Nuusbrief: September 2021

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Wenners aangekondig: kykNET-Rapportpryse 2021


Die wenners van vanjaar se kykNET-Rapportboekpryse dek ’n historiese spektrum wat wissel van musiek- en kultuurgeskiedenis tot kunsmatige intelligensie, terwyl die Vrystaat hom weer bevestig het as ’n teelaarde vir skrywers en verhale van die hoogste orde.

Die kykNET-Rapportpryse, wat op Saterdag 11 September 2021 vir die agtste keer toegeken is, sluit in drie pryse vir Afrikaanse fiksie, niefiksie en ’n werk met filmpotensiaal onderskeidelik, die Jan Rabie-Rapportprys vir Afrikaanse debuut- of tweede prosawerke, en drie pryse vir Afrikaanse resensies van Afrikaanse boeke. Die Jan Rabie-Rapportprys is in 2003 vir die eerste keer toegeken, maar val sedert 2015 onder die kykNET-Rapport-vaandel.

Die drie kykNET-Rapport-boekpryse is vanjaar aan die volgende skrywers toegeken:
Fiksie: Willem Anker vir Skepsel (Queillerie)
Niefiksie: Stephanie Vos en Stephanus Muller (samestellers) vir Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949–1981 (Protea Boekhuis)
Film: Sidney Gilroy vir Middernag (Human & Rousseau)

Die Jan Rabie-Rapportprys gaan aan Anton Roodt vir sy satiriese debuut Weerlose meganika, wat by Tafelberg verskyn het.

Die kykNET-Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar word in drie kategorieë toegeken vir uitnemende Afrikaanse resensies van Afrikaanse boeke. Vanjaar se wenners is:

Fiksie: Nathan Trantraal vir “Kaaps-debuut systap genre en gender” oor Innie Shadows deur Olivia M. Coetzee, in Rapport Weekliks, 2 Februarie 2020
https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/kaaps-debuut-systap-genre-en-gender-20200201

Niefiksie: Deon Maas se “Anton Goosen se eerlikheid is skáárs” oor Anton Goosen: Liedjieboer deur Hanlie Retief, ook in Rapport Weekliks, 16 Augustus 2020
https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/anton-goosen-se-eerlikheid-is-skaars-20200816

Langer resensie: Charl-Pierre Naudé vir sy LitNet Akademies-resensie-essay oor Die nuwe Afrikaanse prosaboek, saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk, LitNet, 16 April 2020
https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-die-nuwe-afrikaanse-prosaboek-saamgestel-deur-sonja-loots-en-steward-van-wyk/

Baie geluk aan al die wenners, in die besonder aan ons bestuurslid, Charl-Pierre Naudé, wat weer as resensent uitblink.

Die volledige persverklaring is hier beskikbaar.

In memoriam: J.C. Steyn (1938 – 2021) en Pieter Fourie (1940 – 2021)

PEN Afrikaans het met leedwese verneem van die afsterwe van twee groot geeste in die Afrikaanse taal- en letterkunde.



Prof. J.C. (Jaap) Steyn, gerekende akademikus en skrywer, het as taalwetenskaplike diep spore getrap, maar ook as nougesette biograaf en bekroonde digter ’n sonderlinge bydrae gelewer.
 
“As jy die werklike Jaap wil ken, moet jy sy biografieë bestudeer,” skryf Hennie van Coller in ’n huldeblyk op LitNet. “Gou sal jy agterkom dat hy ’n enorme respek koester vir mense wat hul geringer ag as dit waarvoor hulle hul beywer – dikwels die behoud en uitbou van Afrikaans en opheffing van hulle volk. Wat hy duidelik waardeer, is integriteit; spaarsamigheid; eenvoud en ’n formidabele intellek. Al hierdie dinge kan net so oorgedra word op Jaap self.”

Op Facebook noem Nicol Stassen die heengaan van Jaap Steyn ‘n ontsaglike verlies vir Afrikaans: “Hy was werklik een van die grootstes onder die grotes.”

 

Oor die legendariese dramaturg Pieter Fourie kan dieselfde gesê word. Hy was een van die mees gepubliseerde en bekroonde dramaturge in Afrikaans en het in 2003 die Hertzogprys vir drama vir sy oeuvre ontvang. Hy het ook as digter en as kunste-administrateur ’n merk gemaak. Hy was onder meer artistieke direkteur van die streeksraad Kruik en stigterslid van die KKNK, waarvan hy ook die eerste uitvoerende hoof was.
 
Fourie is na berigte gisteraand in sy huis op Onrus naby Hermanus oorlede. Hy was 81 jaar oud. Lees hier meer.
 
In sy resensie van Pieter Fourie: Teatermaker – ’n huldiging, beskryf Dewald Koen vir Fourie as “’n kreatiewe gees wat ’n enorme bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat gelewer het. Sonder Pieter Fourie sou die Afrikaanse toneelwêreld heelwat armer gewees het.”
 
Ons vereer en onthou prof. Jaap Steyn en Pieter Fourie as besielde en begaafde bydraers tot die Afrikaanse taal, letterkunde en kunste. Ons dra ons innige meegevoel aan hul naasbestaandes oor.
 
Tuin van Digters 2021

 
Vanjaar vind Tuin van Digters, die Breytenbachsentrum se gewilde en besonderse poësiefees, vir die tiende keer plaas. Só ’n ronde getal is ’n behoorlike viering werd. Hou 22 en 23 Oktober oop vir die fees wat by die Breytenbachsentrum sal plaasvind. Die program sal aan die einde van September beskikbaar gemaak word en ons sal dit in ons Oktober-nuusbrief en op sosiale media deel. Ons sien uit daarna om ’n paneelbespreking as deel van die fees aan te bied.
 
Intussen sê ons baie dankie aan Francois Lötter, bestuurder van die Breytenbachsentrum, vir die vergunning dat opbetaalde lede van PEN Afrikaans vanjaar weer die fees gratis mag bywoon.
 
Kontak ons by penafrikaans@gmail.com om seker te maak dat jy op die lys van opbetaalde lede sal wees.
 
Die skryf van verhale: ’n Aanlyn kursus
 
Die aanlyn kursus wat Marita van der Vyver vir ons aanbied, is vanjaar weer vol. Ons het meer aansoeke ontvang as wat ons kon akkommodeer en het die afgelope Saterdag die groep kursusgangers by die eerste van drie sessies verwelkom.
 
Jolyn Phillips sal by die volgende sessie as gasspreker aan die woord wees.
 
“Die bevordering van Afrikaanse skryfkuns is hoog op PEN Afrikaans se prioriteitslys,” sê Marga Stoffer, voorsitter van PEN Afrikaans. “Ons is baie opgewonde daaroor om weer hierdie kursus te kan aanbied omdat ons weet dat dit uitstekende waarde aan deelnemers bied en ’n goeie balans tussen teorie en praktyk tref.”  
 
Dankie vir almal se belangstelling en inskrywings. Ons hoop dat julle die kursus baie nuttig sal vind.

 
Foto: Nick Boulton

Almal is baie welkom om na twee nuwe podsendings te luister wat uit uittreksels uit verlede jaar se aanlyn kursusse bestaan. Klik hier om te luister na Anzil Kulsen en Jan Vermeulen, wat die aanlyn kursus oor die skryf van jeugverhale aangebied het, en hier om te hoor wat sê Chase Rhys, die gasspreker by die aanlyn kursus oor die skryf van verhale 2020.
 
PEN-paneelbespreking by die Week van het Nederlands 2021

 

Die Week van het Nederlands word van 2 – 9 Oktober gevier. Vir die eerste keer vind daar ook ’n amptelike viering hier in Suid-Afrika plaas, by SASNEV in Pinelands. Die tema van die week is “taal op stelten.”
 
Dit is vir PEN Afrikaans ’n voorreg om, in PEN International se 100ste bestaansjaar, ’n paneelbespreking te kan aanbied met verteenwoordigers van twee ander PEN-sentrums, naamlik PEN Nederland en PEN Vlaanderen.
 
Alfred Schaffer, bekroonde digter, letterkundige en vertaler, sal op 9 Oktober ’n gesprek lei met Alicja Gescinska (PEN Vlaanderen), Sophie Zijlstra (PEN Nederland) en Izak de Vries (PEN Afrikaans). Twee van die gespreksgenote sal in persoon gesels met twee kollegas wat uit die Lae Lande virtueel sal deelneem. Waarmee is dié sentrums besig wat taal, letterkunde en uitdrukkingsvryheid betref? Is taal op stelte in die onderskeie lande? Hou ons sosialemedia-platforms dop vir maniere om saam te luister.
 
Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer

 
Nico Scheepers is die skrywer van onder meer Nêrens, Noord-Kaap, ’n bekroonde toneelstuk wat in 2017 by die Vrystaatfees gedebuteer het en daarná ook gehore by ander feeste aangegryp het. Dit het in 2020 in boekvorm by Protea Boekhuis verskyn en is mees onlangs verwerk tot ’n kykNET-dramareeks wat tans uitgesaai word.
 
Ons het vir Nico gevra om sy gedagtes te deel oor ruimtebeelding in sy skryfwerk. Lees sy artikel hier.
 
’n Handves vir regte van Suid-Afrikaanse kunstenaars
 
Ons deel graag hier inligting oor ’n noemenswaardige inisiatief, naamlik ’n handves vir regte waarop Suid-Afrikaanse kunstenaars aanspraak maak. Dit is helaas so dat plaaslike kunstenaars, ook skrywers, op bitter min staatsondersteuning kan reken, ’n realiteit wat tydens die inperkings van die Covid-19-pandemie baie duidelik geblyk het.
 
Dramaturg Mike van Graan het in samewerking met die Im4theArts-beweging hierdie handves geformuleer. Dit is gegrond op internasionale en plaaslike beleidsdokumente. Lees hier meer en klik hier om die handves te onderskryf of op ander maniere betrokke te raak.   
 
Herinnering: PEN Afrikaans hou AJV en verkies nuwe bestuur
 
Ons algemene jaarvergadering vind op 19 Oktober om 18:00 via Zoom plaas en ons moedig ons lede aan om dit by te woon, veral aangesien daar vanjaar ’n nuwe bestuur (insluitend ’n nuwe voorsitter en ondervoorsitter) vir ’n tweejaar-termyn verkies sal word.
 
Almal is welkom, maar slegs opbetaalde lede sal stemgeregtig wees. Vul asseblief ’n volmagvorm in om ’n ander lid te magtig om jou stem waar te neem indien jy nie die vergadering kan bywoon nie. Laai die vorm hier af en stuur die voltooide vorm na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons sal in volgende maand se nuusbrief besonderhede oor die verkiesbare kandidate deel. Kontak ons voor die einde van September indien jy ’n lid van PEN Afrikaans vir verkiesing tot die bestuur wil benoem.
 
Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Augustus 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dit sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in September 2021
 
Die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat vandeesmaand verskyn, bevat weer ryke verskeidenheid. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het.
 
Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Ten slotte sê ons hartlik welkom aan Dibi Breytenbach wat sedert ons vorige nuusbrief as lid by ons aangesluit het.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans