Nuusbrief: Augustus 2025

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
PEN Afrikaans oor die aanvalle op joernaliste in Gasa

PEN Afrikaans het die stellingname wat volg oor die aanvalle op joernaliste in Gasa uitgereik. Dit is ook hier op ons webwerf beskikbaar. Deel dit gerus. 


Die volgehoue aanvalle op joernaliste wat vanuit Gasa verslag doen, kom neer op die mees ekstreme vorm van sensuur en die bestuur van PEN Afrikaans veroordeel dit ten sterkste. Hierdie joernaliste se stemme word met geweld stilgemaak en op hierdie wyse word die getuies wat eerstehands nuus oor die voortslepende volksmoord in Gasa waarneem en rugbaar maak, sistematies verwyder en vernietig.

The Guardian berig dat, volgens Gasa se mediakantoor, 237 joernaliste sedert Oktober 2023 daar gedood is, terwyl die Komitee vir die Beskerming van Joernaliste, ’n onafhanklike Amerikaanse organisasie, met ’n getal van 186 gevalle joernaliste werk.

In die mees onlangse voorval is vyf joernaliste van die media-organisasie Al Jazeera op Sondag 10 Augustus dood in ’n aanval op die tent vir joernaliste by die hoofingang van die Al-Shifa-hospitaal in Gasa. Die Israelse weemag het bevestig dat hy die joernalis, Anas al-Sharif geteiken het, en beweer dat hy die hoof van ’n Hamas-terreursel was; ’n bewering wat ten sterkste deur Al Jazeera ontken word en waarvoor geen bewyse verskaf is nie.

Dit is in die openbare belang dat joernaliste vrylik en veilig oor oorloë en konflikte moet kan verslag doen. Om joernaliste doelbewus te teiken, is nie net ’n skokkende en onaanvaarbare aanval op die betrokke individu nie, maar ’n ernstige inbreukmaking op persvryheid, uitdrukkingsvryheid, universele menseregte én internasionale humanitêre reg wat vir joernaliste se beskerming in oorlogsones voorsiening maak.

Die doelbewuste aanvalle op joernaliste is ’n klad op die naam van diegene wat dit magtig. PEN Afrikaans veroordeel dit ten sterkste.

Kortlyste vir Netwerk24 kykNET Rapport-boekpryse aangekondig
 
Baie geluk aan al die benoemdes vir die Netwerk24 kykNET Rapport-boekpryse! Ons juig saam met ons lede en bestuurslede wat die kortlyste gehaal het en sê ook hartlik geluk aan die uitgewers van die kortlysboeke.
 
Van vanjaar af sluit dié pryse ook ’n poësieprys ter waarde van R200 000 ter nagedagtenis aan die groot Afrikaanse digter Breyten Breytenbach in. Die algehele prysgeld vir die vyf boekpryse en twee resensiepryse beloop R1,4 miljoen. Die wenners word op 27 September 2025 bekend gemaak tydens ’n funksie by die Mount Nelson Hotel in Kaapstad.
 
Vanjaar se kortlyste is, in alfabetiese orde volgens skrywer:
 
Netwerk24 kykNET Rapportprys: Fiksie (romans)
Die katartiese metode deur Jaco Fouché (Protea Boekhuis)
Een voet innie kabr deur Gaireyah Fredericks (Kwela)
Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach (Human & Rousseau) 

Netwerk24 kykNET Rapportprys: Niefiksie
Amma deur Charmaine Africa (Tafelberg)
Jopie Fourie: ’n Besinning deur Albert Blake (Protea Boekhuis)  
Capitec: Stryd met die grotes deur TJ Strydom (Tafelberg) 

Breyten Breytenbach-prys: Digkuns
Kinderlê deur Lynthia Julius (Queillerie)
Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais (Tafelberg)
Om my kastele in Spanje te sloop deur Jaco Barnard-Naudé (Human & Rousseau)  

Jan Rabie-Rapportprys: Debuut- en tweede prosawerke
Een voet innie kabr deur Gaireyah Fredericks (Kwela)
Die onsigbare deur PJO Jonker (Tafelberg)
Die man wattie kinnes vang deur Nathan Trantraal (Kwela) 

Herman Binge-prys: Roman met filmpotensiaal
Die katartiese metode deur Jaco Fouché  (Protea)
Die onsigbare deur PJO Jonker (Tafelberg)
Onder water deur Henda Olivier (Human & Rousseau) 

Altesaam 95 inskrywings is ontvang vir die vyf pryse wat ten doel het om erkenning te gee aan Afrikaanse skrywers en hulle aan te spoor om steeds gehalteskryfwerk in hul moedertaal te lewer.
 
Lees die volledige persverklaring hier.
 
Aansoeke ingewag: Brussel tot Karoo-skrywersresidensie

 
Jakes Gerwel het sy doktorsgraad in letterkunde en filosofie aan die Vrije Universiteit van Brussel, België, verwerf. Teen hierdie agtergrond werk die Jakes Gerwel-stigting saam met Passa Porta, ’n internasionale letterkundehuis in Brussel, om skrywers van verskillende kontinente in die Karoo bymekaar te bring.
 
Twee Vlaamse skrywers word elke jaar gekies om ’n residensie met twee Suid-Afrikaanse skrywers te deel. Op hierdie manier moedig die vennote kruisbestuiwing aan tussen die skryfwerk van skrywers van verskillende agtergronde en streef daarna om die literatuurkorpus hier en in die buiteland te verryk.
 
Die Vlaamse skrywers vir 2025 is: Frank Keizer en Frederik De Backer.
 
Plaaslike skrywers word hartlik uitgenooi om aansoek te doen. Daar is geen mentors betrokke nie en beide opkomende en gevestigde skrywers van alle genres is welkom om aansoek te doen.
 
Die sluitingsdatum vir aansoeke is hierdie Vrydag 15 Augustus en die residensie sal van 20 Oktober tot 9 November plaasvind.
 
Klik hier vir meer inligting.
 
Datum van ons algemene jaarvergadering
 
Ons algemene jaarvergadering vind op 8 Oktober om 18:00 via Zoom plaas en ons nooi ons lede en ander belangstellendes hartlik uit om dit by te woon. Almal is welkom, maar slegs opbetaalde lede sal stemgeregtig wees.
 
Daar sal vanjaar ’n nuwe bestuur tydens die AJV vir ’n tweejaar-termyn verkies word. Ons sal in volgende maand se nuusbrief die besonderhede oor die verkiesbare kandidate deel. Kontak ons asseblief indien jy jouself of iemand anders vir verkiesing tot die bestuur wil benoem. Baie dankie aan dié wat reeds hand opgesteek het.
 
Lede word uitgenooi om tot 1 September benoemings of agendapunte te stuur na penafrikaans@gmail.com.   
 
Rus in vrede, Madelein Rust



Die bestuur van PEN Afrikaans betreur saam met die groter Afrikaanse skrywersgemeenskap die dood van Madelein Rust, ’n geliefde skrywer wat vir jare met terminale kanker geleef het. Die huldigings wat instroom sedert sy op 6 Augustus oorlede is, wys duidelik hoe sy onthou sal word: vir haar grasie, haar moed, haar sprankel, en haar verbysterende, volgehoue produktiwiteit as skrywer. Haar jongste roman het net verlede maand verskyn. Ons groet ’n merkwaardige mens en betuig ons innige meegevoel aan haar naastes. Mag sy in vrede rus.
 
In 2021 het sy ons vrae vir Taalgenoot beantwoord. Ons het onder andere gevra watter raad sy vir haar jonger self sou gee. Daarop antwoord sy: “Omhels terugslae en tragedies. Sien dit as die noodlot se manier om vir jou te sê daar is beter tye wat voorlê, ’n beter manier om iets te doen. Terugslae en tragedies slyp ’n mens, maak jou beter, sterker en wyser.”
 
Lees Madelein se volledige antwoorde op ons vrae by hierdie skakel.  
 
Rus in vrede, Pirow Bekker

 
Nog ‘n hartseer verlies is die afsterwe van die digter en skrywer Pirow Bekker op 30 Julie. Hy was ‘n veelsydige skrywer wat, sedert sy debuut in 1965, meer as 20 publikasies die lig laat sien het waaruit “sy gevoeligheid vir die lewe daar buite” telkens blyk. Sy nuutste en laaste digbundel, Die bloei van blomme, verskyn eersdags.

Ons dink aan sy geliefdes in hierdie moeilike tyd.
 
“Skryf is ’n voortdurende onvrede met die tevredenheid. Daarom is dit half jammer ’n skrywer is net een maal in hierdie wêreld. Ek sê altyd ’n mens moet drie lewens hê: om te lewe, om te lees, om te skryf.” (Beeld, 10 Desember 1992)
 
Rus in vrede, Pirow Bekker.
 
Luister hier na ’n huldigingsprogram op Skrywers en Boeke: https://omny.fm/shows/skrywers-en-boeke/skrywers-en-boeke-6-augustus-2025
 
Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Julie 2025 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.  
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Augustus 2025
 
Baie geluk aan ons lede wat in Augustus nuwe boeke op die rakke het.
 
Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans