Nuusbrief: Februarie 2023

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Die jaar is al volstoom aan die gang, maar ons wens julle tog graag in hierdie eerste nuusbrief van 2023 ’n voorspoedige en produktiewe jaar toe.
 
Die verwoestende aardbewings aan die begin van Februarie in Turkye en Sirië het die wêreld aan die hart gegryp. Die (steeds stygende) dodetal oorskry al 40 000. Reddingspogings is bemoeilik deur die grootte van die geaffekteerde gebied, die onbegaanbare paaie en die koue weersomstandighede.
 
In Suid-Afrika is ‘n nasionale ramptoestand afgekondig weens die kragkrisis en vloede in verskeie provinsies. In ander dele van ons land is daar waterskaarste en dalende damvlakke wat kommer wek.
 
In haar bydrae tot ons artikelreeks, skryf Susan Smith:
“Hoe skryf ’n digter oor natuur. Dit is nie die vraag nie. Eerder: hoe skryf jy nié daaroor nie. Jy kies nie ‘n kategorie of spesifieke onderwerp vir jou woorde nie, jy plaas nie ’n etiket om jou woorde nie. Jy kyk om jou, jy luister fyn. Jy probeer ’n pad vind vir jou woorde. Soms is hierdie woorde ’n herkenning van skoonheid, ’n konneksie, ’n vreugde, ’n visuele uitruil. Soms is dit verplettering, dit waarvoor jy jou oë nie kan sluit nie. Dit is dan wanneer jy in die nag rondrol, opstaan en skryf.”

“Ek het ’n stokkie in my hand; ek probeer om ’n stukkie pad oop te maak,” skryf sy aan die einde van haar artikel.
 
In ’n onlangse onderhoud besin Salman Rushdie, ná dekades se doodsdreigemente en die ernstige aanval op hom in Augustus 2022, oor aanhou skryf, oor skryf as doodsveragtende daad. Weens sy beserings sukkel hy om te tik. Hoe beïnvloed dit sy skryfwerk?  “I just write more slowly. But I’m getting there.”
 
Lees die profielonderhoud met Rushdie hier.
 
Jakes Gerwel Stigting- en PEN Afrikaans- / PEN South Africa-residensie

 

Die Jakes Gerwel Stigting, PEN Afrikaans en PEN South Africa wag tans aansoeke in vir ’n residensieprogram wat ten doel het om skrywers onverstoorde skryftyd in Somerset-Oos in die Oos-Kaap vanaf 5 tot 25 Junie vanjaar te bied.
 
Die suksesvolle kandidate sal gehuisves word in die Stigting se pragtige 200-jaar-oue Paulet Huis. Hierdie skrywers kan uitsien na die inspirasie en genot van ’n lowerryke tuin, genoeg spasie om in kreatief te wees, ’n  sjarmante dorpie, die rus en stilte van die omgewing en die samesyn van medeskrywers.
 
Die residensie sluit in:
Binnelandse retoerkaartjies na Gqeberha (Port Elizabeth), indien nodig
Vervoer tussen die lughawe en Somerset-Oos
’n Gerieflike, eie “kamer-met-’n-uitsig”
Skoonmaakdienste
Die Stigting se inwonende sjef se heerlike maaltye
Onbeperkte internettoegang
Skryfruimte in jou eie kamer, in stil hoekies binne die huis en in die tuin
 
Belangstellendes moet hul aansoeke stuur na die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, Theo Kemp, by theo@jgf.org.za teen 17 Maart 2023.
 
Jou aansoek (in die taal waarin jy skryf) moet die volgende insluit:
’n Motiveringsbrief
’n Oorsig van jou skrywersloopbaan tesame met ’n lys van publikasies
Een bladsy wat jou skryfproses vir die residensie uiteensit
’n Uittreksel uit jou skryfprojek: Niefiksie- of fiksiemanuskrip (10–15 bladsye), digkuns (6–10 gedigte), verhoog- of filmdraaiboek (12–15 bladsye)  

Let wel: ’n Brief van ’n uitgewer wat daarin belang stel om jou werk te publiseer, sal sterk in jou guns tel.
 
Hierdie inligting is ook hier beskikbaar vir maklike verspreiding.
 
Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg word provinsiaal oorweeg
 
Die Nasionale Raad van Provinsies sowel as van die individuele provinsiale wetgewers is tans besig met openbare raadpleging oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg. Die volgende provinsiale wetgewers wag reeds voorleggings in: Wes-Kaap, Noord-Kaap, Mpumalanga en Gauteng. PEN Afrikaans sal telkens ons voorlegging aan die betrokke komitees stuur. Dit fokus grootliks op die verreikende kopiereguitsonderings en -beperkings wat deur die wetsontwerp aan die hand gedoen word. Ongelukkig is daar nie tydens enige hersiening van die wetsontwerp van hierdie kommerwekkende verswakking van kopieregbeskerming afgesien nie.
 
Ons moedig ons lede aan om aan die proses deel te neem deur openbare sittings by te woon. Die besonderhede van sittings in die Wes-Kaap is hier beskikbaar. Dit sal in Stellenbosch, Darling, Hermanus en Kaapstad gehou word.
 
In Gauteng word daar hierdie week ’n byeenkoms in Johannesburg beplan. Klik hier vir meer inligting.
 
Fakture vir ledegeld en welkom aan nuwe lede
 
Fakture vir 2023 se ledegeld sal hierdie maand uitgestuur word. Die bedrag, wat van belasting aftrekbaar is, bly R300.00. Ons doen graag ’n beroep op jou om weer vanjaar by ons aan te sluit en, as jy nog nie ’n lid is nie, om een te word.
 
Op daardie noot sê ons hartlik welkom aan die volgende lede wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het:
Diek Grobler
Marcel Spaumer
Jadrick Pedro
Magdalie Grobler
 
Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Januarie 2023 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.  
 
Dit is vir ons ’n plesier om voortaan ook boekverwante inhoud uit Vrye Weekblad in te sluit. Baie dankie aan Deborah Steinmair vir die vriendelike samewerking.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Sien gerus ook hier Desember 2022 se resensie-oorsig.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Januarie en Februarie 2023
 
Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Ten slotte:

– Hartlik geluk aan Estelle Neethling. Haar boek, Escape from Lubumbashi, is aangewys as ontvanger van die 2022 Hiddingh-Currie Literêre Toekenning. Die prys sal in April 2023 aan haar oorhandig word.

– Verskeie Nederlandse vertalings wat deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds is, is nou by SASNEV se Nederlandse biblioteek in Pinelands beskikbaar. Besoek hul gerus. SASNEV is ’n gevestigde en dinamiese kultuursentrum vir die Nederlandse taal en letterkunde, wat ook deur hul werksaamhede die bande tussen Afrikaans en Nederlands verken.  

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans