Algemene jaarvergadering 2024: Voorsittersverslag

Voorsittersverslag: Algemene jaarvergadering op 16 November 2024 te SASNEV in Pinelands, Kaapstad

  1. Inleidend

Dit was weer eens ’n jaar vol projekte en aktiwiteite vir PEN Afrikaans. Ook uit die verslae wat Catrina Wessels, ons bestuurder, en Izak de Vries, ons tesourier, hierna gaan lewer, sal dit blyk. Ons werksaamhede is klaarblyklik iets waarop PEN Afrikaans nogal trots kan wees. Ek haal graag vir Mercy Kannemeyer, ons onder-voorsitter, aan waar sy in PEN Afrikaans se jongste nuusbrief vertel oor wat sy ervaar het by PEN International se jaarlikse hoofkongres; dit het in September in Oxford plaasgevind. Sy skryf:

Ek kon met trots vir ander kongresgangers vertel van die belangrike werk wat ons hier doen. ’n Addisionele veer in PEN Afrikaans se hoed is om dan aan die ontvangkant te staan van groot komplimente vir hoe ons sentrum bestuur word, en onder andere ons sukses met projekte soos die vertaalprojek en Die Onsigbare Kind (’n leesprojek waarvan Catrina en ons mede-bestuurslid Fiona van Kerwel aan die stuur van sake staan).

Daardie veertjie steek ek met yslike waardering in die hoede van elkeen van ons bestuurslede. Hulle ondernemendheid en werkywer beïndruk my én ander mense wat aan die ontvangkant is van wat hulle help beplan en uitvoer. Werklikwaar. Ek haal graag weer een van PEN Afrikaans se lede aan hieroor. Margarethie Bredenkamp (alias Tosca de Villiers) skryf onlangs soos volg aan my oor ons bestuurder, Catrina Wessels:

Ek wil graag my opregte dank en groot waardering uitspreek vir wat Catrina as bestuurder van PEN Afrikaans doen. Die resensies wat sy byhou is omvattend, en […] hierdie argief is van onskatbare waarde. Die nuusbrief se gehalte is van so ‘n aard dat ek dit elke maand van hoek tot kant deurlees – en bitter graag medelesers en -skrywers aanmoedig om ook daarop in te teken. Dit is ‘n juweel. En altyd is daar ‘n flink antwoord van Catrina se kant af. […] [E]k sal dit tog waardeer indien sy net spesiaal bedank kan word vir die doeltreffende en uiters professionele manier waarop sy PEN Afrikaans bestuur.

Welgedaan, beste Catrina. Maar my en ons lede se dank gaan ook uit aan Mercy Kannemeyer, Izak de Vries, Fiona van Kerwel, Danie Marais, Ruchelle Lombard, Lynthia Julius, Dibi Breytenbach. Elkeen van dié bestuurslede het deurslaggewende bydraes tot bepaalde projekte in die afgelope jaar gelewer.   

Opvallend was ook weer bestuurslede se talle optredes by kunste- en literatuurfeeste, boekbekendstellings, skryf- en leesbevorderingsgeleenthede, en dergelike. Soos ’n groot aantal ander lede van PEN Afrikaans. Ons kan daardie hoed met die PEN International-pluimpies in lig vir almal uit ons geledere wat op eiesoortige wyses bydra tot energieke beoefening en viering van die Afrikaanse lettere en breër kunste- en geesteslewe.

2. Skrywer-, literator- en joernaliskollegas wat ons in 2024 ontval het

Voordat ek die lig kortliks laat val op enkele van die belangrikste bedrywighede wat die huidige bestuur in die afgelope termynjaar namens PEN Afrikaans onderneem het, is dit gepas om die skrywer-, literator- en joernaliskollegas wat ons sedert ons vorige algemene jaarvergadering (19 Oktober 2023) ontval het, te gedenk:

  • Abraham H. de Vries, een van dié kortverhaalmeesters van die Afrikaanse lettere, ook buitengewoon gewaardeerd as kortverhaalbloemleser, as letterkundedosent aan verskeie universiteite én as joernalis;
  • Anastasia de Vries, besonder geliefde letterkunde- en joernalistiekdosent aan die Universiteit van die Wes-Kaap, maar wat ook uitgeblink het as joernalis en kortverhaalskrywer;
  • Martie Retief Meiring, ’n gevierde en geliefde joernalis, rubriekskrywer, ’n vaandeldraer vir vroue in die joernalistiek en ’n energieke kuns- en kultuuraktivis;
  • Hans du Plessis, invloedryke taalkundige, vrugbare en gewilde skrywer en digter, en rigtinggewende bevorderaar van kreatiewe skryfwerk in Afrikaans – in die geheel beskou, ’n geliefde reus in die Afrikaanse kultuurwêreld; en, laastens,
  • Mellet Moll, ’n bekwame ingenieur en uitblinker as akademikus op dié gebied, maar ook ’n gerekende resensent van die digkuns en self ’n sensitiewe digter.

3. Literêre pryswenners

Aan die blyenuuskant van die munt is die ryke oes aan Afrikaanse boek- en resensiepryse – digby dertig van hulle – wat weer vanjaar toegeken kon word. Sulke toekennings getuig, op klinkklare wyse, van die lewenskragtigheid wat die Afrikaanse literatuur- en joernalistieksisteme bly kenmerk.

Onder die herhaaldelik bekroonde werke en skrywers/illustreerders tel:

  • S.J. Naudé, wat sowel die UJ-prys, die ATKV Prys vir Prosa en die kykNET-Rapport-boekprys vir Fiksie ontvang het vir sy roman Van vaders en vlugtelinge;
  • Fanie Viljoen, wat die volgende twee pryse ontvang het: die ATKV-Woordveertjie in die selfleeskategorie Graad 8–9 vir Krag, en die wennerstoekenning in LAPA se Jeugromankompetisie vir Ons laaste legendariese somer; ook
  • Johann Strauss, wat ATKV-Woordveertjie-pryse ontvang het as illustreerder by kinderboeke in twee kategorieë.

Ander ATKV-Woordveertjie-toekenningontvangers was, in verskillende kategorieë, soos volg:

  • Spanningslektuur: Deon Meyer vir die roman Leo;
  • Niefiksie: Anelia Heese vir Diensplig. Hoekom stotter ons pa’s so?;
  • Poësie: Tom Dreyer vir Nou in infrarooi. Gedigte;
  • Dramateks: Philip Rademeyer vir Goed wat wag om te gebeur;
  • Liefdesroman: E. Kotze vir Hulle noem haar Carminda;
  • Romanses: René van Zyl vir Belle, met die hart vol blomme; en
  • Kinderboektoekennings (in verskillende kategorieë): Zuléka Smit (skrywer) en Johann Strauss (illustreerder), Riana Scheepers (skrywer) en Elsabé Ebersöhn (illustreerder), en Jaco Jacobs.

kykNET-Rapport-boekpryse en -resensiepryse is vanjaar ook nog in die volgende kategorieë toegeken:

  • Niefiksie: aan Dana Snyman vir Die binneland in;
  • Die Herman Binge-prys vir ’n fiksie- of niefiksiewerk met filmpotensiaal: aan Elmarie Viljoen-Massyn vir haar debuutroman Vuurvoël;
  • Die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede werke: aan Pieter Marais vir Konkel;
  • Prys vir ’n resensie oor ’n Afrikaanse fiksiewerk: aan Nathan Trantraal; en
  • Prys vir ’n resensie van ’n Afrikaanse niefiksiewerk: aan Lindie Koorts,

Wat prystoekennings deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vanjaar betref, is die volgende van meer direkte belang vir literatuurbelangstellendes:

  • die Hertzogprys vir drama: aan Nicola Hanekom vir Mirre en aalwyn;
  • die Eugène Maraisprys vir poësie: aan Pieter Odendaal vir Ontaard;
  • die Elsabé Steenbergprys vir Vertaalde Kinder- en Jeugliteratuur: aan Zandra Bezuidenhout vir Lampie; en
  • die Tienie Hollowaymedalje vir Kleuterliteratuur: aan Antjie Krog & Ingrid de Kok (skrywers) & Fiona Moodie (illustreerder) vir Vetplantfeetjies.

NB-Uitgewers se jeugromanwedstryd het die volgende weninskrywings opgelewer:

  • as ’n tiener- of jongvolwasseneverhaal vir lesers ouer as 13 jaar: Sandy Schoeman vir Chakalaka uit ’n blikkie; en
  • as ’n kinderverhaal vir lesers 8–12 jaar oud: De Wet Hugo vir Die doodgelukkige bure.

Ek noem voorts graag dat een van PEN Afrikaans se lede, die taalkundige prof. W.A.M. (Wannie) Carstens, vanjaar die ontvanger was van die prestigeryke Jan H. Maraisprys. Dié toekenning was vir sy uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal, naamlik deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte te lewer.

Ons hartlike gelukwense gaan aan al dié prystoekenningontvangers!

4. Bevorderingsinisiatiewe met betrekking tot kreatiewe skryfwerk

Catrina Wessels, PEN Afrikaans se bestuurder, sal in haar verslag meer besonderhede verskaf, maar ons as bestuur is trots om te kan sê dat ons in die afgelope termynjaar voluit kon voortgaan met skryf- en leesbevorderingsinisiatiewe. Ek noem enkele hoogtepunte in hierdie verband:

  • ’n Aanlyn kursus oor die resensering van teaterproduksies is op 27 Julie vanjaar vir PEN Afrikaans, in samewerking met  die Nasionale Afrikaanse Teater-inisitief (NATi), aangebied deur die kundige en ervare vryskut-kunsjoernalis, Diane de Beer.
  • ’n Aanlyn gesprek oor kunsmatige intelligensie en hoe dit letterkunde en skrywers raak, is op uitnodiging van PEN Afrikaans op Woensdag 30 Oktober deur dr. Sabine Kirchmeier met belangstellendes gevoer. Dr. Kirchmeier is ’n Deense taalkundige en ’n kenner van KI en die impakte daarvan op die skryfwêreld.
  • PEN Afrikaans het, in aansluiting by die Afrikaans Amptelik 100-veldtog wat op  8 Mei 2025 sy hoogtepunt bereik, ’n gedig- sowel as ’n kortverhaal-skryfkompetisie van stapel gestuur onder die breë tematiektitel “Kyk hoe ver het ons gekom”. Ter viering van Afrikaans as ryklik klinkende taal in al sy variëteite is met die webtuistes LitNet en Versindaba ooreengekom dat gekeurde inskrywings aldaar geplaas gaan word. Op 8 Januarie volgende jaar sluit inskrywings. Daarna word drie weninskrywings in elk van die kompetisiekategorieë deur beoordelaars bepaal, om op 8 April bekend gemaak te word – ’n maand voor die Afrikaans Amptelik 100-veldtog sy hoogtepunt bereik. Dié kompetisie-inisiatief kon net ’n werklikheid word te danke aan ’n ruim borgskap deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur.
  • Die jaarlikse skrywersresidensie, wat vanjaar in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting, PEN South Africa, PEN Togo en PEN Noorweë onderneem is, kon weer by die Paulethuis op Somerset-Oos plaasvind (met die PEN Afrikaans-lede Anzil Kulsen en Willem Anker wat daaraan kon deelneem).
  • Die artikelreeks getiteld “Die wêreld van die skrywer” is in die afgelope termynjaar voortgesit deur Hein Willemse, Francois Smith, Ryan Pedro en Carina Stander, soos dit kwartaalliks in ons nuusbrief verskyn het.
  • Voorts: Na afloop van die jongste twee aansoekbeoordelingsrondes kon ons die volgende 11 vertalings van Afrikaanse literêre werke uit die PEN Afrikaans Vertaalfonds finansier:
  • ’n Albanese vertaling van Laaste kans deur Marita van der Vyver (Ombra GVG);
  • ’n Albanese vertaling van Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux (Shkupi Uitgewery);
  • ’n Nederlandse vertaling van Kompoun deur Ronelda Kamfer (Podium);
  • ’n Nederlandse vertaling van Spertyd deur Elsa Joubert (Noordboek);
  • ’n Nederlandse vertaling van Die getuienis deur Francois Smith (Zirimiri Press);
  • ’n Duitse vertaling van ’n keur uit Ilse van Staden se gedigte (Freigeist Verlag);
  • ’n Engelse vertaling van Wolk deur Hannes Barnard (Catalyst Press);
  • ’n Franse vertaling van Kompoun deur Ronelda Kamfer (Éditions Zoé);
  • ’n Franse vertaling van Leo deur Deon Meyer (Éditions Gallimard);
  • ’n Poolse vertaling van Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux (ArtRage);
  • ’n Sweedse vertaling van ’n keur uit Ingrid Jonker se gedigte (Ellerströms); en
  • ’n Sweedse vertaling van Orgie deur André P. Brink (Ellerströms).

Hier is dit gepas om ook die besondere erkenning én voorreg te vermeld wat Lynthia Julius, een van PEN Afrikaans se bestuurslede, te beurt geval het. Daar is in Desember verlede jaar naamlik bekend gemaak dat sy 2024 se ontvanger is van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs. Ons sien uit na die verskyning van die roman uit haar pen wat deur dié skrywersbeurs moontlik gemaak word.

5. Standpuntinnames m.b.t. wat PEN Afrikaans voorstaan

Die kulturele posisie van Afrikaans, die ideale daarvoor (spesifiek as literêre en joernalistieke instrument) en die regte en waardigheid van Afrikaanse skrywers, uitgewers, literatore en joernaliste is aspekte waarvoor PEN Afrikaans hom uitgesproke beywer. Die volgende voorbeelde uit die jaar tot dusver dien as bewyse hiervan:

  • PEN Afrikaans kon in sy Desember 2023-nuusbrief verklaar dat sy lede die nuus verwelkom van regstappe deur Media24 teen administrateurs van ’n sekere WhatsApp-groep. Dié groep se werksaamhede was daarop gemik om outeursregwerke, soos PDF-weergawes van Media24 se koerante, tydskrifte en e-publikasies, gratis te versprei. Daarby is die hoop uitgespreek dat dit die einde voorspel van die praktyk van onregmatige verspreiding van outeursregwerke by sulke groepe, iets waarteen PEN Afrikaans se bestuurspan – met Dibi Breytenbach in die voorste linie – voorheen by herhaling help protes aanteken het.
  • Vroeg vanjaar het PEN Afrikaans, in samewerking met PEN South Africa en regsbeskermende instellings soos ANFASA en PASA ’n protesaksie geloods teen die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg deur Suid-Afrika se Nasionale Vergadering, wat op 29 Februarie oor die wetsontwerp sou praat en stem.  Ons petisie is wyd gedeel en is binne enkele dae deur meer as 4200 mense onderteken. Dit het helaas nie die uitkoms van die sitting oor die wetsontwerp verander nie. Die ANC se meerderheidstem het die saak beklink: die wetsontwerp is opnuut aanvaar en toe na die president se lessenaar gestuur vir oorweging. Daarna het PEN Afrikaans meegedoen daaraan om ’n petisie te loods waarin die president versoek is om nie die wetsontwerp te onderteken nie, maar dit na die Konstitusionele Hof te verwys vir beslissing oor die moontlik ongrondwetlike bepalings wat dit bevat. Op 15 Oktober is ’n persverklaring deur die presidensie uitgereik waarin aangedui word dat president Cyril Ramaphosa wel besluit het om nie die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg in sy huidige vorm te onderteken nie, maar dit na die Konstitusionele Hof te verwys – ’n stap wat PEN Afrikaans se bestuur en lede verwelkom.
  • PEN Afrikaans het voorts op 4 Julie vanjaar ’n verklaring uitgereik waarin dit die feit betreur dat Media24 aangekondig het dat beoog word om publikasies te herstruktureer – en in die proses waarskynlik sal besluit om die gedrukte uitgawes van Rapport en Beeld te staak. In PEN Afrikaans se verklaring is onder meer klem gelê op hoe, onder andere, talle joernaliste se loopbane in die gedrang sal kom, asook op hoe die staking van die gedrukte uitgawes die moontlikhede om boekresensies gemik op ’n breër publiek geplaas te kry, negatief kan beïnvloed. Helaas word dié betreurenswaardige ontwikkeling einde vanjaar ’n werklikheid.
  • Op uitnodiging van PEN International neem PEN Afrikaans vanjaar deel aan die Right to Write-projek. Die doel van dié UNESCO-befondsde projek is om in vyf Afrikalande (Malawi, Suid-Afrika, Uganda, Zambië en Zimbabwe) openbare dialoog te bevorder oor kwessies wat skrywers raak. Die projek word deur UNESCO befonds. Twee van ons lede, PEN Afrikaans se ondervoorsitter Mercy Kannemeyer en voormalige bestuurslid Anzil Kulsen, het PEN Afrikaans in Junie vanjaar by ’n werkswinkel in hierdie verband in Nairobi, Kenia, verteenwoordig. Intussen kon PEN Afrikaans vyf Afrikaanse skrywers vra om artikels te lewer oor bepaalde onderwerpe wat met dié projek verband hou. Die eerste drie van dié artikels, dié deur Antjie Krog, Chase Rhys en Eben Venter, het reeds die lig gesien, onder meer in Rapport en Daily Maverick.
  • Laasgenoemde inisiatief is vanoggend, soos ons dit kon beluister, voortgesit in die vorm van die simposium wat PEN Afrikaans hier by SASNEV aangebied het. Bibi Slippers se gesprek met Lynthia Julius en Jolyn Phillips was juis na aanleiding van hulle twee se bydraes tot die Right to Write-projek.
  • Die simposium-onderwerp is verder versterk met die aanbieding van die deur PEN Afrikaans geborgde jaarlikse lesing oor uitdrukkingsvryheid, dié keer gelewer deur Karyn Maughan en met fokus op persvryheid in Suid-Afrika.

B.J. (Bernard) Odendaal

Voorsitter: PEN Afrikaans