![]() |
Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Oop uitnodiging: PEN Afrikaans hou simposium op 16 November by SASNEV ![]() Sluit asseblief by PEN Afrikaans aan vir ’n beraad op 16 November by SASNEV in Pinelands, Kaapstad. Belangstellendes kan gerus vanaf 09:30 arriveer vir ’n koppie tee of koffie vooraf. Die verrigtinge begin om 10:00 en ons sien uit daarna om saam te dink en te praat oor ’n aantal kwessies wat plaaslike skrywers, joernaliste en uitgewers raak. Dit sal vir ons ’n eer wees om die joernalis Karyn Maughan eerste aan die woord te stel om PEN Afrikaans se jaarlikse lesing oor die stand van persvryheid in Suid-Afrika te lewer. Maughan se boek, I Will Not Be Silenced, het pas verskyn en word as volg beskryf: ![]() “Toe Karyn Maughan as ’n beginnerjoernalis in 2006 by hofverslaggewing betrek is, moes sy Jacob Zuma se verkragtingsverhoor dek. Vir die volgende twee dekades het sy oor Zuma se regsake verslag gedoen en het as gevolg hiervan sélf een van sy teikens geword het toe hy haar privaat begin vervolg het. Hierdie boek bied ’n indringende blik op hoe magtige mans aanvalle gebruik op individue, wat hulle aanspreeklik probeer hou, asook op die media en die howe, om demokrasie te ondermyn.” Die lesing sal in Engels gelewer word, maar sal na afloop van die simposium ook in Afrikaanse vertaling gepubliseer word. Volgende op die dag se program is ’n paneelbespreking met van die bydraers tot die Right to Write-projek, ’n inisiatief waaraan PEN Afrikaans vanjaar, saam met vier ander PEN-sentrums, op uitnodiging van PEN International deelneem met die oog daarop om openbare dialoog te bevorder oor kwessies wat skrywers raak. Wat is van daardie kwessies? Hoe lyk die landskap en klimaat vir kreatiewe skryfwerk en uitdrukkingsvryheid vir Afrikaanse skrywers vandag? Bibi Slippers sal in gesprek tree met Lynthia Julius en Jolyn Phillips oor artikels wat hulle as deel van ’n reeks gelewer het en waarna lesers van Rapport en Daily Maverick nog kan uitsien. Die eerste twee artikels het reeds verskyn. Lees gerus Antjie Krog se bydrae hier en Chase Rhys se bydrae hier. Eben Venter se stuk sal volgende verskyn. Na die paneelbespreking sal PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering plaasvind. Kom klink ’n glasie en vind meer uit oor PEN Afrikaans se bedrywighede oor die afgelope jaar. Daar sal ook ligte verversings wees. Die gesprekke, met uitsluiting van die algemene jaarvergadering, sal opgeneem en op YouTube uitgesaai word. Bevestig asseblief bywoning en rig ander navrae aan: penafrikaans@gmail.com Agenda en belangrike inligting: algemene jaarvergadering 2024 Almal is welkom by ons jaarvergadering wat na verwagting om 12:30 sal begin op 16 November by SASNEV in Pinelands. Slegs opbetaalde lede sal egter stemgeregtig wees. Daar sal nie vanjaar ’n nuwe bestuur verkies word nie, maar daar is twee sake rakende lidmaatskapkategorieë waaroor ons lede by die vergadering sal stem, naamlik: Die moontlike instel van ’n lidmaatskapkategorie wat regspersone soos organisasies in staat sal stel om lid van PEN Afrikaans te word; Die moontlikheid dat afgetredenes geen of ’n verlaagde jaarlikse ledefooi kan betaal. Die agenda vir die vergadering is hier beskikbaar. Die notule van verlede jaar se vergadering kan hier gelees word. Lede word versoek om hul teenwoordigheid by penafrikaans@gmail.com te bevestig. Verskonings en volmagvorms kan na dieselfde adres gestuur word. Die volmagvorm is hier beskikbaar. In memoriam: Hans du Plessis ’n Huldiging deur Bernard Odendaal ![]() Dis met leedwese dat PEN Afrikaans-lede moes verneem van die afsterwe van die geliefde taalman, veelsydige skrywer en ywerige skryfkunsbevorderaar Hans du Plessis op 25 Oktober. Hy sou op 15 Januarie volgende jaar tagtig jaar oud wees, terwyl sy nuutste roman daartydens bekendgestel sou word. Nie net was hy die skrywer van digby 200 vakkundige publikasies (boeke, boekhoofstukke en artikels) nie; ’n bundel rubrieke en ’n bundel kortverhale, 3 jeugromans, 10 romans en 6 digbundels uit sy pen het die lig gesien. Daarby is 10 verhoogproduksies gebaseer op skryfwerk deur hom op die planke gebring. Onder laasgenoemde tel die welbekende musiekkonserte met toonsettings deur Randall Wicomb van sy (Bybels gebaseerde) verse in die Griekwavariëteit van Afrikaans. Hy is herhaaldelik bekroon vir sy werk; nie net vir sy literêre prestasies nie, maar ook vir sy uitsonderlike bydraes ter bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur in die breë. In laasgenoemde verband is byvoorbeeld die feit te noem dat hy die grondlegger en 21 jaar lank die direkteur was van die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Die instelling van Skryfkuns as beide voorgraadse en nagraadse vakkeuse aan die NWU het ’n aansienlike rol gespeel in die feit dat Afrikaanse kreatiewe skryfwerk in die afgelope dekades ’n gesogte studierigting aan Suid-Afrikaanse universiteite geword het. Die groot verskeidenheid huldigings wat op allerlei mediaforums verskyn het, spreek duidelik daarvan dat hy, op meer persoonlike vlak, ’n sterk inspirerende rol in baie studente, opkomende skrywers en literêre en taalvriende se loopbane en lewens gespeel het. Van sy nederige “gewoonheid”, ten spyte van sy geleerdheid en begaafdheid, is uit alle oorde gewag gemaak; ook dat hy wesenlik liefdevol was – vir talle ’n soort taalkundige en letterkundige vaderfiguur. Sy opvallende humorsin, wat dikwels in die vorm van woord- en taalspel tot uiting gekom het, het sy innemendheid verder versterk – so kon talle en talle getuig. Sy afsterwe laat ’n groot leemte in die Afrikaanse kultuurveld. PEN Afrikaans huldig sy nalatenskap op literêre en breër kulturele vlak – terwyl die opregte medelye van al ons lede uitgaan na sy vrou, Magdaleen, en sy kinders, kleinkinders en ander familielede. In memoriam: Mellet Moll ![]() In ’n huldiging op LitNet skryf Marlies Taljard die volgende: “Die bekende digter en akademikus Mellet Moll (1967–2024) is op 28 Oktober 2024 skielik tuis in Somerset-Wes aan ’n hartaanval oorlede. Die digter Louis Esterhuizen, oor wie se werk Mellet met ’n doktorale studie besig was, skryf op Facebook: “Wat ’n geskakeerde, ruim en vrygewige mens was Mellet Moll nie. ’n Lewenskrag in alle opsigte; altyd vol idees, ondernemend en inspirerend. Trouens, Mellet het ’n besonder breë spoor getrap deur hierdie lewe.” Ek het Mellet geken as ’n betroubare kollega op wie ’n mens te alle tye kon staatmaak – iemand wat trots was op sy werk, maar ook met humor na homself kon verwys. Hy het byvoorbeeld telkemale met ’n knipoog vertel dat hy in sy jonger dae ’n uitsmyter by nagklubs en kroeë was. Ten spyte van sy indrukwekkende gestalte, het Mellet ’n klein hart gehad. Hy was ’n sagte mens wat dadelik hulp aangebied het wanneer daar nood was, gehuil het as onreg geskied. Sy intellektuele vermoë was legendaries en uiters gevarieerd. Hy was ’n bekwame ingenieur, gerekende resensent, ’n sensitiewe digter, beluisteraar van ingewikkelde musikale komposisies en “closet”-politikus. Hy het oor bo gemiddelde argumenteringsvaardighede en ’n fyn aanvoeling vir die regte woord beskik. Sy woordeskat het my dikwels beïndruk – hy het nooit ophou studeer nie en was tot die dag van sy dood nog besig met navorsing. […]” Lees die res van die stuk hier, sowel as ’n aangrypende huldiging deur Diana Ferrus hier. PEN Afrikaans betreur die skielike heengaan van Mellet Moll as ’n hartseer verlies. Ons betuig ons innige meegevoel aan sy vrou, Nini Bennett-Moll, en die res van sy naasbestaandes. Mercy Kannemeyer lewer verslag oor die internasionale PEN-kongres Ons ondervoorsitter, Mercy Kannemeyer, het PEN Afrikaans in die laaste week van September by die internasionale PEN-kongres in Oxford verteenwoordig. Hier is sy saam met Burhan Sönmez, die president van PEN International, en haar verslag volg daarna. ![]() “Eerstens wil ek my opregte dank uitspreek dat ek PEN International se 90ste kongres in Oxford vanaf 24 – 27 September vanjaar kon bywoon. Die lesings, paneelgesprekke, toesprake, debatte en padlangse geselsies het vir ’n volronde ervaring gesorg – ’n ervaring wat my lewe lank by my sal bly. Dit was ’n eer om PEN Afrikaans te verteenwoordig. Ek kon met trots vir ander kongresgangers vertel van die belangrike werk wat ons hier doen. ’n Addisionele veer in PEN Afrikaans se hoed is om dan aan die ontvangkant te staan van groot komplimente vir hoe ons sentrum bestuur word, en onder andere ons sukses met projekte soos die vertaalprojek en Die Onsigbare Kind. ’n Oomblik wat uitstaan is die stigting van ’n nuwe komitee genaamd die Jong Skrywerskomitee – PEN International se nuutste en vyfde komitee. Daar is natuurlik die Vroueskrywerskomitee, Die Komitee vir Vertaling en Taalregte, Skrywers vir Vrede en die “Writers in Prison”-komitee. Met groot opgewondenheid is die saak vir die komitee gestel en jonger kongresgangers kon hulle gevoel en behoefte aan so ’n komitee verwoord. ’n Jong(er) Skrywerskomitee is iets waarby PEN Afrikaans myns insiens kan baatvind. Deur ’n jonger generasie by sentrumsake te betrek, verseker ons dat die organisasie groei, en dat daar ’n generasie is wie se werk, insig en verbeelding saam met PEN Afrikaans kan ontwikkel.” PEN Afrikaans verwelkom die president se verwysing van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg na die Konstitusionele Hof Die bestuur van PEN Afrikaans verwelkom president Cyril Ramaphosa se besluit om nie die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg in sy huidige vorm te onderteken nie, maar dit na die Konstitusionele Hof te verwys om die grondwetlikheid daarvan te bepaal. Die president se besluit is op 15 Oktober via ’n persverklaring bekend gemaak. Die aankondiging is hier beskikbaar: https://www.thepresidency.gov.za/president-ramaphosa-refers-copyright-amendment-bill-and-performers-protection-amendment-bill Dit kom nadat dié opspraakwekkende wetsontwerp, wat met ’n uitgebreide lys kopiereguitsonderings tot die grootskaalse verswakking van outeursregbeskerming sal lei indien dit bekragtig word, opnuut vroeër vanjaar met die meerderheidstem van die regerende party deur die Nasionale Vergadering aanvaar is, ondanks besware van opposisiepartye en grootskaalse teenkanting uit die skeppende bedrywe. Die wetsontwerp is daarná na die president se lessenaar, en ons verwelkom sy besluit om dit na die Konstitusionele Hof te verwys. In 2020 was president Ramaphosa ook besorgd oor aspekte van die wetsontwerp en het hy dit na die parlement terugverwys vir heroorweging en hersiening. Sedertdien is slegs geringe veranderinge aan die wetsontwerp gemaak. Vir PEN Afrikaans en ons lede, wat by uitstek mense is wat op ’n doeltreffende outeursregstelsel staatmaak, is die president se besluit ’n welkome en blye wending, hoewel ons ook die dringendheid van ’n kopiereguitsondering vir blinde en gesiggestremde lesers wil beklemtoon. Ons sal die saak verder volg, ons lede oor verwikkelinge ingelig hou, en sover as moontlik bydra tot toekomstige stappe om seker te maak dat skrywers se stem gehoor word. Dankie aan LitNet vir hierdie onderhoud oor die onderwerp. Maandelikse resensie-oorsig ![]() Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Oktober 2024 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in November 2024 Baie geluk aan ons lede wat in November nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Ons hoop om julle die 16de November te sien! Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |