PEN Afrikaans betreur verskeie sentimente vervat in prof. Hennie van Coller se veelbesproke rubriek van 7 Mei 2022, “’Gewone mense’ word al hoe meer randfigure”. Daarin het hy skerp kritiek gelewer op die, volgens hom, oordrewe voorkoms van “maatskaplike probleme” en “randfigure” in kinder- en jeugliteratuur.
Daar is intussen wyd gereageer op die inhoud van Van Coller se rubriek, onder andere deur die skrywer SJ Naudé wat sy aanvaardingstoespraak vir die Hertzogrpys hieraan gewy het. Die bestuur van PEN Afrikaans vereenselwig ons met die strekking van, byvoorbeeld, Naudé se repliek en onderskryf by uitstek ’n inklusiewe Afrikaans en Afrikaanse letterkunde. Insluiting van minderheidsgroepe is ’n wesenskenmerk van die etos van PEN International, die internasionale organisasie waarvan PEN Afrikaans deel vorm.
Dat die rubriek bepaalde vervreemdende en kwetsende beskouings weerspieël, bedoeld al dan nie, blyk duidelik uit die genoemde openbare reaksie daarop – iets wat uiteindelik daartoe gelei het dat Van Coller bedank het as voorsitter, asook lid, van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Letterkundekommissie. Dit was verder verdagmakend van die rol van uitgewers wat moeite doen om diversiteit weerspieël te sien in die Afrikaanse boekbedryf. ’n Opname sal aantoon dat wit, heteroseksuele, cisgender karakters duidelik steeds die norm in die Afrikaanse letterkunde is. Verder is heteroseksuele, monogame verhoudings ook steeds die norm in die Afrikaanse letterkunde. Teen hierdie heersende norm in, is daar wel uitgewers wat moeite doen om minderheidstemme verteenwoordig te help kry. Om hulle werk dan te bevraagteken deur te suggereer dat daar implisiete of eksplisiete aanmoediging blyk te wees daarvan om iets anders as die uitbeelding van ’n sogenaamde “funksionele gesin” na te streef, is nie aanvaarbaar nie. PEN Afrikaans wil dit duidelik maak dat ons steun verleen aan uitgewers wat boeke wil publiseer waarin lesers verteenwoordigend van die verskeidenheid identiteite wat die Suid-Afrikaanse samelewing vorm, hulleself gereflekteer kan sien.
PEN Afrikaans onderskryf ook vrye meningsuitdrukking en het derhalwe tot dusver nie op die inhoud van die rubriek kommentaar gelewer nie. Die inligting wat egter sedertdien openbaar gemaak is oor hoe mede-letterkundiges en -lede van die SA Akademie se Letterkundekommissie deur Van Coller met regstappe gedreig is na aanleiding van hul standpuntinname teen die strekking van dele van sy rubriek, was egter beslis onversoenbaar met die ruimte van oop diskoers wat die SA Akademie juis nastreef. Nie net skrywerkollegas nie, maar ook letterkundiges wat ’n rigtinggewende rol in die Afrikaanse literatuursisteem te speel het, is daadwerklik of by implikasie geïntimideer deur Van Coller as gesaghebbende literator wat, luidens beriggewing, op onvoorwaardelike verskonings deur die kritieklewerende letterkundekommissie-kollegas aangedring het om regstappe teen hulle te voorkom.
Wêreldwyd is die PEN-netwerk daarop ingestel om protes aan te teken en te reageer wanneer skrywers, joernaliste, akademici en uitgewers op grond van hul werk of andersins stilgemaak of te na gekom word. Die stilmaak en verdagmakery van kritiese stemme behoort geen plek in die Letterkundekommissie te hê nie. Vandaar hierdie standpuntverklaring deur PEN Afrikaans.
Talle PEN Afrikaans-lede ken Van Coller as ’n literator wat enorm baie vir ons letterkunde beteken het. Tog kan ons nie anders nie as om krities te staan teenoor sekere strekkings van sy rubriek asook teen sy beweerde optrede in reaksie op kollegas se bekritisering van sulke strekkings in sy rubriek nie.
Teen hierdie agtergrond doen ons ’n beroep op die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns om te verseker dat die Letterkundekommissie-lede wat geoorloofde griewe oor Van Coller se skrywe van 7 Mei ingedien het, nie verder geviktimiseer word nie. ’n Ope uitnodiging deur die SA Akademie aan diesulkes om weer die taak as kommissielede op te neem sou ver gaan om hierdie ongelukkige insidente se negatiewe impak te versag.