![]() |
| Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Ingrid Jonker se fisieke argief terug in Suid-Afrika ![]() (Foto: Netwerk24) Sestig jaar ná die tragiese afsterwe van een van Suid-Afrika se bekendste digters, Ingrid Jonker, het haar fisieke argief uiteindelik op 4 November na haar moederland teruggekeer. Dit nadat die versameling van manuskripte, briefwisselinge en foto’s ’n kwarteeu gelede na Europa geneem is waar die argief uiteindelik in die Literatuurmuseum in Den Haag, Nederland, beland het. Volgens Ingrid se niggie, Cathy de Villiers, beskou die familie die restitusie as ’n vorm van “genesing van generasies vir die familie”. Nadat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) saam met Ingrid Jonker se enigste dogter, Simone, wat in 2023 oorlede is, jare gelede die onderhandelinge oor die repatriasie met die museum begin het, is die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) en sy uitvoerende hoof, Eureka Barnard, as fasiliteerder betrek. Uiteindelik het SASNEV die inisiatief oorgeneem, die onderhandelinge afgerond en danksy ’n bereidwillige skenker die veilige vervoer van dié argief befonds. Om die repatriasie te vier, vind ’n unieke funksie op 22 November by SASNEV in Pinelands plaas waar Jonker se ongelooflike lewe en invloed op ’n nuwe geslag Afrikaanses verken word. Jonker se familie sal teenwoordig wees en haar kleindogter, Margarita Celeste, sal ’n bydrae tot die dag se verrigtinge maak. Die hoofspreker is die opwindende jong akademikus Courtneigh Ess, mededosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Haar lesing sal gevolg word deur ’n paneelgesprek, waaraan onder andere Louise Viljoen, ’n groot Jonker-kenner, sal deelneem. Die geleentheid sal boonop met musikale weergawes van Ingrid se gedigte aangevul word. Die doel is om met woord en klank te besin oor Ingrid se tydlose poësie, haar uitdagings, die seksisme en sensuur waarmee sy te kampe gehad het asook die digter se protesstem teen die apartheidsbestel. Maar selfs belangriker is dat haar relevansie vir ’n jong, diverse generasie Afrikaanse stemme in die kollig geplaas gaan word. Slegs ’n beperkte aantal plekke is beskikbaar vir die publiek, dus belangstellendes word versoek om so gou moontlik ’n e-pos aan info@sasnev.co.za te stuur. Lees die volledige persverklaring hier: https://www.litnet.co.za/persverklaring-ingrid-jonker-kom-eindelik-huis-toe/ Luister gerus ook na hierdie onderhoud: https://youtu.be/kk2TJK8t4Ak Woordtrofees-wenners vir 2025 bekend Die wenners van die Woordtrofees vir 2025 is op 13 November tydens ’n toekenningsgeleentheid in die US Konservatorium op Stellenbosch bekroon. Die wenners het elkeen ’n oorkonde en ’n bedrag geld ontvang. Die Toyota Stellenbosch Woordfees vereer met die Woordtrofees jaarliks kunstenaars wat uitnemend presteer het op die fees. Ek is nie Danie, die verhoogproduksie wat op Danie Marais se digbundels gegrond is, is met vier Woordtrofees bekroon: Beste toneelstuk, Uitsonderlike tegniese bydrae (Schalk Joubert vir die regstreekse klankontwerp), Beste teks (verwerking en/of samestelling: Danie Marais) en Beste akteur (Albert Pretorius). Die wenners van die boekpryse is: Antjie Krog (Fiksie-topverkoper: Binnerym van bloed), Siphokazi Jonas (Poësie-topverkoper: Weeping Becomes a River), Marita van der Vyver (Nie-fiksie-topverkoper: My jaar van vrees en vryheid) en Nataniël (Leefstyl-topverkoper: Bloei + Blom). Chase Rhys het die Woordtrofee gewen vir beste prestasie in kunsjoernalistiek (INK-feeskoerant). “Chase se stem is uniek, is Kaaps en deel ’n unieke en besonderse uitkyk op die lewe en kom met baie ervaring en kennis van die kunste. Ons is bevoorreg om Chase te eer vir hul werk. Chase se werk getuig van ’n eerlike en diepe omgee vir die kunste en respek vir hul medekunstenaars,” sê Marchelle van Zyl, INK-redakteur. Dianne du Toit Albertze het die eerste Reinet Nagtegaal-teksprys ontvang vir Huis van sand. Dit is die grootste teksprys in Afrikaans en die algehele wenner ontvang naas prysgeld van R120 000, ook mentorskap en ondersteuning met die finale afronding van die teks, en ’n speelvak by die Toyota Stellenbosch Woordfees. Jolyn Phillips het ’n spesiale uitskietertoekenning ontvang vir ’n wêreldklas vokale uitvoering in kontemporêre musiek vir Sathima’s Africa: ’n Huldeblyk aan die Jazz-legende Sathima Bea Benjamin. Hartlik geluk aan al die wenners! Die persverklaring met die volledige lys is by hierdie skakel beskikbaar: https://woordfees.co.za/nuusmedia/woordtrofees-wenners-vir-2025-bekend/ Kyk: Marianne Thamm lewer PEN Afrikaans se jaarlikse lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid ![]() Marianne Thamm, die veteraanjoernalis, skrywer en dramaturg, het op 1 November PEN Afrikaans se jaarlikse lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid gelewer. Baie dankie aan almal wat dit bygewoon het. Ons sluit graag ’n paar foto’s van die byeenkoms hier in. Klik hier om na die video-opname van die lesing te kyk en klik hier om die teks te lees. Ons hartlike dank aan Marianne Thamm, aan die Breytenbach Sentrum, waar hierdie openbare lesing plaasgevind het, en aan André Terblanché vir die video-opname en die tegniese versorging daarvan. Lees gerus ook Naomi Meyer se verslag oor die geleentheid op LitNet. Dit is hier beskikbaar. ![]() Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Oktober 2025 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in November 2025 Baie geluk aan ons lede wat in November nuwe boeke op die rakke het. Dit sluit in: Martin Steyn en Fourie Botha. Kruiper-Crawler deur Shane van der Hoven is binnekort op die rakke en dit verskyn by Uhlanga Press. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Ten slotte: – Solet Scheeres en Jennifer Pape het sedert ons vorige nuusbrief by PEN Afrikaans aangesluit. Hartlik welkom! Jennifer Pape se debuutdigbundel waar daar eens ’n see was het onlangs by Turksvy Uitgewers verskyn. – Die bestuur van PEN Afrikaans staan in solidariteit met die vreedsame protesaksie teen geslagsgeweld wat vandag landswyd plaasvind. Suid-Afrika het van die hoogste vlakke van geslagsgebaseerde geweld ter wêreld. Die koers waarteen vroue hier vermoor word, is volgens UN Women vyf keer hoër as die wêreldgemiddeld. Dit is ’n kwessie wat dringende aandag verg. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |



