Nuusbrief: Junie 2025

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
PEN Afrikaans Vertaalfonds ondersteun vertalings van werk deur Antjie Krog, Etienne van Heerden en Constant van Graan

 
PEN Afrikaans maak met trots bekend dat, na afloop van die jongste lot aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds, die volgende drie vertalings van Afrikaanse werke vertaalsubsidies sal ontvang: 
– ’n Nederlandse vertaling van Binnerym van bloed deur Antjie Krog (De Arbeiderspers)
– ’n Italiaanse vertaling van Die swye van Mario Salviati deur Etienne van Heerden (CH3 Press)
– ’n Albanese vertaling van Jungu Josh: Die goue kalbas deur Constant van Graan (Ombra GVG) 

Die toonaangewende literêre uitgewery De Arbeiderspers verwelkom vanjaar vir Antjie Krog, een van ons land se mees gevierde skrywers, tot hul publikasielys. ’n Nederlandse vertaling van haar jongste publikasie, die outobiografiese roman Binnerym van bloed, sal in Augustus in gedrukte sowel as e-boekformaat by hul verskyn. Die vertaler is Robert Dorsman, ’n hoogs ervare vertaler wat reeds die res van Krog se oeuvre in Nederlands vertaal het, asook werk van vele ander Suid-Afrikaanse skrywers, soos Zakes Mda, Lewis Nkosi, Etienne van Heerden, Nadine Gordimer, Marlene van Niekerk, Olive Schreiner, Gabeba Baderoon, Ingrid Winterbach, Lien Botha, K. Sello Duiker en Francois Smith. Hierdeur sluit Krog aan by ’n uitgewersfondslys wat van die voorste Nederlandse skrywers insluit, maar ook vertalings van topskrywers van elders, soos Paulo Coelho, Joan Didion, Jennifer Egan, Annie Ernaux, Louise Glück, Michel Houellebecq, Cormac McCarthy en Marilynne Robinson. De Arbeiderspers is in 1929 gestig en maak sedert 2014 deel uit van die Singel Uitgewersgroep wat uit verskeie gevestigde, onafhanklike uitgewerye bestaan.
 
CH3 PRESS, ’n Lyon-gebaseerde uitgewery wat boeke in Italiaans en Frans uitgee, het suksesvol aansoek gedoen vir ’n subsidie vir die Italiaanse vertaling van Die swye van Mario Salviati deur Etienne van Heerden (Tafelberg). Hulle beoog om die vertaling teen April 2026 die lig te laat sien en die vertaling word deur Raphael d’Abdon gedoen. D’Abon is ’n skrywer, akademikus en vertaler. Hy is oorspronklik van Italië, maar is tans ’n navorsingsgenoot aan UNISA se Engels-departement. Die vertaalproses is aan die gang en die uitgewery, ’n jong en dinamiese onderneming, het ’n Substack geskep waar belangstellendes die proses kan volg en byvoorbeeld onderhoude lees. Die uitgewery beoog om via hierdie platform reeds voor publikasie die Italiaanse vertaling se aanhang te laat groei. CH3 PRESS meld in hul aansoek dat Die swye van Mario Salviati lig werp op Suid-Afrika se komplekse verhaal terwyl dit ook Italië se eie Tweede Wêreldoorlog-ervaring betrek, met temas van ontworteling, stilte en veerkragtigheid. Die roman het oorspronklik in 2000 verskyn en is met die 2001 M-Net-prys vir prosa bekroon. 
 
Die gerekende Albanese uitgewery Ombra GVG sal ’n Albanese vertaling van Jungu Josh: Die goue kalbas deur Constant van Graan uitgee. Dit het oorspronklik in Afrikaans by Tafelberg verskyn en is die eerste boek in ’n reeks jeugromans vol aksie en avontuur wat in ’n magiese vallei in Oos-Afrika afspeel. Die resensent Magdel Vorster meen dat Van Graan, wie se “narratiewe kreatiwiteit en spel met taal geen perke ken nie”, met hierdie reeks wys “hoe gemaklik en kreatief hy met magiese realisme omgaan.” Die vertaler wat dié roman vir Albanese lesers sal ontsluit, is Sidita Dano, ‘n ervare vertaler (van onder andere Martin Steyn, Jeffrey Archer en Ann Patchett) en ’n professor van vertaalkunde. Die beoogde publikasiedatum is Oktober 2025. 
 
PEN Afrikaans is verheug oor die sterk aansoeke en die vooruitsig daarvan dat ’n verskeidenheid Afrikaanse werke lesers buite ons landsgrense in hul eie taal gaan bereik en verryk.
 
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak, naamlik deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis.
 
Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.
 
Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/
 
Hierdie aankondiging is ook hier aanlyn beskikbaar vir maklike verdere verspreiding.
 
Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer

 
Dit is ’n plesier om die nuwe artikel in ons artikelreeks oor skryfverwante onderwerpe te deel. In hierdie aflewering van “Die wêreld van die skrywer” skryf Keith Oliver Lewis, skrywer van onder meer die wengedig in die Kyk hoe ver het ons gekom-kompetisie wat ons saam met Versindaba aangebied het, oor erkennings en inspirasie in die skryfproses. Hy doen dit met verwysing na sy wengedig, “my taal, no ghap”.
 
Lees gerus die stuk hier. Baie dankie, Keith. 
 
Rus in vrede, Pienkes du Plessis

 
Pienkes du Plessis, wat op 19 Mei oorlede is, het as Afrikaanse skrywer veral met sy humoristiese jagstories bekendheid verwerf.

“Wat die stories so besonders maak, is dat hulle ook nie sommer-net ‘snaaks’ is nie,” skryf André P. Brink in ’n resensie van Die perdekombers en ander stories uit die jagveld. “Daar sit in hulle ’n veldwysheid, ’n fynheid van waarneming en raaksien wat jou lank bybly, wat jy in die oor en die geheue kan vasknoop; ’n besef van menslikheid en eindigheid, van ’n nag wat alle daglig omgewe en wat ten spyte van magtige kampvure tog maar, soos die dood self, ’n sterflike ding is.”

Hy was deur die jare ’n getroue lid van PEN Afrikaans. Ons eer sy nagedagtenis en betuig ons meegevoel aan sy naasbestaandes.

Rus in vrede, Pienkes du Plessis.

Daar is geen veilige plek in Gasa nie

 
Die bestuur van PEN Afrikaans ondersteun die onlangse verklarings wat PEN International oor die konflik in Gasa uitgereik het. Ons voeg ons stem by die stemme wat wêreldwyd opklink teen die volksmoord wat tans in Gasa afspeel.
 
Lees die verklaring hier en deel dit gerus.
 
Dié skrywers haal die 2025 Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel

 

Drie-en-twintig verhale is gekies vir publikasie in die tiende Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel. Dit sluit in kortverhale van die bekroonde digters Jolyn Phillips en Lynthia Julius, wie se suster Sisca Julius ook die bundel gehaal het.
 
Vanjaar se kompetisie het 329 inskrywings gelok. Die algehele wenner sal by die bundelbekendstelling by vanjaar se Stellenbosch Woordfees aangekondig word. Die wenner kry altesaam R30 000 met die komplimente van EasyEquities, wat sedert 2022 die fees ondersteun as naamborg van die EasyEquities Skrywersfees. Elke skrywer wat in die bundel opgeneem word ontvang R5 000, asook ’n EasyEquities-beleggingsrekening met R500 om te belê.
 
Ook PEN Afrikaans het vanjaar geld geskenk om die publikasie van die bundel moontlik te maak.
 
Die skrywers wat in die 2025 Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel opgeneem word, in alfabetiese volgorde, is: 
Anna-Bet Stemmet
Daneel Jantjies
Daniël Lötter
Donovan Greeff
Frederik de Jager
Gerrit Rautenbach
Herman Jonker
Ivor Swartz
Jaco van der Merwe
Jan Vermeulen
Johann de Waal
Jolyn Phillips
Krischka Strydom
Lynthia Julius
Madeleen Welman
Marelize Marais
Marliza van den Berg
Mercia S Burger
Petro van Deventer
Rentia Weber
Sandy Schoeman
Sisca Julius
Tarina Jordaan 
Baie geluk aan al die skrywers! Lees die volledige persverklaring hier: https://www.litnet.co.za/persverklaring-die-skrywers-haal-die-2025-stellenbosch-woordfeeskortverhaalbundel
 
Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Mei 2025 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. 

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Junie 2025
 
Baie geluk aan ons lede wat in Junie nuwe boeke op die rakke het.
Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Ten slotte:
– Ons wens die deelnemers aan die PEN dit neer-skrywersresidensie ’n vreugdevolle en produktiewe verblyf by die Jakes Gerwel Stigting se Paulethuis in KwaNojoli toe. Jolyn Phillips en Erla Diedericks is gekies om PEN Afrikaans se plekke in die huis te vul en die residensie is tans aan die gang. Lees gerus Erla se rubriek wat sy vooraf oor die vooruitsig geskryf het.
– Baie geluk aan die wenners van die UJ-pryse! Die wenner van die 2025 UJ-prys is Ingrid Winterbach vir haar roman Onrus op Steynshoop (Human & Rousseau) en die wenner van die 2025 UJ-debuutprys is Gaireyah Fredericks vir haar bundel korttekste Een voet innie kabr (Kwela). Lees gerus die aankondiging hier
– Die Konstitusionele Hof het sedert ons vorige nuusbrief die saak oor die grondwetlikheid van bepalings van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg aangehoor. PEN Afrikaans is een van die partye wat as deel van die sewende amicus curiae aan die verrigtinge deelgeneem het. Die advokate wat dié kliëntegroep verteenwoordig het, het hul uitstekend van hul taak gekwyt. Ons dank aan die regsfirma Adams & Adams vir al die werk en die kundige bystand. Die tyd sal leer tot watter gevolgtrekking die Konstitusionele Hof oor die wetsontwerp kom, maar ons is versigtig optimisties dat die wetsontwerp nie soos dit tans staan die toets van grondwetlikheid sal slaag nie. Ons nooi weer ons lede en ondersteuners om ons te laat weet indien jul tot die regskoste kan bydra. Dankie aan dié wat reeds so gemaak het. Elke bydrae help. 
– Martelize Faber en Tiaan Booyens het sedert ons vorige nuusbrief by PEN Afrikaans aangesluit. Hartlik welkom! 

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans