Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Oor skryf en lees: Ashwin Arendse, Crystal-Donna Roberts en Joha van Dyk Dit was vir ons ’n plesier om ’n paar weke gelede, aan die einde van Jeugmaand, ’n reeks video’s bekend te stel waarin jong skrywers en lesers kan sien en hoor dat wêrelde deur skryf en lees oopgaan. Ashwin Arendse, Crystal-Donna Roberts en Joha van Dyk is aan die woord in die video’s. Hulle praat oor hul onderskeie skryfreise, die waarde van lees, van representasie in literatuur, en die krag van taal, spesifiek Afrikaans, as gereedskap in ’n skrywer se arsenaal. Kyk en deel dit gerus hier. Dankie aan Gizela Conradie vir die verfilming en redigering, en aan PEN International vir die finansiële ondersteuning. Die Jakes Gerwel Stigting stel eerste internasionale genootskap bekend Die Jakes Gerwel Stigting het onlangs hul eerste 6-wekelange internasionale genootskap aangekondig, wat in die eerste kwartaal van 2024 in New York, VSA sal plaasvind. Daar sal van die suksesvolle kandidaat verwag word om meestersklasse by die Columbia Universiteit se Kunsskool asook by The New School by te woon en aan te bied. Die finale bevestiging van die genootskap sal afhang van die aanvaarding van die kandidaat deur die komitee by die Kunsskool. Die Jakes Gerwel Stigting sal die koste van die internasionale vlugte dek en hulp verleen met die visumaansoek en verblyf in New York, insluitend daggelde. Die buigsame 6-wekelange program sal tussen middel Januarie en einde April 2024 plaasvind en die suksesvolle kandidaat sal oor ’n geskikte begin- en einddatum kan onderhandel. Hierdie uitsonderlike geleentheid is slegs oop vir skrywers wat voorheen aan ’n residensieprogram van die Jakes Gerwel Stigting deelgeneem het. Verskeie lede van PEN Afrikaans, wat deur die jare aan ons residensie in samewerking met die Stigting deelgeneem het, kan dus hiervoor in aanmerking kom en ons moedig belangstellendes graag aan om hier meer te lees en die geleentheid aan te gryp. Rus in vrede: Viktoria Amelina PEN Afrikaans betreur saam met PEN-sentrums wêreldwyd die tragiese dood van Viktoria Amelina, ’n begaafde Oekraïense skrywer, menseregte-aktivis en ’n dinamiese lid van PEN Ukraine. PEN Ukraine het met leedwese berig dat Amelina beswyk het aan beserings wat sy opgedoen het op 27 Junie 2023 tydens ’n Russiese missielaanval op ’n restaurant in Kramatorsk. Sy was 37. Romana Cacchioli, uitvoerende hoof van PEN International, sê: “Ons is verpletter deur die moord op ons vriendin en PEN-lid Viktoria Amelina. Ons gedagtes en gebede is met haar familie en geliefdes in hierdie verskriklike tyd. Viktoria se krag, onbaatsugtigheid en vasberadenheid te midde van teëspoed was ’n inspirasie vir ons almal. Terwyl ons haar dood betreur, sal haar woorde, geskrifte en stem vir ewig resoneer. Vandag is ’n tragiese dag vir die PEN-gemeenskap, wat in samehorigheid met almal by PEN Ukraine staan. Diegene wat verantwoordelik is vir haar moord moet voor die gereg gebring word.” Lees PEN International se verklaring, Eben Viktor se berig op LitNet en die volledige sterfteberig wat PEN Ukraine uitgereik het. Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Junie 2023 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in Julie 2023 Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Dit sluit in: nuwe digbundels deur Pieter Odendaal en Kleinboer, Dwelm deur Rudie van Rensburg, wat hierdie naweek by ons resensiekursus bespreek word, en nuwe boeke uit Fanie Viljoen en Elsa Winckler se penne. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Ten slotte: – Baie dankie vir die belangstelling en vinnige volbespreek van die aanlyn resensiekursus wat ons hierdie Saterdag via Zoom aanbied. Kursusgangers sal onder Jonathan Amid se leiding oor die beoordeling van genrefiksie praat en leer. Ons sien uit om van ons lede daar te sien. – RSG bied ook Saterdag ’n aanlyn slypskool aan oor die skryf van radiodramas. Hul radiodramaskryfkompetisie vind weer vanjaar plaas en bly ’n gulde geleentheid vir skrywers. Ook op Saterdag se program is ’n bekendstelling by De Oude Leeskamer in Stellenbosch van Marlise Joubert se Laatnageilande. – Die Woordfees-program is onlangs bekend gemaak. Klik hier om te sien watter ryke verskeidenheid tussen 7 en 15 Oktober 2023 in Stellenbosch te sien sal wees. PEN Afrikaans beoog om weer die Skrywerskamer in te rig en te bestuur, ’n slypskool vir ontluikende skrywers aan te bied, asook die eerste lesing van ’n splinternuwe lesingreeks as deel van die Diskoersprogram. Ons vertel in volgende nuusbriewe meer. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |