь про красу і про втрати все чого їй бракує – правда про інші міста стерті з лиця землі поглинуті попелом дихай цей сяючий день розтане як і не було затишок надто примарний надто оманливі назви хай вони всі починаються з літери М цього разу мама море Марія місто моряк моряцький десь українських морпіхів поглинає земля дихай тимчасом квіти алое уздовж Матрусберг стають усе більше схожими на язики вогню дороговкази до місця де видно далеко згори а на вершині візьмися за серце й завмри Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Julie 2022 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in Augustus 2022 Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Ten slotte: – PEN Afrikaans se stellingname oor prof. Van Coller se veelbesproke rubriek en beweerde optrede daarna is hier beskikbaar. – Baie welkom aan Skylar Darrigan wat onlangs as lid aangesluit het. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |