
PEN Afrikaans is opgewonde oor die vooruitsig van ’n aanlyn kursus wat op 10 en 17 September (10:00 – 13:00) via Zoom sal plaasvind.
Volgens Bernard Odendaal, voorsitter van PEN Afrikaans, dien ’n kursus soos die beoogde een ’n baie belangrike doelstelling van dié skrywers- en uitgewersvereniging: om gehalteskryfwerk en die publikasie daarvan te bevorder. “Die praktykfokus wat die kursus sal hê, asook die verskeidenheid aanbieders wat sal optree, gaan bemagtigend vir skrywers wees. Bowendien beloof dit om ’n lekker aanlyn geleentheid te wees om by te woon!”
Belangstellendes kan tot 2 September inskryf deur aan penafrikaans@gmail.com te skryf. Daar is beperkte plekke beskikbaar en die kursusfooi beloop R400 per persoon. Daar is nog enkele beurse beskikbaar. Meld asseblief in jou e-pos indien jy voel dat jy daarvoor in aanmerking behoort te kom.
Die kursus sal deur Mercy Kannemeyer gefasiliteer word. Mercy is ’n skrywer, teatermaker, regisseur, navorser, meningsvormer en gespreksfasiliteerder. Sy lewer meningstukke en resensies vir onder meer LitNet, Vrye Weekblad, Taalgenoot, Stilet en Klyntj.com. Kortverhale uit haar pen is in verskeie bloemlesings opgeneem. Sy werk tans aan haar debuutkortverhaalbundel.
Verskeie skrywers en kenners sal deur die loop van die twee sessies by kursusgangers aansluit om bepaalde temas te kom bespreek.
Kom hoor meer oor:
- hoe om vir ’n bepaalde mark te skryf,
- proeflees en redigering (skakel onnodige foute uit)
- die belangrikheid van ’n besigheidsgesindheid onder skrywers
- hoe sosiale media in die skrywer se guns aangewend kan word
- geleenthede vir skrywers
- ’n uitgewersperspektief: wat werk en wat werk nie?
Aanbieders wat tydens die sessies aan die woord sal wees, sluit in: Cliffordene Norton, Bibi Slippers, Heilna du Plooy, Theo Kemp en Stevlyn Vermeulen.
Cliffordene Norton het haar BA Honneurs-graad in joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, voltooi en haar loopbaan by Volksblad as vertaler begin. Sy was ook al ’n uitgewer en joernalis en is tans werksaam by die Noordwes-Universiteit as kopieskrywer in die bemakingsafdeling. Daar het reeds meer as twintig kortverhale uit haar pen verskyn en haar debuutroman, Om jou te ken, het in 2021 by Pan Macmillan verskyn.
Bibi Slippers is ’n digter en joernalis. Sy het in 2007 BA-grade in Beeldende Kuns en Tale verwerf aan die Universiteit van Pretoria, en in 2015 ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Sy was voorheen ’n inhoudsbestuurder by LitNet, artikelredakteur by die tydskrifte MyTyd en VISI, en werk in Johannesburg as vryskut-skrywer, -inhoudsregisseur en -aanbieder in die TV-bedryf. Haar gedigte en stories is opgeneem in verskeie versamelbundels, onder andere Nuwe Stemme 4 en Nuwe Stories 1. Haar debuutbundel, Fotostaatmasjien, het in November 2016 by Tafelberg verskyn. Sy was die mede-samesteller van Nuwe Stemme 6 (2017).
Heilna du Plooy was vir meer as 20 jaar verbonde aan die vakgroep Afrikaans en Nederlands aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus en is tans professor en senior navorser in die Navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Skool vir Tale aan die NWU. Sy is ook ’n digter en skrywer van ’n aantal gepubliseerde kortverhale en tientalle navorsingsartikels.
Theo Kemp is ’n bekroonde skrywer en die uitvoerender direkteur van die Jakes Gerwel Stigting wat verskeie residensie- en ander programme aan skrywers bied.
Stevlyn Vermeulen is fiksieredakteur by Kwela Boeke, ’n druknaam van NB-Uitgewers. Sy dien ook op die Wes-Kaapse Taalkomitee.
Kontak Catrina Wessels by penafrikaans@gmail.com met enige navrae.