Beste lede en vriende van PEN Afrikaans PEN Afrikaans by die Toyota US Woordfees 2023 Ons sien uit daarna om by die komende Toyota US Woordfees die eerste lesing in ons lesingreeks oor verskillende aspekte van media- en uitdrukkingsvryheid aan te bied. Max du Preez sal die lesing lewer in ’n sessie wat deur Mercy Kannemeyer geopen en gefasiliteer sal word. Kom sluit op 10 Oktober om 15:30 by die Khaya by ons aan. Die besonderhede is hier onder en die volledige program is hier beskikbaar. Op 12 Oktober sal ons as deel van die WOW-program weer ’n skryfskool aanbied waartydens leerders hul skryfvaardighede kan kom slyp. Grant Jefthas is die aanbieder en bestuurslede van PEN Afrikaans sal by die groep aansluit. Ons nooi ook graag ons lede, joernaliste wat die fees dek en deelnemers aan die boekeprogram om deur die loop van die fees die Skrywerskamer te besoek. Dit is ’n rustige ruimte waar ’n mens tussen sessies ’n koppie koffie of tee kan kom drink, kan sit en voorberei vir paneelbesprekings, skryf, lees, of net ontspan. Ons sien uit om julle daar te sien. Die datums en tye is hier onder. Datum van ons algemene jaarvergadering Ons algemene jaarvergadering vind op 19 Oktober om 18:00 via Zoom plaas en ons nooi ons lede en ander belangstellendes hartlik uit om dit by te woon. Almal is welkom, maar slegs opbetaalde lede sal stemgeregtig wees. Daar sal vanjaar ’n nuwe bestuur tydens die AJV vir ’n tweejaar-termyn verkies word. Ons sal in volgende maand se nuusbrief die besonderhede oor die verkiesbare kandidate deel. Kontak ons asseblief indien jy jouself of iemand anders vir verkiesing tot die bestuur wil benoem. Lede word vriendelik versoek om teen 2 Oktober sulke benoemings of ander agendapunte te stuur na penafrikaans@gmail.com. Tuin van Digters 2023 Lees hier meer oor die twaalfde Tuin van Digters-fees wat op 15 en 16 September by die Breytenbachsentrum plaasvind. Dominique Botha sal daar die Ingrid Jonker-prys ontvang wat onlangs aan haar toegeken is vir haar bundel Donkerberg. Baie geluk aan Dominique. Ons herinner opbetaalde lede van PEN Afrikaans dat julle die fees gratis mag bywoon. Daar sal ledelyste by die ingange wees. Kontak ons indien jy nie seker is of jou ledegeld betaal is nie. Op Saterdag 16 September bied PEN Afrikaans die sessie “Met apologie en dank” aan. Kom luister saam hoe digters op hul voorgangers reageer. Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer Dit is ’n plesier om hierdie maand die jongste artikel in ons kwartaallikse artikelreeks “Die wêreld van die skrywer” te deel. Dana Snyman skryf in hierdie aflewering op ons uitnodiging oor reisverhale en hoe dit tot ’n soeke na betekenis bydra of daaraan uiting gee. Dana se nuwe boek, Die binneland in, is nou op die rakke en sy reisprogram Grondpad geloof is tans op kykNET te sien. Baie dankie, Dana. Die stuk is hier beskikbaar. Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Augustus 2023 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in September 2023 Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Dit sluit in: Clinton V. du Plessis, Marita van der Vyver, Irna van Zyl, Elize Parker. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Verlede maand het Stasies, ’n speurverhaal deur Joan Hambidge, en Seeperde, ’n jeugroman deur Naomi Meyer, verskyn. Baie geluk ook aan hulle. Naomi het tydens die 2022 PEN- en Jakes Gerwel Stigting-skrywersresidensie onder meer aan hierdie boek gewerk. Ten slotte: – Ons herdenk vandag Internasionale Geletterdheidsdag en hierdie week Nasionale Boekeweek. Diegene wat hul die naweek in Kaapstad bevind, kan ter viering die Open Book-fees bywoon. Die program is hier beskikbaar. – Baie geluk aan al die benoemdes vir die kykNET-Rapport-pryse en die ATKV-Woordveertjies, met spesiale vermelding van Dibi Breytenbach, een van ons bestuurslede, wat in die kategorie vir spanningslektuur benoem is. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |