Vertaling maak anderstalige wêrelde aan lesers oop – sy dit kinderboeke, fiksie vir volwassenes, digkuns of niefiksie. Die waarde van ’n vertaling lê in die vertaler se vermoë om ’n teks aan die doelteksleser oor te dra sodat dit moeiteloos en met die grootste plesier gelees kan word. Dit is daarom belangriker as ooit om die waarde van vertaling te erken en te vier, en wat tref dié kol beter as om met die kunstenaars van vertaling te gesels. PEN Afrikaans doen in 2024 ’n reeks onderhoude met vertalers van verskillende genres om meer van hulle liefde vir dié kuns te hoor.
Alfred Schaffer, die veelbekroonde Nederlandse digter en vertaler, is hierdie keer aan die woord. As vertaler is hy vir Afrikaanse lesers veral bekend vir sy Nederlandse vertalings van Ronelda Kamfer se werk. Hy vertaal onder andere ook Antjie Krog en Koleka Putuma se werk. Hy ontvang in 2020 die prestigeryke P.C. Hooft-prys 2021 vir sy poësie-oeuvre.
Vertel in een of twee sinne waar jou liefde vir vertaling ontstaan het.
Ek dink dit het begin toe ek meer en meer vertaalde poësie in Nederlands begin lees het, uit al die windstreke waarvan ek die tale minder goed of nie kon lees nie. Pessoa, Dante, Brodsky, Pavese, Achmatova, Borges, Lorca, Juarroz.
Het jy nog altyd geweet dat jy vertaling as beroep sou volg?
Hoegenaamd nie, en ek weet ook nie of ek dit in my geval ’n beroep sou durf noem nie. Op die oomblik is my werk as ’n dosent werklik ’n beroep, en dan is daar nog die belangrikste van alles (as dit kom by werk), en dit is my ‘werk’ as skrywer.
Hoe lank is jy al ’n vertaler?
As ’n mens reken dat jy ’n vertaler ‘is’ wanneer iets gepubliseer word, dan is dit nou veertien jaar: Nu de slapende honden, my vertaling van Ronelda S. Kamfer se poësiedebuut, het in Nederland in 2010 verskyn by Podium.
Watter genre en taal/tale vertaal jy gereeld en hoekom?
Ek vertaal tot nou toe veral poësie, gedigte. Die vertaling van Kamfer se debuutroman Kompoun was my eerste prosavertaling. Die tale waaruit ek vertaal, of al vertaal het, is Engels en Afrikaans, en wat betref los gedigte, ook Duits en Frans. Ek vertaal veral poësie omdat dit wat tyd betref die beste by al my ander werksaamhede inpas, en ook omdat ek meestal gevra word vir poësievertalings, seker maar omdat ek self ook digter is. Die vertaling van die roman Kompoun was egter geweldig om te doen, hoewel ek soos altyd onseker was. Dit was ’n tydrowende, maar ook fantastiese ervaring. Ek het baie bewondering vir Ronelda se werk.
Wat is jou gunstelingvertaling wat jy tot dusver aangepak het en hoekom?
Ek leer steeds ontsettend baie, maar met die laaste paar vertalings het ek begin agter kom daar is tog al ’n bietjie meer ervaring by nou. Dus was die digbundel Chinatown van Ronelda Kamfer en Dovenrepubliek van Ilya Kaminsky heerlike opdragte. Met Compoun, my Nederlandse vertaling van Kompoun, was dit ’n boeiende ervaring om karakters tot lewe te wek in ’n ander taal, en te soek na ’n ritme en taalgebruik wat die oorspronklike teks respekteer en steeds in Nederlands werk, veral ook wat betref die donker humor wat so prominent is in Kompoun. Ook was daar in die geval van ’n prosavertaling die bevryding van ’n enkeltalige uitgawe – poësie word in Nederland en België dikwels tweetalig uitgegee. Dit is ’n lieflike gebaar aan die leser, maar as vertaler voel mens partykeer ’n bietjie onbeskut.
Wat is vir jou die belangrikste doelwit van jou vertaling wanneer jy daarmee besig is?
Dit moet reg doen aan die konteks, die register en die etiese implikasies van die bronteks, en dit moet terselfdertyd so outentiek moontlik lees in die doeltaal. Dit mag, of moet selfs, vreemdheid in stand hou, want die leser mag nie vergeet dat dit gaan oor ’n ruimte wat nie Amsterdam of Kortrijk is nie, maar dit mag nie lees as ‘gekopieer’ nie. Ek lees my vertaling, selfs nou met prosa, altyd hardop; om te kyk of dit ritmies werk in Nederlands. Omdat Afrikaans en Nederlands so na aan mekaar lê, is tyd ’n belangrike aspek: dat jy genoeg tyd het om te herskryf, en die vertaling ’n ruk tersyde te sit, sodat jy met ’n vars blik daarna kan kyk. Maar met uitgewery en sperdatums is die tydsaspek ’n bietjie lastig.
Wat, volgens jou, is eienskappe van ’n goeie vertaling?
’n Goeie vertaling is diensbaar aan die bronteks, én ’n teks op sy eie, waarby jy as ’n leser vergeet dat jy die konstruk volg van een subjektiewe interpretasie (want elke vertaler kom met ’n ander vertaling), en jou kan oorgee aan die idees, die taal, die beelde van die teks.
As jy nog een taal kon kies waarin jy graag sou vertaal, watter taal sou dit wees?
Ek sou graag wou vertaal uit my ‘ander’ taal, Papiamento, die taal van die Nederlandse Karibiese eilande waar my wortels lê, en uit isiXhosa. Hoewel die Nederlanders veral fokus op alles wat Europees of Amerikaans is, is dit belangrik dat in die Nederlandse mark meer tekste beskikbaar kom uit die Karibiese gebied, en uit Afrikalande.
Hoekom, dink jy, is vertaling in die algemeen belangrik?
Om die Nederlandse digter Remco Campert te parafraseer: om te benadruk dat ’n mens nie alleen leef nie, nie op sy eie bestaan nie. Soos dit verrykend is om flieks te kyk wat nie in die VS afspeel nie; jy leer die mensheid en sy stories ken op ’n baie wyer skaal as jy vertalings kan lees uit tale en lande wat nie noodwendig Angel-Saksies is nie. In wese is vertaalde werk lees die goedkoopste en groen manier om te reis na onbekende lande. Ek dink byvoorbeeld aan die Nederlandse vertaling van Murakami se werk, of Sandro Veronesi se romans – die lees van Norwegian Wood en Caos calmo het my kyk op dinge onherroeplik verander, ek is seker daarvan. Nederland mag gelukkig wees dat omtrent baie tekste, van kookboeke tot obskure letterkunde, vertaal word. So baie lande het nie daardie voorreg nie.
As jy enige raad aan voornememde vertalers kon gee, wat sou dit wees?
Moenie opgee nie en moenie die werk onderskat nie, al lyk die bronteks ‘eenvoudig’. Laat jou vertaalpogings of vertaling altyd lees deur ander, soveel as moontlik, vra opinies. Doen goeie navorsing, sodat jy die wêreld wat jy vertaal (as jy nie bekend is daarmee nie) so goed as moontlik leer ken – die konsep van misreading is baie belangrik as dit kom by kreatiewe skryfwerk, en die verwerking van jou inspirasiebronne en die ontwikkeling van ’n eie stem, maar in die geval van vertaling is misreading ’n misdaad.