Huldiging: Johan Jack Smith

Foto: Melinda Stuurman / Netwerk24

Die bestuur van PEN Afrikaans het met skok en leedwese gehoor van die skielike dood van Johan Jack Smith, bekroonde skrywer, musikant en redakteur van Taalgenoot. Ons het deur die jare die voorreg gehad om met hom saam te werk aan verskeie projekte wat die kollig op Afrikaanse skrywers plaas, insluitend Boeke wat skrywers laat skryf en Vinnige vrae.

Ons sal hom mis en ons dink met innige simpatie aan sy naasbestaandes in hierdie moeilike tyd.

Danie Marais en Izak de Vries, twee van ons bestuurslede wat nou met hom saamgewerk het, bring hier aan hom hulde.  

Danie Marais skryf:

Die mense wat my die diepste beïndruk, is byna altyd mense wat jou nie probeer beïndruk nie, maar brand vir ’n kunsvorm of saak met ’n mengsel van nuuskierigheid, obsessief verworwe kennis en daardie soort groot entoesiasme wat jou weerloos maak. 

Johan Jack Smith was so iemand met ’n uitstekende, donker en oneerbiedige sin vir humor daarby. Ek het saam met hom begin werk toe ek bestuurder van PEN Afrikaans was en hy pas as redakteur van Taalgenoot oorgeneem het met ’n vars, helder visie en die behoefte om iets van blywende waarde te skep. Onder sy redakteurskap het Taalgenoot ’n transformasie ondergaan en ’n kultureel relevante tydskrif geword wat uitgedaag, bevraagteken en verras het en welverdiende pryse gewen het. Dit het ’n ruimte geskep vir gehaltejoernalistiek en het tot ’n mate die leemte gevul wat Insig gelaat het.

Johan was verfrissend stroomop en lekker dwars met ’n groot hart vir die onderhond. Hy was ook ’n bleddie goeie skrywer. Sy debuutroman, Zola, is ’n stuk Johannesburg noir wat steeds by my spook en sy Volkspeler was die soort moerige band waarvan ons altyd te min in Afrikaans het.

En dan was hy met roerende trots, toewyding en oorgawe ’n pa vir Rijger en ’n man vir Almerie. 

Dat hy so vroeg weg is, is hartverskeurend.

Izak de Vries skryf:

Johan Jack Smith se dood is onwerklik. Die skryf daaroor voel soos ’n artikel wat hy sou aanvra vir die Taalgenoot. Behalwe dat hy dit nooit oor homself sou aanvra nie. Johan was nie so nie. Hy was die stil ou wat oor ander gepraat het, die een wat ander gevra het vir voorstelle en wat ander stemme ’n kans gegee het. Tog, hy was aan die stuur. Hy het ’n eiesoortige visie gehad. Hy het die tema bepaal. Hy het die briljante voorblaaie laat afneem – onder sy eie regie.

Johan kon ook die raaksien dat ’n span mense meer kon verrig as die individu. Ten spyte van sy sterk leiding en die feit dat hy nie sou skroom om ’n besluit te neem nie, was dit altyd nadat hy met ander gesels het; nadat hy ander die kans gegun het om hulle bydraes te maak.

Daarom ook dat hy PEN Afrikaans die geleentheid gegee het om by te dra tot die Taalgenoot. Hy het verstaan dat Afrikaans soos ’n minibus is – daar is altyd plek vir nog iemand.

Van minibusse gepraat: Sy Zola, oor ’n andersoortige minibus, is ’n briljante krimi, deels omdat dit soveel verskillende vlakke van ons samelewing raakvat. 

Dit is onwerklik om te dink dat die lang, maer man nie weer om die hoekie van die ATKV se hoofkantoor aan ’n sigaret gaan staan en suig nie.