![]() |
Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Suksesvolle aansoekers: PEN dit neer-skrywersresidensie ![]() Baie geluk aan die suksesvolle aansoekers vir die Jakes Gerwel Stigting se PEN dit neer-residensieprogram 2025. Die twee skrywers wat PEN Afrikaans se beskikbare plekke in die skrywershuis sal vul, is Erla Diedericks en Jolyn Phillips. Van harte geluk! Die PEN dit neer-residensieprogram het ten doel om vir skrywers onverstoorde skryftyd in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis in KwaNojoli (Somerset-Oos) in die Oos-Kaap te bied. Dit beloof om weer ’n produktiewe en verrykende internasionale saamtrek te wees, met deelname vanuit Suid-Afrika, Uganda en Noorweë. Lees hier meer oor die deelnemers. Ons dank aan die Jakes Gerwel Stigting wat die residensie moontlik maak en aan die betrokke PEN-kollegas vir die goeie samewerking. Oproep om finansiële bydraes tot regskoste: Konstitusionele Hof hoor die saak oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg op 21 – 22 Mei aan ![]() ’n Groot gebeurtenis in die hersiening van ons land se kopieregwetgewing is op die horison. Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg sal op 21 en 22 Mei voor die Konstitusionele Hof dien om die grondwetlikheid van bepalings daarvan te toets. Dit kom nadat president Cyril Ramaphosa ’n tweede keer besluit het om nié die wetsontwerp te onderteken nie, as gevolg van kommer oor die grondwetlikheid daarvan. PEN Afrikaans is een van ’n groep belanghebbendes wat, met ’n uiters bekwame regspan onder leiding van intellektuele goedereregsfirma Adams & Adams, as ’n amicus curiae of “vriend van die hof” tot die saak toegelaat is. Sedertdien het dié regspan al noemenswaardige deurbrake behaal, soos om regsopinies van internasionale kopieregkenners dr Mihály Ficsor en prof. Jane Ginsburg voor die hof te plaas, en suksesvol te motiveer dat die hofrekord bygewerk word om te verseker dat kritieke, tersaaklike dokumente deel daarvan word, soos voorleggings aan die Parlement wat aanvanklik uitgelaat is, en ’n impakstudie van PwC wat in 2017 aan die Parlement voorgelê is wat die verwagte (katastrofiese) impak van die wetsontwerp se kopiereguitsonderings vir opvoedkundige doeleindes op die boekbedryf uiteensit. Die hof se rekord vir die saak beslaan 15 000 bladsye, waarvan meer as 13 000 bladsye dokumente is uit die sewe jaar lange wetgewende proses in die Parlement. Dit is maar die derde keer dat ’n wetsontwerp op hierdie manier voor die Konstitusionele Hof beland, en dit is dus redelik om te verwag word dat die uitspraak baanbrekend sal wees. Uiteraard gaan die voorbereiding en deelname aan so ’n kritieke, tegniese en omvangryke hofsaak met aansienlike regskoste gepaard. PEN Afrikaans het reeds bygedra wat ons as organisasie kon. Ons nooi nou graag ons lede en ondersteuners om as individue tot die regskoste by te dra. Ons bied aan om daardie individuele bydraes te ontvang, ooreenstemmende fakture en kwitansies uit te reik, en aan die regsfirma oor te betaal. Soos ons lede weet, het die inhoud van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg ’n jarelange stryd vir ’n effektiewe en billike outeursregstelsel teweeggebring. Die oorsprong van die bekommernisse lê in die wetsontwerp se verreikende voorgestelde verswakking van outeursreg deur die instel van ’n magdom kopiereguitsonderings, onder andere ’n breë “fair use”-model wat tot dusver nie deel van die Suid-Afrikaanse reg was nie. Daar is diegene wat hulle vir ’n outeursregstelsel beywer wat meer ongemagtigde, en dus gratis, gebruike van outeursregwerke sou toelaat, nie net vir opvoedkundige gebruik nie, maar ook ’n reeks ander doeleindes. Dan is daar ook ’n sterk stem wat opklink van skrywers en ander skeppers van outeursregwerke teen, onder andere, die wetsontwerp se verregaande kopiereguitsonderings wat geïnterpreteer kan word as ’n vorm van onteiening van intellektuele eiendom. PEN Afrikaans neem nog deurlopend aan die wetgewende proses deel en sal voortgaan om dit te doen. Ons sakke is egter nie diep genoeg om finansieel meer by te dra tot die proses nie. Enigeen wat voel dat hulle ons daarmee wil bystaan, kan ons kontak by penafrikaans@gmail.com om reëlings te tref. PEN International se Young Writers Committee is geloods PEN International se nuutste komitee, die Young Writers Committee, is op 24 April vanjaar amptelik geloods. Dit is ’n wêreldwye netwerk van verteenwoordigers van verskillende PEN-sentrums. Die fokus is op jong skrywers en ander rolspelers wat hul vir die versterking van jeugstemme en die verdediging van uitdrukkingsvryheid beywer. Die komitee se amptelike webwerf heet Tomorrow Club. Lees gerus hier ons ondervoorsitter, Mercy Kannemeyer, se bydrae tot dié platform waarin sy besin oor hoe dit is om in Suid-Afrika ’n jong skrywer te wees. Lees PEN International se verklaring oor die nuwe komitee hier. Volg gerus die Young Writers Committee op die volgende sosialemedia-platforms: Facebook: https://www.facebook.com/profile.php?id=61575292145957 Instagram: https://www.instagram.com/pen_youth/ Bluesky: https://bsky.app/profile/youngwriterspen.bsky.social Wenners van Akademiepryse 2025 aangekondig ![]() Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het sedert ons vorige nuusbrief die ontvangers van die gesogte Akademiepryse vir 2025 aangekondig. Die bestuur van PEN Afrikaans wens die wenners van dié vername pryse hartlik geluk! Baie geluk ook aan die benoemdes vir elke prys. Eben Venter ontvang die Hertzogprys vir prosa vir sy roman, Decima. Gaireyah Fredericks ontvang die Eugène Maraisprys vir prosa vir haar bundel, Een voet innie kabr, die boek waaraan sy gewerk het tydens die Jakes Gerwel Stigting se PEN dit neer-skrywersresidensie in samewerking met PEN Afrikaans. Eunice Visser ontvang die Protea Boekhuistoekenning vir haar werk Die Kaapse slawe, 1652–1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief. Louis Pretorius ontvang die Scheepersprys vir jeugliteratuur vir Kompleks en die Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur gaan aan Marissa Badenhorst vir Watermeisie: Akwa se reis. Hartlik geluk aan almal! Lees die volledige persverklaring hier. Maandelikse resensie-oorsig ![]() Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in April 2025 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in Mei 2025 Baie geluk aan ons lede wat in Mei nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Ten slotte: – Baie geluk aan almal wat die kortlyste van die UJ-pryse gehaal het! Ons is saam met julle bly oor die welverdiende erkenning. Die UJ-pryse word toegeken aan uitnemende tekste in enige genre wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is en in die vorige kalenderjaar verskyn het. Die aankondiging van die wenners word binnekort verwag. Lees die persverklaring hier. ![]() ![]() – Ons deel ook graag die volgende wonderlike nuus: ’n Poësieprys wat hulde bring aan een van Afrikaans se literêre ikone, Breyten Breytenbach, word voortaan jaarliks toegeken. Die nuwe Breyten Breytenbach-prys vir Afrikaanse digkuns beloop R200 000 – sonderlinge aansporing in ’n genre wat relatief min erkenning kry in die vorm van literêre pryse. Die volledige persverklaring is hier beskikbaar. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |