Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Aansoeke ingewag: skrywersresidensie Aansoeke vir die skrywersresidensie wat die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans vanjaar weer aanbied, sluit 19 Maart. Ons herinner alle opbetaalde lede van PEN Afrikaans dat julle kan aansoek doen vir die verblyfsprogram wat in die Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos in die Oos-Kaap aangebied word. Die doel met hierdie projek is om aan skrywers die geleentheid te bied om vir ’n maand lank van hulle daaglikse verpligtinge te ontsnap om voltyds aan hul manuskripte te kan werk. Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf vanaf 28 Junie tot 23 Julie 2021, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe. Alle genres sal oorweeg word. Kontak Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stiging, by theo@jgf.org.za om aansoek te doen. Volledige inligting is hier beskikbaar. PEN Afrikaans vier Internasionale Moedertaaldag 2021 Sedert ons vorige nuusbrief het PEN Afrikaans saam met die res van die wêreld Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie gevier. Klik hier vir gedigvoorlesings en meer inligting oor Moedertaaldag. Jolyn Phillips, bekroonde digter, dosent en bestuurslid van PEN Afrikaans, het ’n oorspronklike gedig vir die geleentheid geskryf met die titel “Prometheus is my pa se naam”. Breyten Breytenbach, internasionaal gevierde digter, skrywer en visuele kunstenaar, lees ’n aangrypende gedig oor moedertaal voor. Dit is “wanneer jy die moedertong”, gedig 6.9 in sy bundel Op weg na kû. Die opname is gemaak by die bekendstelling van die bundel by The Book Lounge en word gedeel met die vriendelike vergunning van die digter, en met dank aan Albert du Plessis. Fakture vir ledegeld en welkom aan nuwe lede Fakture vir 2021 se ledegeld is aan alle lede gestuur. Laat weet gerus by penafrikaans@gmail.com indien jy nie ’n faktuur ontvang het nie en wel vanjaar ’n lid van PEN Afrikaans wil wees. Dit is ’n plesier om hier hartlik welkom te sê aan die volgende nuwe lede wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het: Salvia Ockhuis Madelein Rust Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer Die jongste artikel in ons artikelreeks fokus op skryf vir die skolemark, by verre die grootste en ook andersins ’n besonder belangrike deel van die boekemark. Ons het die veelbekroonde skrywer Jaco Jacobs gevra om sy gedagtes neer te pen oor hoe ’n skrywer te werk kan gaan om iets vir die skolemark te skep. Is daar spesifieke moets en moenies? Wie hou ’n mens in gedagte terwyl jy skryf? Lees die artikel hier. Baie dankie aan Jaco vir die bydrae. Klimaatdichters: ’n Internasionale poësieprojek Klimaatdichters, ’n inisiatief wat geloods is deur Vlaamse en Nederlandse digters wat besorgd is oor die mens se impak op die aarde en hierdie tema in poësie ontgin, nooi Afrikaanse digters om by hulle betrokke te raak. Lees gerus hier meer oor die insiatief, wat in die Lae Lande begin het, maar wat stelselmatig uitbrei om digters uit ander lande en tale in te sluit: https://www.klimaatdichters.org/wie Els de Groen van die Klimaatdichters sê: [Het] lijkt ons interessant nieuwe Klimaatdichters uit landen als Zuid-Afrika d.m.v. een interview op de site nader te introduceren. Zo leren we collega’s kennen maar horen we ook iets meer over de situatie terplekke. Die kan immers sterk verschillen. Nederland heeft nauwelijks nog echte natuur en behalve van stikstof en CO2 heeft het vooral te duchten van de zeespiegelstijging. Elders is extreme droogte en weer elders dreigen houtkap en erosie. En overal gaat de roofbouw ten koste van de biodiversiteit. Het is een grote uitdaging de complexe en urgente problemen literair te verwoorden, maar juist uit de hoek van de kunst is de aandacht belangrijk, nu de aarde is verworden tot een provisiekast die in hoog tempo wordt leeggegeten. Indien van ons lede van hierdie geleentheid gebruik wil maak, kan julle ons laat weet by penafrikaans@gmail.com. Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Februarie 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dit sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in Maart 2021 Die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn, bly ’n lekker manier om die nuusbrief mee af te sluit. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Onthou ook dat opbetaalde lede van PEN Afrikaans nog tot einde van die maand vir 15%-afslag op ’n jaarsubskripsie by PharosAanlyn kwalifiseer. Die inligting is hier beskikbaar. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |