
PEN Afrikaans maak met trots bekend dat, na afloop van die jongste lot aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds, die volgende drie vertalings van Afrikaanse werke vertaalsubsidies sal ontvang:
- ’n Nederlandse vertaling van Binnerym van bloed deur Antjie Krog (De Arbeiderspers)
- ’n Italiaanse vertaling van Die swye van Mario Salviati deur Etienne van Heerden (CH3 Press)
- ’n Albanese vertaling van Jungu Josh: Die goue kalbas deur Constant van Graan (Ombra GVG)
Die toonaangewende literêre uitgewery De Arbeiderspers verwelkom vanjaar vir Antjie Krog, een van ons land se mees gevierde skrywers, tot hul publikasielys. ’n Nederlandse vertaling van haar jongste publikasie, die outobiografiese roman Binnerym van bloed, sal in Augustus in gedrukte sowel as e-boekformaat by hul verskyn. Die vertaler is Robert Dorsman, ’n hoogs ervare vertaler wat reeds die res van Krog se oeuvre in Nederlands vertaal het, asook werk van vele ander Suid-Afrikaanse skrywers, soos Zakes Mda, Lewis Nkosi, Etienne van Heerden, Nadine Gordimer, Marlene van Niekerk, Olive Schreiner, Gabeba Baderoon, Ingrid Winterbach, Lien Botha, K. Sello Duiker en Francois Smith. Hierdeur sluit Krog aan by ’n uitgewersfondslys wat van die voorste Nederlandse skrywers insluit, maar ook vertalings van topskrywers van elders, soos Paulo Coelho, Joan Didion, Jennifer Egan, Annie Ernaux, Louise Glück, Michel Houellebecq, Cormac McCarthy en Marilynne Robinson. De Arbeiderspers is in 1929 gestig en maak sedert 2014 deel uit van die Singel Uitgewersgroep wat uit verskeie gevestigde, onafhanklike uitgewerye bestaan.
CH3 PRESS, ’n Lyon-gebaseerde uitgewery wat boeke in Italiaans en Frans uitgee, het suksesvol aansoek gedoen vir ’n subsidie vir die Italiaanse vertaling van Die swye van Mario Salviati deur Etienne van Heerden (Tafelberg). Hulle beoog om die vertaling teen April 2026 die lig te laat sien en die vertaling word deur Raphael d’Abdon gedoen. D’Abon is ’n skrywer, akademikus en vertaler. Hy is oorspronklik van Italië, maar is tans ’n navorsingsgenoot aan UNISA se Engels-departement. Die vertaalproses is aan die gang en die uitgewery, ’n jong en dinamiese onderneming, het ’n Substack geskep waar belangstellendes die proses kan volg en byvoorbeeld onderhoude lees. Die uitgewery beoog om via hierdie platform reeds voor publikasie die Italiaanse vertaling se aanhang te laat groei. CH3 PRESS meld in hul aansoek dat Die swye van Mario Salviati lig werp op Suid-Afrika se komplekse verhaal terwyl dit ook Italië se eie Tweede Wêreldoorlog-ervaring betrek, met temas van ontworteling, stilte en veerkragtigheid. Die roman het oorspronklik in 2000 verskyn en is met die 2001 M-Net-prys vir prosa bekroon.
Die gerekende Albanese uitgewery Ombra GVG sal ’n Albanese vertaling van Jungu Josh: Die goue kalbas deur Constant van Graan uitgee. Dit het oorspronklik in Afrikaans by Tafelberg verskyn en is die eerste boek in ’n reeks jeugromans vol aksie en avontuur wat in ’n magiese vallei in Oos-Afrika afspeel. Die resensent Magdel Vorster meen dat Van Graan, wie se “narratiewe kreatiwiteit en spel met taal geen perke ken nie”, met hierdie reeks wys “hoe gemaklik en kreatief hy met magiese realisme omgaan.” Die vertaler wat dié roman vir Albanese lesers sal ontsluit, is Sidita Dano, ‘n ervare vertaler (van onder andere Martin Steyn, Jeffrey Archer en Ann Patchett) en ’n professor van vertaalkunde. Die beoogde publikasiedatum is Oktober 2025.
PEN Afrikaans is verheug oor die sterk aansoeke en die vooruitsig daarvan dat ’n verskeidenheid Afrikaanse werke lesers buite ons landsgrense in hul eie taal gaan bereik en verryk.
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak, naamlik deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis.
Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.
Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/