![]() |
Beste lede en vriende van PEN Afrikaans ’n Gesamentlike protesaksie teen die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg ![]() Dankie aan almal wat deelgeneem het aan die gesamentlike protesaksie van PEN Afrikaans, PEN South Africa, ANFASA en PASA teen die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg deur die Nasionale Vergadering, wat op 29 Februarie oor die wetsontwerp sou praat en stem. Ons petisie is wyd gedeel en is binne enkele dae deur meer as 4200 mense onderteken. Dit het helaas nie die uitkoms van die sitting oor die wetsontwerp verander nie. Die ANC se meerderheidstem het die saak beklink: die wetsontwerp is opnuut aanvaar en is tans op die president se lessenaar vir oorweging. Die president kan dit óf onderteken óf na die Konstitusionele Hof verwys om te beslis oor die moontlik ongrondwetlike bepalings wat dit bevat. Die Kopieregkoalisie, waarvan PEN Afrikaans lid is, se petisie doen ’n beroep op die president om nie die wetsontwerp te onderteken nie. Voeg gerus jul stemme daartoe deur die petisie hier te onderteken. Lees by hierdie skakels meer oor ons petisie, insluitend skrywersaanhalings oor die rampspoed wat hierdie wetsontwerp voorspel, sowel as ’n gesamentlike verklaring oor die uitkoms van die sitting: Oor die petisie PEN Afrikaans oor die uitkoms van die sitting ’n Gesamentlike verklaring deur die organiseerders van die petisie oor die aanvaarding van die wetsontwerp Baie dankie aan die joernaliste en mediaplatforms vir die dekking van die protes teen die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg. Sien byvoorbeeld: LitNet Maroela Media: Oor die petisie Oor die aanvaarding van die wetsontwerp Netwerk24: Oor die petisie Oor die aanvaarding van die wetsontwerp Dankie ook vir die ondersteuning van ons lede uit die uitgewersbedryf waarop ons kon reken. ![]() Foto: Gys Visser Bettina Wyngaard se meningstuk oor die toekoms van die Afrikaanse boekbedryf is besonder tersaaklik. Klik hier om dit te lees. Met inagneming van die donker prentjie waarop die aanvaarding van die wetsontwerp dui, is die naweek se wending baie welkom: Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het by ’n vergadering met verteenwoordigers van die skeppende bedrywe laat blyk dat die ANC ’n beroep op die president sal doen om dit nie te onderteken nie. Lees verder hier. ![]() Mag dit ’n keerpunt wees. Ons sal ons lede op hoogte hou van verdere verwikkelinge. Die wêreld van die skrywer: artikelreeks Ons is bly om aan te kondig dat die bekroonde skrywer en akademikus Francois Smith volgende aan die woord sal wees in ons artikelreeks genaamd “Die wêreld van die skrywer”. Ons het hom gevra om uit te wei oor hoe ’n skrywer ’n oorlogsbelewenis kan verwoord. Hou gerus ons webwerf en sosialemedia-platforms dop vir die artikel. Dit behoort teen die begin van April beskikbaar te wees. Books on the Bay Books on the Bay, Simonstad se literêre fees, sal van 22 – 24 Maart plaasvind. Kyk gerus na die fees se webwerf om te sien watter topskrywers vanjaar daaraan deelneem: https://www.booksonthebay.co.za/ Dit sluit in: Annemarié van Niekerk, skrywer van Onder ’n bloedrooi hemel. Sy sal op Vrydagmiddag 22 Maart om 14:30 met Ena Jansen gesels. ![]() Annemarié woon die afgelope 20 jaar in Den Haag. Haar boek is ’n ontroerende en onthutsend-eerlike verkenning van haar jeug en die trauma van Suid-Afrika se geskiedenis. Ena was bijzonder hoogleraar Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam. Sy het onder andere oor Elisabeth Eybers, huiswerkers en die Boereoorlog gepubliseer. Kaartjies kos R80 elk en kan via Webtickets gekoop word. Wenners aangekondig: LAPA se Jeugromankompetisie 2023 ![]() Baie geluk aan die wenners van die LAPA 2023-Jeugromankompetisie. Fanie Viljoen is as algehele wenner aangewys vir sy boek, “Ons laaste legendariese somer”, en ontvang die prysgeld van R30 000. Die drie naaswenners is Jacolet van den Berg (“Bravo! Charlie”), Zelda Bezuidenhout (“Quinn se jaar van kwik”) en Annerle Barnard (“Sterstof”). LAPA se aankondiging lees: “Fanie se boek sal in September op die rakke wees, Zelda se boek in Oktober en Annerle en Jacolet se boeke verskyn beide in November. Van die ander boeke op die kortlys staan ook steeds ’n kans om in die volgende jaar gepubliseer te word. Hartlik geluk aan die wenners! ’n Groot dankie ook aan elke skrywer wat ’n manuskrip ingedien het. Ons sien julle met ons volgende kompetisie!” Fakture vir ledegeld en welkom aan nuwe lede Fakture vir 2024 se ledegeld is pas uitgestuur. Baie dankie aan almal wat reeds werk gemaak het daarvan om die ledegeld aan ons oor te betaal. Die jaarlikse ledegeld van R300 is van belasting aftrekbaar en sluit lidmaatskap van PEN International in. Laat weet ons asseblief by penafrikaans@gmail.com indien jy nog nie ’n faktuur ontvang het nie, maar tog vanjaar ’n betaalde lid van PEN Afrikaans wil wees. Op daardie noot sê ons hartlik welkom aan die volgende lede wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het: Annemarié van Niekerk Anne-Marie Bartie Elsabé Brits Jaco Barnard-Naudé Michèle Meyer Sybrand Harris Maandelikse resensie-oorsig ![]() Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Februarie 2024 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in Maart 2024 Baie geluk aan ons lede wat in Maart nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Dit sluit in: nuwe boeke deur Ebbe Dommisse, Wendy Maartens, Elsa Winckler, Hannes Barnard, Nerine Ahlers, Cas Vos, en vergun ons ook ’n spesiale gelukwensing aan een van ons bestuurslede, Lynthia Julius, met die publikasie van haar tweede digbundel. ![]() Ten slotte: – Dit was vir ons ’n eer om onlangs ’n gedigvoorlesing deur Diana Ferrus te kon instuur as PEN Afrikaans se inskrywing vir ’n videoprojek van PEN International se Komitee vir vertaling en taalregte. Dié projek is gemik daarop om inheemse tale en taaldiversiteit te vier deur tussen Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) en Internasionale Poësiedag (21 Maart) daagliks ’n nuwe video te plaas waarin gedigte in verskillende tale te hoor is. Baie dankie aan Diana Ferrus vir die voorreg om haar gedig te kon indien. Luister hier daarna. – Klyntji.com vier hul tiende verjaarsdag met ’n piekniek in Kirstenbosch Botaniese Tuin op 24 Maart van 11:00 – 15:00. Almal is welkom om te gaan luister na voorlesings deur Ashwin Arendse, Bibi Slippers, Ryan Pedro, Toast Coetzer en Veronique Jephtas. Elkeen is vir hul eie piekniekgoed en toegangskaartjie verantwoordelik. Hier is die skakel na die WhatsApp-groep vir meer inligting. – Die KKNK vind van 23 – 31 Maart op Oudtshoorn plaas. Ons beste wense vergesel die feesmakers en feesgangers. Die program is hier beskikbaar en sluit ook boekgesprekke in. – Ons deel ook graag die goeie nuus dat die Universiteit Stellenbosch pas ’n nuwe Leerstoel in Kreatiewe Skryfwerk aangekondig het. Baie geluk en voorspoed aan Willem Anker, bekroonde skrywer en dramaturg, wat aan die stuur daarvan staan. Lees hier meer. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |