![]() |
Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Sedert ons vorige nuusbrief is die Afrikaanse medialandskap armer gelaat weens die heengaan van die bekende en geliefde spotprenttekenaar, Fred Mouton. “Al sy kollegas het kosbare herinneringe aan hierdie saggeaarde mens wat soveel insig in die mensdom gehad het. Ons vier sy nalatenskap. Hy het voorwaar ’n reuse-bydrae in ons publikasies gelewer om ons land en wêreld se geskiedenis te help dokumenteer,” sê Henriëtte Loubser in hierdie berig met huldeblyke van sy redakteurskollegas. Fred Mouton was ikonies soos Tafelberg, aldus dié huldeblyktekening deur dr. Francois Verster wat ons met sy vergunning hier insluit. ![]() Wenverhale: Toegang Toegang, ’n kortverhaalkompetisie wat PEN Afrikaans met die ondersteuning van PEN International aanbied, het ’n ryke oes van 290 inskrywings gelok. Dankie aan ons beoordelaars wat hul groot taak onlangs voltooi het. Ons sien uit daarna om die nuus oor die wenners te deel. Die top-5 verhale sal vanaf volgende week op LitNet gepubliseer word en sal ook mettertyd as ePDF’s van ons webwerf aflaaibaar wees. Dankie aan LitNet wat as ons publikasievennoot die verhale met ’n wye gehoor gaan help deel. Daar sal ook op LitNet bekend gemaak word watter van die top-5 as die drie wenverhale aangewys is. Die skrywers van daardie verhale sal elk ’n kontantprys ontvang, ’n eksemplaar van PEN International: An Illustrated History, en kan uitsien na voorlesings van hul verhale op RSG se Kortom. Suksesvolle aansoekers vir skrywersresidensie aangekondig ![]() Die Jakes Gerwel Stigting en vennote PEN Afrikaans, PEN Nederland en PEN South Africa is trots om die name bekend te maak van die ses skrywers wat hul gesogte skrywersresidensie vanjaar sal bywoon. Dié maandlange skrywersresidensie, wat hierdie jaar van 6 Junie tot 3 Julie sal plaasvind, word vir die vierde keer aangebied in die Jakes Gerwel Stigting se 197-jaar-oue Paulet Huis in Somerset-Oos in die Oos-Kaap. Aansoeke is in vorige jare beperk tot lede van PEN Afrikaans, maar vanjaar is lede van PEN South Africa en PEN Nederland ook genooi om aansoek te doen. Die groter diversiteit onder deelnemers vergroot die potensiaal vir literêre kruisbestuiwing en behoort stimulerende gesprekke te verseker in Paulet Huis se elegant gemeubileerde eet-, sit- en leeskamer of in die lowerryke tuin. Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Stigting, is entoesiasties oor vanjaar se groep, die eerste suksesvolle aansoekers onder die uitgebreide skrywersresidensie-aanbod, wat behels dat die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans elke tweede jaar hande sal vat met twee nuwe sentrums wat onder die koepel van PEN International val. Hy verduidelik: “Die doel van die projek is om skrywers – opkomend of gevestig – die kans te gee om aan hul daaglikse verantwoordelikhede te ontsnap en voltyds aan hul manuskripte te kan werk. Daar is geen mentorskap betrokke by hierdie residensie nie, so skrywers werk en vorder teen hul eie pas. Ons sien baie uit daarna om hierdie uitgelese groep vanjaar by die Paulet Huis te verwelkom en ons wens hulle ’n wonderlik produktiewe verblyf toe.” Lees by hierdie skakel meer oor die suksesvolle aansoekers. PEN Afrikaans se verklaring oor die afskaling van aktualiteitsdekking op RSG Die programaanpassings wat RSG sedert die begin van April in werking gestel het, verteenwoordig ’n drastiese verskraling van die openbare uitsaaier se voorheen sterk aktualiteitsaanbod en word deur ’n groot aantal luisteraars en joernaliste betreur. Die program Monitor is met ’n uur verkort, en in die proses tot ’n tydgleuf beperk waartydens klaarblyklik minder luisteraars ingeskakel is (06:00 – 07:00). Die program Praat saam, waarvan Lynette Francis-Puren die aanbieder was, is van die lug verwyder. Hierdie programme se enorme bydrae, oor dekades heen, tot die openbare diskoersvoering oor aktuele sake in Afrikaans is sedert die aankondiging van die programveranderings deur verskeie kommentators belig. RSG se nuwe ontbytprogram, Op en wakker, wat sedert 4 April uitgesaai word, is gemik daarop om vermaak te verskaf, oftewel programaanbod op ligter trant as die bydraes oor aktuele sake wat voorheen lugtyd gekry het. PEN Afrikaans is as skrywersorganisasie gemoeid met die stand van ook die Afrikaanse joernalistiek, wat natuurlik radiojoernalistiek insluit. Radio is en bly die toeganklikste medium om feite en nuus aan ’n enorme aantal mense te lewer. ’n Radio is relatief goedkoop en nasionale uitsendings dek die grootste deel van ons land; om radio te luister is boonop gratis. In ’n tyd waarin vals inligting soos ’n pandemie op die sosiale media versprei, is toegang tot gekontroleerde feite en ingeligte gesprekvoering in alle landstale noodsaaklik. Die openbare diskoers oor aktuele sake in Afrikaans is ’n gevoelige slag toegedien met RSG se afskaling van hul aktualiteitsprogramme. Hierdie slag is, met inagneming van die groter medialandskap waarbinne koerante se drukoplae kwyn of verdwyn, en aanlyn nuusplatforms dikwels van betaalmure gebruik maak, des te meer gevoelig. Herman Wasserman se pas gepubliseerde boek Disinformation in the Global South toon dat talle selfoonnetwerke en -kontrakte die sosiale media goedkoop, soms gratis, aan mense bied, terwyl toegang tot feiteblaaie dikwels nog duur data verg – vir baie nuusverbruikers ʼn struikelblok tot sulke gratis toeganklike nuusplatforms. Om verskeie redes, waaronder die gebrek aan redaksionele kontrole en verantwoordbaarheid uitstaan, is die sosiale media geen alternatief vir wat hier verlore gegaan het nie. Teen hierdie agtergrond betreur PEN Afrikaans die nasionale uitsaaier se besluit om weg te doen met die genoemde program en programdeel wat oor jare as gerekende en gewilde bakens van verslaggewing en gesprekvoering gevestig is. Dit is programme wat in die verlede ’n belangrike rol gespeel het in die oordra van kiesersinligting in die aanloop tot en tydens verkiesings, in die analiseer van politieke en maatskaplike vraagstukke van die dag, en sodoende in die bemagtiging van Afrikaanssprekendes. Dit is verder kommerwekkend dat daar geen openbare raadpleging of gesprek met RSG-luisteraars was voordat die programaanpassings gemaak is nie. Volgens RSG se sakebestuurder is die veranderinge ook deur geen vooraf marknavorsing onderlê nie. As ’n openbare uitsaaier het RSG ’n unieke en belangrike mandaat in diens van die publiek, en daardie mandaat behoort met erns en omsigtigheid benader te word. RSG se bydraers, aanbieders en luisteraars verdien dit. ![]() Hierdie stellingname is hier op ons webwerf beskikbaar. Deel dit gerus indien jul daarmee saamstem. Let asseblief daarop dat RSG op 9 Mei ’n vraelys beskikbaar gemaak het om luisteraarsterugvoer in te win oor RSG se inhoud. Die vraelys neem ongeveer 10 minute om te voltooi. Ons moedig ons lede en ander belangstellendes aan om van hierdie geleentheid gebruik te maak om hul voor- en afkeure met die RSG-bestuur te deel. Die meningspeiling is hier beskikbaar: https://www.rsgplus.org/vraelys/ Pryswenners: UJ-pryse en Akademiepryse Sedert ons vorige nuusbrief is die wenners aangekondig van verskeie van die groot literêre pryse waarvoor Afrikaanse skrywers in aanmerking kom. Baie geluk aan die wenners van die 2022 UJ-pryse. S.J. Naudé ontvang die UJ-prys vir sy tweede kortverhaalbundel, Dol heuning. Ashwin Arendse en Frederik de Jager ontvang gesamentlik die UJ-debuutprys: Arendse vir sy digbundel Swatland en De Jager vir sy essays en rubrieke in Man op ʼn fiets êrens heen. ![]() ![]() Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het ook die wenners van die gesogte Akademiepryse bekend gemaak. Die Hertzogprys vir Prosa gaan vanjaar aan S.J. Naudé vir Dol heuning. Die Eugène Maraisprys vir Poësie word toegeken aan Ashwin Arendse vir Swatland. Die Eugène Maraisprys vir Prosa word toegeken aan Frederik de Jager vir Man op ʼn fiets êrens heen. Die Scheepersprys vir Jeugliteratuur word toegeken aan Fanie Viljoen vir Offers vir die vlieë. Die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur gaan aan Jaco Jacobs vir Die boekwinkel tussen die wolke. Prof. H.P. van Coller ontvang die N.P. van Wyk Louwmedalje. Dit word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van ʼn vertakking of vertakkings van die geesteswetenskappe. Die Protea Boekhuisprys word toegeken aan Carel van der Merwe vir Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen. Baie geluk aan al die wenners en aan die benoemdes. Die volledige inligting is hier beskikbaar. Maandelikse resensie-oorsig ![]() Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in April 2022 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsigte sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Dit is ’n plesier om vanaf hierdie keer ook boekeinhoud van SARIE-tydskrif en sarie.com te kan insluit. Dankie aan SARIE se boekeredakteur, Phyllis Green, en aan al die ander bydraers tot hierdie maandelikse oorsig. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in Mei 2022 Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Dit sluit in Carien Smith se debuutkortverhaalbundel, Bot, en Rudie van Rensburg se nuwe spanningsroman, Monster. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Nuwe lede Die volgende nuwe lede het sedert ons vorige nuusbrief aangesluit en ons heet hulle graag ook hier welkom: Mellet Moll Theolla Langenhoven Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |