![]() |
Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Wenner van Jan H Maraisprys bekend gemaak ![]() Prof. Louise Viljoen van die Universiteit Stellenbosch is onlangs aangewys as die ontvanger van die gesogte Jan H Maraisprys 2023. Sy ontvang die prys as erkenning van haar bydrae ten bate van die Afrikaanse letterkunde. Dit sal later vanjaar by ’n funksie op Stellenbosch aan haar oorhandig word. Die prys ontstaan in 2015 as ’n tipe Nobelprys vir Afrikaans as wetenskapstaal. Die prysgeld is aanvanklik R500 000, maar is aangepas na R750 000. As sodanig is dit die grootste wat tans vir Afrikaans toegeken word. Die meriete en keuring vind plaas onder kuratorskap van die Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskap en Kuns, onder leiding van Anne-Marie Beukes, en die Keurkomitee onder leiding van Johan Van Zyl. Hartlik geluk met die welverdiende erkenning, Louise Viljoen. Lees die volledige persverklaring hier. Rus in vrede, Johan Jack Smith en Dan Sleigh ![]() Sedert ons vorige nuusbrief was daar die hartseer nuus van die dood van Johan Jack Smith, begaafde skrywer, musikant en redakteur van Taalgenoot, en Dan Sleigh, bekroonde skrywer en geskiedkundige wat wêrelde vir sy lesers en medenavorsers ontsluit het. In ’n persverklaring sê Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport oor Sleigh: “Dan Sleigh het ’n geweldige impak gemaak deur sy werk as romanskrywer en historikus. Hy het kennis gehad wat ons waarskynlik nie weer by enigiemand anders sal sien nie. Sy passie en dryfkrag vir sy navorsing was sigbaar in alles wat hy gedoen het. Ons het met sy heengaan ’n legende van die kunste verloor.” Lees ook sy LitNet-skrywersalbum hier en luister hier na ’n huldiging op RSG. ![]() Die bestuur van PEN Afrikaans het met skok en leedwese gehoor van die skielike dood van Johan Jack Smith op 17 Julie 2023. Ons het deur die jare die voorreg gehad om met hom saam te werk aan verskeie projekte wat die kollig op Afrikaanse skrywers plaas, insluitend Boeke wat skrywers laat skryf en Vinnige vrae. Ons sal hom mis. Danie Marais en Izak de Vries, twee van ons bestuurslede wat nou met hom saamgewerk het, bring hier aan hom hulde. Danie Marais skryf: “Die mense wat my die diepste beïndruk, is byna altyd mense wat jou nie probeer beïndruk nie, maar brand vir ’n kunsvorm of saak met ’n mengsel van nuuskierigheid, obsessief verworwe kennis en daardie soort groot entoesiasme wat jou weerloos maak. Johan Jack Smith was so iemand met ’n uitstekende, donker en oneerbiedige sin vir humor daarby. Ek het saam met hom begin werk toe ek bestuurder van PEN Afrikaans was en hy pas as redakteur van Taalgenoot oorgeneem het met ’n vars, helder visie en die behoefte om iets van blywende waarde te skep. Onder sy redakteurskap het Taalgenoot ’n transformasie ondergaan en ’n kultureel relevante tydskrif geword wat uitgedaag, bevraagteken en verras het en welverdiende pryse gewen het. Dit het ’n ruimte geskep vir gehaltejoernalistiek en het tot ’n mate die leemte gevul wat Insig gelaat het. Johan was verfrissend stroomop en lekker dwars met ’n groot hart vir die onderhond. Hy was ook ’n bleddie goeie skrywer. Sy debuutroman, Zola, is ’n stuk Johannesburg noir wat steeds by my spook en sy Volkspeler was die soort moerige band waarvan ons altyd te min in Afrikaans het. En dan was hy met roerende trots, toewyding en oorgawe ’n pa vir Rijger en ’n man vir Almerie. Dat hy so vroeg weg is, is hartverskeurend.” Izak de Vries skryf: “Johan Jack Smith se dood is onwerklik. Die skryf daaroor voel soos ’n artikel wat hy sou aanvra vir die Taalgenoot. Behalwe dat hy dit nooit oor homself sou aanvra nie. Johan was nie so nie. Hy was die stil ou wat oor ander gepraat het, die een wat ander gevra het vir voorstelle en wat ander stemme ’n kans gegee het. Tog, hy was aan die stuur. Hy het ’n eiesoortige visie gehad. Hy het die tema bepaal. Hy het die briljante voorblaaie laat afneem – onder sy eie regie. Johan kon ook die raaksien dat ’n span mense meer kon verrig as die individu. Ten spyte van sy sterk leiding en die feit dat hy nie sou skroom om ’n besluit te neem nie, was dit altyd nadat hy met ander gesels het; nadat hy ander die kans gegun het om hulle bydraes te maak. Daarom ook dat hy PEN Afrikaans die geleentheid gegee het om by te dra tot die Taalgenoot. Hy het verstaan dat Afrikaans soos ’n minibus is – daar is altyd plek vir nog iemand. Van minibusse gepraat: Sy Zola, oor ’n andersoortige minibus, is ’n briljante krimi, deels omdat dit soveel verskillende vlakke van ons samelewing raakvat. Dit is onwerklik om te dink dat die lang, maer man nie weer om die hoekie van die ATKV se hoofkantoor aan ’n sigaret gaan staan en suig nie.” Hierdie huldiging is ook hier op ons webwerf beskikbaar. Hierdie skrywers haal die Woordfeeskortverhaalbundel 2023 ![]() Vier-en-twintig verhale is gekies vir publikasie in die nuwe US Woordfeeskortverhaalbundel. Dié kortverhaalbundel, wat sedert 2016 jaarliks gepubliseer word, se titel is altyd dieselfde as die feestema, en vanjaar is dit dus Borrel. Die algehele wenner sal by die bundelbekendstelling gedurende die 2023-fees aangekondig word en wen R30 000 met die komplimente van EasyEquities, wat sedert 2022 ook die naamborg van die Woordfees Skrywersfees is. Elke ander skrywer wat in dié bundel opgeneem word, ontvang prysgeld van R5 000. “Die kortverhaalkompetisie is in sy agtste jaar en vanjaar is 374 inskrywings ontvang – die meeste tot nog toe. Dit beteken dat die kompetisie deurgaans strawwer word, en anders as verlede jaar het die meer ervare skrywers hierdie jaar oorheers. Uit die 24 wenners wat gekies is, is daar net vyf skrywers wat nie voorheen gepubliseer het of wie se verhale nie in vorige Woordfeesbundels opgeneem is nie. Die temas strek weer eens oor ’n verrassend wye aantal onderwerpe, en lesers kan nogmaals uitsien na ’n besonderse bundel,” sê Suzette Myburgh, wat reeds sedert 2016 die sameroeper van die beoordelaarspaneel is. Die ander twee beoordelaars was Valda Jansen en Marius Swart. Dit is vir PEN Afrikaans ’n plesier om vanjaar tot die publikasie van die bundel te kon bydra. Ons voorsitter, Bernard Odendaal, sê daaroor: “PEN Afrikaans, wat die belange van Afrikaanse skrywers en uitgewers bevorder, steun jaarliks op verskeie wyses ook die skep en vertaal van Afrikaanse letterkundige werke deur middel van die PEN Afrikaans Vertaalfonds. Om iets soos die wedstryd vir die Woordfeeskortverhaalbundel te steun, dien ter uitbouing van hierdie rol. Ons dra dus met graagte by tot hierdie viering van en belegging in die Afrikaanse woordkuns.” Die lys van skrywers wat in die 2023 US Woordfees Kortverhaalbundel opgeneem word, in alfabetiese volgorde, is: 1. Jeanetta Basson 2. Rina Bester 3. François Bloemhof 4. Ingrid Botha 5. Estelle Brits 6. Stefaans Coetzee 7. Jean-Pierre de Kock 8. Johan de Nysschen 9. Antoinette Diedericks 10. Bianca du Plessis 11. Clinton V. du Plessis 12. Ryno Eksteen 13. Donovan Greeff 14. Trisa Hugo 15. Anzil Kulsen 16. Evert Louw 17. Johann Nell 18. Jan Schaafsma 19. Ilse Schoonwinkel Pauw 20. Gerda Taljaard 21. Fransulene van der Merwe 22. Jaco van der Merwe 23. Madeleen Welman 24. Jelleke Wierenga Hartlik geluk aan almal! Die volledige persverklaring is hier beskikbaar. Tuin van Digters 2023 ![]() ’n Hoogtepunt op die jaarkalendar beweeg nader: Die twaalfde aflewering van die Tuin van Digters-fees sal vanjaar op 15 en 16 September by die Breytenbachsentrum op Wellington plaasvind. Die feestema is “Lewende woorde” en opbetaalde lede van PEN Afrikaans mag die fees weer gratis bywoon. Hartlik dankie aan Francois Lötter en die Breytenbachsentrum. Dr Diana Ferrus, wat vanjaar sewentig word, is die digter wat op Vrydagaand, 15 September gehuldig sal word. Die digter en skrywer Breyten Breytenbach is die feeskunstenaar. Sy kunswerke sal tydens die fees in die Breytenbach Galery te sien wees. Op Saterdag 16 September om 15:00 bied PEN Afrikaans ’n programitem aan en ons hoop om baie van julle daar te sien. Hier is die voorlopige beskrywing: Met apologie en dank Aangebied deur PEN Afrikaans PEN Afrikaans het digters genooi om verse in reaksie op hul voorgangers se werk te kom voordra. Die gehoor kan daarna uitsien om na die oorspronklike gedigte te luister, sowel as na die nuwe werke, wat gedigpogings van kunsmatige intelligensie sal insluit. Kom luister na lewende woorde in vele gedaantes. Deelnemers sluit in: Ashwin Arendse, Veronique Jephtas, Pieter Odendaal, Tom Dreyer, asook Lynthia Julius en Imke van Heerden via video-opname. Maandelikse resensie-oorsig ![]() Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Julie 2023 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Daar is onder meer ’n resensie deur Irma Steffens wat sy oorsprong in ons aanlyn resensiekursus oor die beoordeling van genrefiksie het. Baie geluk en dankie vir die deelname aan die kursus, Irma. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in Augustus 2023 Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Ten slotte: – Baie welkom aan Philip de Vos wat onlangs as lid by ons aangesluit het. – Navraag oor die skryf van ’n eenbedryf: Die VLV van die Weskus het laat weet dat hulle op soek is na iemand wat kan raadgee oor die skryf van ’n eenbedryf. Indien van ons lede dalk in die omgewing van Velddrif is en kennis sal deel, kan jul met ons kontak maak by penafrikaans@gmail.com vir meer besonderhede. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |