Nuusbrief: Julie 2024

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Sewe nuwe vertalings deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds ondersteun

 

’n Stewige lot suksesvolle aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds bring mee dat Afrikaanse boeke uit ’n wye verskeidenheid genres binnekort in onderskeidelik Duits, Engels, Frans, Pools en Sweeds te lees gaan wees.
 
Dit is ’n plesier om bekend te maak dat PEN Afrikaans na afloop van die jongste ronde aansoeke sewe vertalings sal ondersteun. Dit sluit in: gedigte van hedendaagse en ouer Afrikaanse digters, die debuutroman van ’n bekroonde digter en belangrike stem in die Afrikaanse letterkunde, die jongste spanningsroman uit die pen van die gewildste skrywer in Afrikaans, en twee ouer, klassieke Afrikaanse fiksiewerke.
 
Die volgende is ter sprake:  
– ’n Duitse vertaling van ’n keur uit Ilse van Staden se gedigte (Freigeist Verlag)
– ’n Engelse vertaling van Wolk deur Hannes Barnard (Catalyst Press)
– ’n Franse vertaling van Kompoun deur Ronelda Kamfer (Éditions Zoé)
– ’n Franse vertaling van Leo deur Deon Meyer (Éditions Gallimard)
– ’n Poolse vertaling van Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux (ArtRage)
– ’n Sweedse vertaling van ’n keur uit Ingrid Jonker se gedigte (Ellerströms)
– ’n Sweedse vertaling van Orgie deur André P. Brink (Ellerströms)

Freigeist Verlag is ’n onafhanklike uitgewery wat in Berlyn gebaseer is en oorwegend boeke oor kuns, filosofie en digkuns publiseer. ’n Keur uit die werk van die bekroonde Afrikaanse digter Ilse van Staden is ’n nuwe toevoeging tot dié eksperimentele uitgewery se publikasielys. Die vertaler is Peter Constantine, ’n vertaler en professor in vertaling aan die Universiteit van Connecticut. Die bundel heet quastenflosser en die gedigte het ’n tematiese fokus op die naasbestaan van menslike en nie-menslike bewoners van hierdie aarde. Van Staden, ’n digter wat ook as veearts werk, se debuutdigbundel Watervlerk (Tafelberg, 2003) is met die Eugène Marais- en Ingrid Jonker-pryse bekroon. Haar jongste Afrikaanse digbundel, Verveertaal, het in 2023 by Imprimatur verskyn. Sy woon sedert 2012 in Australië.

Catalyst Press is in 2017 gestig as ’n onafhanklike uitgewery wat primêr stemme vanuit Afrika na lesers in die VSA wil bring. Hul publikasielys sluit verskeie (Suid-) Afrikaanse skrywers in en hul lesers kan ook nou uitsien na ’n Engelse vertaling van Wolk, die eerste titel in ’n trilogie jeugromans deur Hannes Barnard. In ’n resensie beskryf Jonathan Amid Wolk as ’n jeugroman wat ’n dreigende apokalips kombineer met ’n sensitiewe liefdesverhaal in “een van daardie boeke wat net werk”. Barnard sal, soos met sy boek Halley se komeet wat ook by Catalyst verskyn het, self die vertaling doen. Die Engelse vertaling sal na verwagting in Januarie 2026 verskyn.
 
Éditions Zoé het suksesvol aansoek gedoen vir befondsing van ’n Franse vertaling van Kompoun deur Ronelda Kamfer. Georges Lory, ’n gesiene en ervare vertaler, sal die vertaling direk uit die Afrikaans doen. Die lys van skrywers wie se werk hy al vertaal het, sluit in: J.M. Coetzee, Nadine Gordimer, Antjie Krog, Breyten Breytenbach. Die Franse vertaling sal na verwagting in April 2025 verskyn, met verspreiding in Frankryk, België, Switserland en Kanada. Kompoun is Kamfer se debuutroman. Dit het in 2021 by Kwela Boeke verskyn en ontvang die Jan Rabie-Rapportprys 2022. In haar commendatio skryf Anastasia de Vries daaroor: “Kompoun is ’n déúrgekomponeerde werk uit die hand van ’n meesterstorieverteller met die taalgevoeligheid van ’n digter en die vernuf, tegniek en skerp waarnemingsvermoë van ’n wêreldklasskrywer.” Die Nederlandse vertaling deur Alfred Schaffer het by Uitgeverij Podium verskyn en is in ’n vorige ronde aansoeke deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds ondersteun.
 
Georges Lory sal ook die Franse vertaling van Leo deur Deon Meyer behartig wat in Oktober 2024 by Éditions Gallimard sal verskyn. Gallimard is een van die voorste uitgewerye in Frankryk en gee Meyer se werk uit onder hul geliefde en bekende druknaam vir spanningsromans, Série Noire. Hierdie druknaam bestaan sedert 1945 en gee skrywers soos Jo Nesbø, Raymond Chandler en Caryl Férey uit.
 
ArtRage sal ’n Poolse vertaling van Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux publiseer. Jerzy Koch sal die vertaling doen. Koch is nie net ’n wydbekroonde vertaler nie, maar ook ’n kenner van die Afrikaanse letterkunde (wat ook al self twee Afrikaanse digbundels die lig laat sien het). ArtRage spesialiseer in buitelandse letterkunde. Hulle uiteenlopende publikasielys sluit gehalte leesstof vanoor die wêreld in, waaronder die werk van die Nobelpryswenner Jon Fosse. ArtRage is aangewys as die Poolse uitgewer van die jaar deur “Magazyn Literacki Książki” en die e-boekplatform Publio.pl (vir die tweede keer in ’n ry).  
 
Die gerespekteerde Sweedse uitgewer Ellerströms het suksesvol aansoek gedoen vir twee subsidies vir Sweedse vertalings vanuit Afrikaans: een vir ’n keur uit Ingrid Jonker se gedigte en ook vir ’n vertaling van Orgie deur André P. Brink. Die beoogde publikasiedatum van beide is November 2025 en Per Holmer sal beide vertalings behartig. Holmer is ’n bekroonde en hoogs ervare vertaler. Hy het al ongeveer 110 boeke vanuit Nederlands na Sweeds vertaal. Ellerströms bestaan sedert 1893, publiseer elke jaar ongeveer 30 titels, met die fokus op vertaalde poësie en prosa van regoor die wêreld.
 
PEN Afrikaans is verheug oor die sterk aansoeke en die vooruitsig daarvan dat ’n wye verskeidenheid Afrikaanse werke lesers buite ons landsgrense in hul eie taal gaan bereik en verryk.
 
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak, naamlik deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys.
 
Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.
 
Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/, en hierdie persverklaring is hier beskikbaar vir maklike verspreiding.
 
PEN Afrikaans oor Media24 se beoogde herstrukturering en die sluiting van die gedrukte uitgawes van Rapport en Beeld
 
Ons sluit hier onder ’n verklaring in wat PEN Afrikaans se bestuur op 4 Julie uitgereik het na aanleiding van die aankondigings oor Media24 se beoogde herstrukturering. In ’n nuusberig bevestig Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24, dat die afleggings en sluitings nie in werking gestel sal word voordat die Mededingingskommissie die mediagroep se beoogde verkoop van On the Dot en hul gemeenskapskoerante aan die drukkery Novus goedkeur nie. Die proses gaan egter voort, en Davidson beklemtoon dat die uitstel nie te wyte is aan enige druk van mededingers of openbare teenstand teen die beoogde stappe nie.

Hier volg PEN Afrikaans se genoemde verklaring.

 
Media24 se beplande herstrukturering kondig die einde van bastions van gedrukte media aan, bring grootskaalse werksverliese en sal ’n gevoelige slag vir Afrikaanse joernalistiek en die Afrikaanse gemeenskap toedien. PEN Afrikaans betreur dit ten sterkste en doen hiermee ’n beroep op Media24 se direksie om die verreikende sakebesluit te heroorweeg.
 
Dié mediamaatskappy, wat deur Naspers besit word, het onlangs bekend gemaak dat hulle beplan om die gedrukte uitgawes van verskeie koerante te staak, insluitend City Press, Daily Sun, Beeld en Rapport.
 
Laasgenoemde twee ikoniese Afrikaanse koerante sal later vanjaar slegs op Netwerk24 gelees kan word. Dit geld ook vir Volksblad en Die Burger Oos-Kaap. Hierdie twee koerante verskyn weliswaar reeds nie meer in gedrukte formaat nie, maar tot dusver kon die koerante nog as e-publikasies in PDF-formaat van Netwerk24 afgelaai word.
 
Dat al hierdie PDF-uitgawes ook gestaak word, bring ’n einde aan die afsonderlike en unieke identiteit van elke koerant, met dié dat die inhoud as los artikels in die groter Netwerk24 geassimileer sal word.
 
Die besluit beïnvloed ook die brood en botter van joernaliste en ander werknemers. Werkverliese van 400 poste word in die vooruitsig gestel.
 
Die bewyse is klinkklaar dat sirkulasiesyfers daal en dat die uitwerking van die digitale wending vir die mediabedryf ingrypend en onherroeplik is. Eweneens is dit onbetwisbaar dat Netwerk24 uitstekende waarde vir intekenaars inhou.
 
Tog het koerante ’n unieke en belangrike rol te speel in enige demokratiese samelewing, en meer nog in ’n land soos Suid-Afrika met hoë vlakke van armoede en werkloosheid. Om nuusverslaggewing in Afrikaans slegs aanlyn en agter ’n betaalmuur beskikbaar te hê, sluit noodwendig menige Afrikaanse lesers uit. 
 
Die sluiting van Rapport se gedrukte uitgawe beteken nie net dat die grootste Afrikaanse koerant, en die enigste nasionale koerant in Afrikaans, nie meer op winkelrakke of in lesers se hande sal wees nie; dit beteken dat ’n toeganklike, tasbare, bekostigbare en geliefde formaat vir feite, nuus en verslaggewing in Afrikaans tot niet sal gaan.
 
Rapport se vryskut-medewerkers is blykbaar ook reeds ingelig dat die (voortaan eksklusief digitale) publikasie se begroting nie meer vir vryskut-personeel voorsiening sal maak nie. Dit sluit die boekeredakteur, rubriekskrywers en resensente in.
 
Indien die boekeblad nie meer voortgesit word nie, sal dit ’n geweldige slag vir Afrikaanse skrywers en resensente wees. Daar is reeds uiters beperkte ruimte vir boekresensies in Media24 se koerante; só ’n verdere verskraling sal ’n groot verlies wees.
 
Die bestuur van PEN Afrikaans betreur die drastiese verarming van die (Suid-) Afrikaanse medialandskap wat Media24 se herstrukturering sal meebring.
 
Ons let daarop dat verskeie sterk stemme teen die beoogde inkrimping opklink, insluitend dié van die voorsitters van Caxton en Capital Newspapers wat meen dat ander alternatiewe nié deur Media24 ondersoek is nie. Die groeiende openbare teenstand sluit ook ’n brief van verskeie oudkoerantredakteurs in.
 
Ons doen enersyds ’n beroep op Media24 se direksie om die besluit te heroorweeg, met voldoende oorweging van alle alternatiewe wat die voortbestaan van dié gedrukte koerante kan bemiddel, en andersyds doen ons ’n beroep op die lesers van boeke, tydskrifte en koerante om die publikasies na waarde te skat en daadwerklik te ondersteun. Die wêreld sal armer wees daarsonder.
 
’n Werkswinkel in Nairobi as deel van die “Right to Write”-projek
 
PEN Afrikaans neem vanjaar op uitnodiging van PEN International deel aan die “Right to Write”-projek, ’n projek ter bevordering van artistieke vryheid en die status van skrywers in vyf Afrikalande, naamlik Malawi, Suid-Afrika, Uganda, Zambië en Zimbabwe. Die doel van die projek is om openbare dialoog te bevorder oor kwessies wat skrywers raak. Die projek word deur UNESCO befonds.
 
Ons was bly en dankbaar oor die goeie verteenwoordiging van PEN Afrikaans by ’n onlangse werkswinkel in Nairobi, Kenia, vir die vyf PEN-sentrums wat aan hierdie projek deelneem. Ons ondervoorsitter, Mercy Kannemeyer, en gewaardeerde lid en voormalige bestuurslid, Anzil Kulsen, het dit namens ons sentrum bygewoon. Ons sluit hul terugvoer oor die ervaring hier onder in. Baie dankie aan Mercy en Anzil.


 
Anzil Kulsen skryf:
 
Die energie was tasbaar in die lesinglokaal by die Radix-hotel in Karen, Nairobi. Die deel van die stad waar ons was, vernoem na die Deense skrywer Karen Blixen, was veilig geïsoleerd van waar ’n groep protesterende jongmense hul misnoeë uitspreek teenoor die land se regering en die finansiële impak op hulle, wat in ’n sekere sin ’n simbool was van die sosiaal-ekonomiese gapings wat oral op die Afrika-kontinent geld.
 
Die aanbieders, naamlik Nduko o’Matigere (op die foto bo), Paminder Parbha, Emmanuel Asamoah, Salwa Mohamed en Gegg Tendwa, verdien elkeen ’n medalje vir die wyse waarop hulle inhoud oorgedra het, maar ook verseker het dat deelnemers voortdurend op hoogte bly van die stand van die GenZ-betoging, met respek vir die regte van hierdie jong aktiviste wat veg vir ’n beter ekonomiese toekoms vir die jeug.
 
Elke deelnemer is behoorlik toegerus om ’n menseregtebenadering teenoor ‘n behoeftebenadering op te weeg by die oorweging van ’n beweging, veldtog en projek. Kennis is voortdurend getoets, met goeie sinergie tydens groepaktiwiteite en terugvoersessies. Daar is geen manier om die waarde van hierdie week te meet nie. An Elephant, an Elephant…and let’s be water, my friend.
 
Mercy Kannemeyer skryf:
 
Die sessies oor menseregte het geweldig vir my uitgestaan. Ons het onder andere gekyk na UNESCO se Universal Declaration of Human Rights, verskillende manifeste (soos PEN International se Women Manifesto), asook die International Covenant on Civil and Political Rights. Ek het van regte gehoor waarvan ek glad nie geweet het nie! En dit was so geweldig bemagtigend om gevallestudies te bekyk, met mense van ander lande te gesels oor ons regte en om te dink waar en hoe PEN Afrikaans by hierdie kennis kan baat. Wat keer op keer uitgestaan het, is Suid-Afrika se progressiewe grondwet en dat ons dit nie sommer ligtelik moet opneem nie. Party van die lande teenwoordig het streng wette in terme van soveel dinge wat ons dikwels as vanselfsprekend vat. Eye-opening! 
 
Ons het baie oor vryheid van spraak en artistieke vryheid gesels. Aangesien daar in Afrikaans en in Suid-Afrika redelik plek is vir vryheid van uitdrukking, dink ek ons moet daarop probeer kapitaliseer deur meer bewusmaking te skep, projekte aan te pak wat ons uitdrukkingsvryheid vier, en deelneem aan weier protes van ander PEN-sentrums waar hulle uitdrukkingsvryheid versmoor word. Ons het ’n stem! Ons het insig. Ons moet ons gereedskap gebruik en maniere probeer vind wat Afrikaans in ’n globale opsig kan bevorder. 
 
Ons het ook heelwat gesels oor inklusiwiteit. Afrikaans het werk om te doen. Een van die lede van Zimbabwe het gevra hoekom is PEN Afrikaans nie deel van PEN South Africa nie. Hoekom het Afrikaans ’n aparte sentrum? Interessante vraag waaraan ek dink ons onsself gereeld moet herinner. Ons hou ons nie weg van die res van Suid-Afrika nie. Terselfdertyd: ons moet onsself verantwoordelik hou vir die groei en bevordering van Afrikaans.
 
Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Junie 2024 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.  
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Julie 2024
 
Baie geluk aan ons lede wat in Julie nuwe boeke op die rakke het. Dit sluit in: Rudie van Rensburg, Ingrid Winterbach, Christelle Wessels, Erla-Mari Diedericks, Annerle Barnard, Nerine Ahlers en Anita van der Walt.
 
Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. 
 
Ten slotte:
– Hartlik geluk aan SJ Naudé, wat onlangs aangewys is as die ontvanger van die UJ-prys vir sy roman Van vaders en vlugtelinge. Lees hier meer.
– PEN Afrikaans en NATi se aanlyn kursus oor die skryf van teaterresensies is sedert ons vorige nuusbrief lekker vol bespreek deur kuns- en teaterentoesiaste vanoor die land. Ons sien uit daarna om aan die einde van die maand saam meer te leer tydens die kursus.
– Baie dankie vir die eerste lot inskrywings vir die gedigte- en kortverhaalkompetisie met die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Lees hier meer oor die kompetisie en stuur gerus jul inskrywings na penkortverhaalkompetisie@gmail.com.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans