Skrywers kan weer vanjaar in die gerief van hul eie huise inskakel vir ’n gehalte-skryfkursus.
Die skryf van verhale: ’n aanlyn kursus is vir die eerste keer in 2020 aangebied en word, na aanleiding van die groot belangstelling en positiewe terugvoer van deelnemers, vanjaar herhaal.
Die gevierde skrywer Marita van der Vyver is weer die aanbieder van hierdie boeiende kursus waartydens deelnemers praktiese oefeninge sal doen, terugvoer kry oor hulle eie skryfwerk, en saam dink, praat en leer oor wat die bestanddele van goeie skryfwerk is.
Hierdie jaar kan kursusgangers ook uitsien na die insette van bekroonde digter, skrywer en letterkundige Jolyn Phillips. Sy sluit as gasspreker by Marita aan tydens een van die Zoom-sessies wat oor drie Saterdae versprei is.
Marga Stoffer, voorsitter van PEN Afrikaans, sê:
“Die bevordering van Afrikaanse skryfkuns is hoog op PEN Afrikaans se prioriteitslys. Ons is baie opgewonde daaroor om weer hierdie kursus te kan aanbied omdat ons weet dat dit ’n kursus is wat uitstekende waarde aan deelnemers bied en ’n goeie balans tussen teorie en praktyk tref. Enigeen is welkom om in te skryf. Daar is beurse beskikbaar vir gratis bywoning. Ons wil hierdeur skrywers aanmoedig en vir hulle geleenthede skep, veral jonger skrywers en skrywers uit gemarginaliseerde gemeenskappe.”
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Augustus.
Kontak gerus vir Catrina Wessels by penafrikaans@gmail.com met enige navrae.
