Sewe nuwe vertalings deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds ondersteun

’n Stewige lot suksesvolle aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds bring mee dat Afrikaanse boeke uit ’n wye verskeidenheid genres binnekort in onderskeidelik Duits, Engels, Frans, Pools en Sweeds te lees gaan wees.

Dit is ’n plesier om bekend te maak dat PEN Afrikaans na afloop van die jongste ronde aansoeke sewe vertalings sal ondersteun. Dit sluit in: gedigte van hedendaagse en ouer Afrikaanse digters, die debuutroman van ’n bekroonde digter en belangrike stem in die Afrikaanse letterkunde, die jongste spanningsroman uit die pen van die gewildste skrywer in Afrikaans, en twee ouer, klassieke Afrikaanse fiksiewerke.

Die volgende is ter sprake:

  • ’n Duitse vertaling van ’n keur uit Ilse van Staden se gedigte (Freigeist Verlag)
  • ’n Engelse vertaling van Wolk deur Hannes Barnard (Catalyst Press)
  • ’n Franse vertaling van Kompoun deur Ronelda Kamfer (Éditions Zoé)
  • ’n Franse vertaling van Leo deur Deon Meyer (Éditions Gallimard)
  • ’n Poolse vertaling van Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux (ArtRage)
  • ’n Sweedse vertaling van ’n keur uit Ingrid Jonker se gedigte (Ellerströms)
  • ’n Sweedse vertaling van Orgie deur André P. Brink (Ellerströms)

Freigeist Verlag is ’n onafhanklike uitgewery wat in Berlyn gebaseer is en oorwegend boeke oor kuns, filosofie en digkuns publiseer. ’n Keur uit die werk van die bekroonde Afrikaanse digter Ilse van Staden is ’n nuwe toevoeging tot dié eksperimentele uitgewery se publikasielys. Die vertaler is Peter Constantine, ’n vertaler en professor in vertaling aan die Universiteit van Connecticut. Die bundel heet quastenflosser en die gedigte het ’n tematiese fokus op die naasbestaan van menslike en nie-menslike bewoners van hierdie aarde. Van Staden, ’n digter wat ook as veearts werk, se debuutdigbundel Watervlerk (Tafelberg, 2003) is met die Eugene Marais- en Ingrid Jonker-pryse bekroon. Haar jongste Afrikaanse digbundel, Verveertaal, het in 2023 by Imprimatur verskyn. Sy woon sedert 2012 in Australië.

Catalyst Press is in 2017 gestig as ’n onafhanklike uitgewery wat primêr stemme vanuit Afrika na lesers in die VSA wil bring. Hul publikasielys sluit verskeie (Suid-) Afrikaanse skrywers in en hul lesers kan ook nou uitsien na ’n Engelse vertaling van Wolk, die eerste titel in ’n trilogie jeugromans deur Hannes Barnard. In ’n resensie beskryf Jonathan Amid Wolk as ’n jeugroman wat ’n dreigende apokalips kombineer met ’n sensitiewe liefdesverhaal in “een van daardie boeke wat net werk”. Barnard sal, soos met sy boek Halley se komeet wat ook by Catalyst verskyn het, self die vertaling doen. Die Engelse vertaling sal na verwagting in Januarie 2026 verskyn.

Éditions Zoé het suksesvol aansoek gedoen vir befondsing van ’n Franse vertaling van Kompoun deur Ronelda Kamfer. Georges Lory, ’n gesiene en ervare vertaler, sal die vertaling direk uit die Afrikaans doen. Die lys van skrywers wie se werk hy al vertaal het, sluit in: J.M. Coetzee, Nadine Gordimer, Antjie Krog, Breyten Breytenbach. Die Franse vertaling sal na verwagting in April 2025 verskyn, met verspreiding in Frankryk, België, Switserland en Kanada. Kompoun is Kamfer se debuutroman. Dit het in 2021 by Kwela Boeke verskyn en ontvang die Jan Rabie-Rapportprys 2022. In haar commendatio skryf Anastasia de Vries daaroor: “Kompoun is ’n déúrgekomponeerde werk uit die hand van ’n meesterstorieverteller met die taalgevoeligheid van ’n digter en die vernuf, tegniek en skerp waarnemingsvermoë van ’n wêreldklasskrywer.” Die Nederlandse vertaling deur Alfred Schaffer het by Uitgeverij Podium verskyn en is in ’n vorige ronde aansoeke deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds ondersteun.

Georges Lory sal ook die Franse vertaling van Leo deur Deon Meyer behartig wat in Oktober 2024 by Éditions Gallimard sal verskyn. Gallimard is een van die voorste uitgewerye in Frankryk en gee Meyer se werk uit onder hul geliefde en bekende druknaam vir spanningsromans, Série Noire. Hierdie druknaam bestaan sedert 1945 en gee skrywers soos Jo Nesbø, Raymond Chandler en Caryl Férey uit.

ArtRage sal ’n Poolse vertaling van Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux publiseer. Jerzy Koch sal die vertaling doen. Koch is nie net ’n wydbekroonde vertaler nie, maar ook ’n kenner van die Afrikaanse letterkunde (wat ook al self twee Afrikaanse digbundels die lig laat sien het). ArtRage spesialiseer in buitelandse letterkunde. Hulle uiteenlopende publikasielys sluit gehalte leesstof vanoor die wêreld in, waaronder die werk van die Nobelpryswenner Jon Fosse. ArtRage is aangewys as die Poolse uitgewer van die jaar deur “Magazyn Literacki Książki” en die e-boekplatform Publio.pl (vir die tweede keer in ’n ry).  

Die gerespekteerde Sweedse uitgewer Ellerströms het suksesvol aansoek gedoen vir twee subsidies vir Sweedse vertalings vanuit Afrikaans: een vir ’n keur uit Ingrid Jonker se gedigte en ook vir ’n vertaling van Orgie deur André P. Brink. Die beoogde publikasiedatum van beide is November 2025 en Per Holmer sal beide vertalings behartig. Holmer is ’n bekroonde en hoogs ervare vertaler. Hy het al ongeveer 110 boeke vanuit Nederlands na Sweeds vertaal. Ellerströms bestaan sedert 1893, publiseer elke jaar ongeveer 30 titels, met die fokus op vertaalde poësie en prosa van regoor die wêreld.

PEN Afrikaans is verheug oor die sterk aansoeke en die vooruitsig daarvan dat ’n wye verskeidenheid Afrikaanse werke lesers buite ons landsgrense in hul eie taal gaan bereik en verryk.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak, naamlik deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/

Medianavrae kan gerig word aan PEN Afrikaans by penafrikaans@gmail.com.