Die Jakes Gerwel Stigting en vennote PEN Afrikaans, PEN Nederland en PEN South Africa is trots om die name bekend te maak van die gekose drie digters en drie skrywers wat hul gesogte skrywersresidensie vanjaar sal bywoon.

Dié maandlange skrywersresidensie, wat hierdie jaar van 6 Junie tot 3 Julie sal plaasvind, word vir die vierde keer aangebied in die Jakes Gerwel Stigting se 197-jaar-oue Paulet Huis in Somerset-Oos in die Oos-Kaap.
Aansoeke is in vorige jare beperk tot lede van PEN Afrikaans, maar vanjaar is lede van PEN South Africa en PEN Nederland ook genooi om aansoek te doen. Die groter diversiteit in deelnemers vergroot die potensiaal vir literêre kruisbestuiwing en behoort stimulerende gesprekke te verseker in Paulet Huis se elegant gemeubileerde eet-, sit- en leeskamer of in die lowerryke tuin.
Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Stigting, is entoesiasties oor vanjaar se groep, die eerste suksesvolle aansoekers onder die uitgebreide skrywersresidensie wat behels dat die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans elke tweede jaar hande sal vat met twee nuwe sentrums wat onder die koepel van PEN International val.
Hy verduidelik: “Die doel van die projek is om skrywers – opkomend of gevestig – die kans te gee om aan hul daaglikse verantwoordelikhede te ontsnap en voltyds aan hul manuskripte te kan werk. Daar is geen mentorskap betrokke by hierdie residensie nie, so skrywers werk en vorder teen hul eie pas. Ons sien baie uit daarna om hierdie uitgelese groep vanjaar by die Paulet Huis te verwelkom en ons wens hulle ’n wonderlik produktiewe verblyf toe.”

Die digters is:
Loit Sôls is in Kaapstad gebore en woon tans aan die Weskus van Suid-Afrika. Hy is ’n veelsydige musikant, digter, grafiese ontwerper en skrywer wat opslae maak in die Afrikaanse literêre wêreld. Sy werk verken temas te make met identiteit, geskiedenis en die erfenis van Ghoema-Afrikaans. Sy poësie word gekenmerk deur die hoogs fonetiese skryfwyse en eiesoortige ritmes van die Kaapse spreektaal (ghoema) en sy gedigte is bedoel om hardop gelees te word. Hy is die skrywer van My straat en anne praat-poems (1998) wat in aanmerking gekom het vir die Ingrid Jonker-prys en Die Faraway Klanke vanne Hadeda (2006). Sy gedigte is in verskeie bloemlesings opgeneem en selfs vertaal in Nederlands, Frans en Bahasa Indonesies. Tydens die residensie sal hy werk aan sy derde digbundel, Moerstaal.
Emma Crebolder is afkomstig van Limburg in Nederland. Sy werk tans aan ’n digbundel waarvan sy die inspirasie vind in die werk van die welbekende Suid-Afrikaanse kunstenaar Pippa Skotnes. As ’n lewenslange student van tale en letterkunde, het sy haar passie vir woorde toegespits op die studie van Afrikatale met Swahili as hoofvak by die Universiteit van Leiden. Sy beskryf haarself as ’n digter en ’n Afrikanis, en was vir baie jare woonagtig in Tanzanië. Met haar terugkeer na haar land van oorsprong, is sy deur die stad Venlo aangestel as die eerste amptelike stadsdigter in Nederland.
Elodi Troskie is tans woonagtig in Kaapstad. Sy is ’n nagraadse student in Afrikaanse letterkunde en maak deel uit van ’n groep kreatiewe en progressiewe jong stemme in die kuns- en kultuurwêreld. Sy is die inhoudsredakteur van die aanlynjoernaal Klyntji.com waarin haar eie skryfwerk fokus op die omgewing. By Paulet Huis sal sy aan haar gedigte werk en sy hoop “om daar stil te word, te fokus, om baie te lees, om nuwe bome te leer ken en produktief te skryf.” Vir Troskie het haar seleksie vir die skrywersresidensie soveel meer betekenis omdat sy, kort na sy daarvoor aansoek gedoen het, uitgevind het dat haar oorlede vader grootgeword het in Pauletstraat, aan die voet van die Boschberge: “Byna tien jaar ná hy oorlede is, is dit betekenisvol om deur hierdie skakel met plek en landskap weer aan hom verbind te word.” Sien jgf.org.za vir meer kommentaar deur Elodi Troskie.
Die skrywers is:
Mphuthumi Ntabeni van Kaapstad. Met sy intense belangstelling in grensliteratuur, bied Ntabeni ’n nuwe blik op die geskiedenis deur sy roman Broken River Tent waarvoor hy die Universiteit van Johannesburg Debuutprys in 2019 ontvang het. Sy tweede roman The Wanderers is in 2021 vrygestel en ook goed ontvang. Tydens die residensie by Paulet Huis sal hy werk aan sy derde boek, Marked Men, waarin hy die lewensverhale vertel van die Nederlandse sendeling Johannes van der Kemp en van Tiyo Zisani Soga, die eerste swart predikant wat in Skotland gestudeer het en georden is. Ntabeni het ’n rubriek in The Southern Cross en sy aanlyn-boekklub Qhamisa Book Club het oor die 2 000 lede.
Mia Arderne het in Bellville-Suid grootgeword en woon tans in Observatory, Kaapstad. Arderne is ’n joernalis, rubriekskrywer en draaiboekskrywer vir films. Sy beskryf haar gevierde debuutroman Mermaid Fillet as ’n “surrealistiese misdaadroman oor die onwettige smokkelary van meerminne en ’n godin wat menstruele bloed laat neerreën elke keer wat seksgeweld gepleeg word”. Sy sal by Paulet Huis werk aan haar tweede boek, My Secret Creature, ’n jeugroman met mitologiese temas.Vir Arderne beteken die vooruitsig om te gaan skryf in ’n omgewing wat so mooi is soos Somerset-Oos die “perfekte atmosfeer om ’n nuwe kreatiewe skryfstuk te begin en om nuwe idees te inspireer”. Die residensie in Paulet Huis is ’n geleentheid om “uit die stad te kom en die spasie en geestelike vrede te vind om te skryf en om weer emosionele energie en kreatiewe momentum te vind”. Sien jgf.org.za vir nog kommentaar deur Arderne.
Naomi Meyer woon in Stellenbosch. As senior inhoudsbestuurder by die literêre webwerf LitNet (litnet.co.za), is dit uiters moeilik vir Meyer om tyd vir haar skryfwerk te vind. Sy is op die oomblik besig met haar derde roman met die werkstitel Force Majeure en, toe sy die uitnodiging sien om aansoek te doen vir die residensie by Paulet Huis het sy dit dadelik gedoen: “Ek het geweet ek moet nie te veel nadink nie. Ek móés eenvoudig net aansoek doen vir hierdie wonderlike geleentheid. Die sperdatum vir die aansoek het my gemotiveer en ek hoop die sperdatum wat deur die maandlange residensie geskep word, sal my ook inspireer om my manuskrip klaar te maak!” Meyer sien uit daarna om “kopspasie en skryftyd te vind in ’n rustige omgewing”. By Paulet Huis sal sy saam met haar karakter Niilo terugreis van Ierland waar sy 19 jaar lank gebly het: “Op ’n dag kry Niilo ’n telefoonoproep. Haar neef is dood. Sy dood is ’n raaisel vir mense, maar sy weet dadelik: dit was moord.” Lees meer oor Meyer by jgf.org.za.
Oor die vennote:
Die Jakes Gerwel Stigting poog om die nalatenskap van prof Jakes Gerwel – wat uitgeblink het as opvoeder, bevryder, beskermheer van die kunste en sakeman – met relevante projekte uit te bou. Die Stigting fokus op die bevordering en bemagtiging van skrywers en wil bydra tot die uitbreiding en verryking van die Suid-Afrikaanse letterkunde. Die Stigting is trots op hul vennootskap met PEN Afrikaans, veral omdat prof Gerwel passievol was oor Afrikaans en sy diverse moedertaalsprekers.
Meer inligting oor die Jakes Gerwel Stigting kan verkry word by jgf.org.za.
PEN Afrikaans, PEN Nederland en PEN South Africa is drie van die meer as 140 sentrums van PEN International (pen-international.org), die wêreld se voorste skrywersvereniging. PEN International ondersteun vryheid van spraak, bevorder letterkunde en beskerm skrywers.
Lees meer oor hierdie jaar se PEN-vennote:
PEN Afrikaans by penafrikaans.org.za
PEN Nederland by pennederland.nl
PEN South Africa by pensouthafrica.co.za