Oor die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg op 29 Februarie 2024

Die bestuur van PEN Afrikaans betreur die uitkoms van vanmiddag se byeenkoms van die Nasionale Vergadering waartydens die opspraakwekkende Wysigingswetsontwerp op Outeursreg opnuut met die meerderheidstem van die regerende party aanvaar is – ondanks besware van opposisiepartye en grootskaalse teenkanting uit die skeppende bedrywe.

Ook skrywers en uitgewers het hul protes teen die wetsontwerp se verreikende verswakking van outeursregbeskerming laat hoor, onder meer deur die ondersteuning van ’n petisie wat PEN Afrikaans saam met twee ander plaaslike skrywersverenigings (PEN South Africa en ANFASA) en die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA) van stapel gestuur het. Die petisie het gisteraand 22:00 gesluit en het in minder as ’n week 4247 ondertekenaars gelok, wat menigte van ons land se voorste skrywers insluit. (Sien kommentaar van sommige ondersteuners onder.)

“Dit is uiters betreurenswaardig dat die wetgewer ten spyte van grootskaalse kritiek van kopieregkenners en opregte sorg van ons land se skrywers wat vir hul brood en botter op outeursreg staatmaak, kies om bloot voort te gaan met hierdie wetsontwerp wat soveel skade vir ons boekbedryf voorspel,” sê Bernard Odendaal, voorsitter van PEN Afrikaans.

Soos in 2020, sal die wetsontwerp nou weer na president Cyril Ramaphosa gaan vir ondertekening. Indien hy steeds besorgd is oor die grondwetlikheid van sekere bepalings daarin, kan hy dit na die Konstitusionele Hof verwys.

“Dit bly vir ons ’n saak van erns om, in belang van ons lede en die groter Suid-Afrikaanse boekbedryf, die stem van skrywers te laat opklink hieroor. Ons beoog om aan te hou om juis dit te doen,” sê Odendaal.

***********