Inskrywings ingewag: Aanlyn kursus oor die skryf van teaterresensies

PEN Afrikaans se aanlyn kursusse het al ’n instelling op ons jaarprogram geword en dit is vir ons ’n voorreg en ’n plesier om vanjaar in vennootskap met die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) ’n aanlyn kursus oor die resensering van teaterproduksies beskikbaar te maak. 

Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, beskryf teaterresensies as ’n uiters waardevolle deel van die teater-ekosisteem: “Dit dien as merker in tyd, omdat dit wat ons doen so vlietend is. Juis vanweë daardie vlietendheid het gehore hulp nodig om te besluit of hulle na ’n produksie gaan kyk of nie.  Dis soms ’n ongemaklike verhouding wat bestaan tussen kunstenaar en resensent, maar dit is noodsaaklik.  En NATi is PEN Afrikaans dankbaar vir die geleentheid om hier betrokke te raak.”

Op Saterdag 27 Julie kan belangstellendes inskakel vir dié aanlyn resensiekursus wat deur die kundige en ervare vryskut kunsjoernalis, Diane de Beer, aangebied sal word. Sy is ook die stem en dryfkrag agter die gewilde blog De Beer Necessities (https://debeernecessities.com/).

De Beer beplan om op geselstrant en vanuit jare se ondervinding saam met kursusgangers te besin oor die resensiepraktyk waar dit by teater kom. Wat benodig die resensent? Hoe berei ’n mens voor? Waarteen moet jy waak? Wat is die resensent se posisie in die kunsbedryf?

Deelnemers sal ook die geleentheid hê om vooraf ’n opname van die wyd bekroonde toneelstuk Rooiland, met teks deur Tertius Kapp en regie deur Jaco Bouwer, te kyk, te resenseer en as deel van die kursus ook terugvoer oor hul resensies te kry.

Kontak ons by penafrikaans@gmail.com om jou plek te reserveer. Daar is slegs 20 plekke beskikbaar en inskrywings sluit 1 Julie. Die koste beloop R200 per persoon, maar daar is beurse beskikbaar vir gratis bywoning.