Algemene jaarvergadering 2024: Bestuurdersverslag

Bestuurdersverslag: Algemene jaarvergadering op 16 November 2024 te SASNEV in Pinelands, Kaapstad

Van my kant af ook baie welkom by PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering van 2024. Dit is die twaalfde byeenkoms van sy aard en die eerste keer sedert 2019 dat ons in persoon bymekaar is. Baie dankie aan julle wat vandag hier is en aan dié wat deur volmagvorms verteenwoordig is.

Met verwysing na ons organisasie se visie en missie, wat na afloop van die eerste jaarvergadering van die herkonstitueerde PEN Afrikaans in 2012 saamgestel is, doen ek graag verslag oor die afgelope jaar se bedrywighede van PEN Afrikaans. Wat is daar destyds gesê gaan ons doen? Wat doen ons in werklikheid?

Die eerste punt op ons organisasie se missiestelling is:

Om ’n sentrum te vestig en in stand te hou vir Afrikaanse skrywers wêreldwyd;

’n Ander punt op die lys meld: Om Afrikaanssprekendes orals in die wêreld, veral ook in Namibië, aan te moedig om deel te hê aan ons strewe.

PEN Afrikaans word nie deur geografiese grense beperk nie en ons nooi inderdaad Afrikaanssprekendes wêreldwyd om by ons aan te sluit. PEN Afrikaans is oop vir lede vanoor die wêreld en ons lede en vriende is ook so versprei, met Jerzy Koch byvoorbeeld in Pole, Annemarié van Niekerk in Nederland, Francois Lötter in Namibië, Hilda Smits in die VSA – om maar ’n paar voorbeelde te noem.

Die instandhouding van die sentrum behels ’n rits take waarvan ek ’n paar kan uitlig in hierdie terugvoer aan ons lede, naamlik: bestuursvergaderings met ’n kundige en entoesiastiese verkose bestuur (baie dankie aan een en elk, veral aan ons voorsitter, Bernard Odendaal, ons ondervoorsitter, Mercy Kannemeyer, en tesourier, Izak de Vries, op wie ’n mens altyd kan reken), verslagdoening aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling om ons status as geregistreerde organisasie sonder winsbejag te behou, ’n jaarlikse oudit waaroor ons tesourier, Izak de Vries, meer vertel het, maandelikse nuusbriewe via Mailchimp, die bywerk van ons webwerf en sosiale media-platforms, en skakeling en verslagdoening aan ons befondsers en vennote.

Die rol wat die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis speel om PEN Afrikaans se voortbestaan en bedrywighede moontlik te maak, word weer eens met groot dank erken. Ons dank ook aan PEN International, wat vir bepaalde projekte op ons jaarprogram befondsing en ander ondersteuning toegestaan het. Op daardie noot beweeg ek aan na die volgende punt in ons missiestelling, naamlik:

[Dit is PEN Afrikaans se strewe] Om vir Afrikaans en sy woordkunstenaars ’n vaste en gerespekteerde plek in die internasionale skrywersgemeenskap – soos verteenwoordig deur  PEN International – te verwerf.

PEN Afrikaans se bande met PEN International is vanjaar verder verstewig deur ons deelname, op PEN International se uitnodiging, aan ’n wonderlike projek waarvoor UNESCO se Aschberg-program befondsing verskaf het, naamlik die Right to Write-projek. Hierdie projek ondersoek die posisie en uitdagings van skrywers in vyf Afrikalande, naamlik Suid-Afrika, Zambië, Malawi, Uganda en Zimbabwe. Die doel van die projek is om openbare dialoog te bevorder oor kwessies wat skrywers raak. Ons byeenkoms vandag maak deel uit van hierdie projek. Ons was ook dankbaar om vroeër vanjaar ons ondervoorsitter, Mercy Kannemeyer, en gewaardeerde lid en voormalige bestuurslid, Anzil Kulsen, na Nairobi in Kenia te stuur om PEN Afrikaans te gaan verteenwoordig by ’n byeenkoms van die deelnemende PEN-sentrums.

Boonop het Mercy Kannemeyer ons ook by die jaarlikse internasionale PEN-kongres gaan bywoon. Dit het hierdie jaar in Oxford, Engeland, plaasgevind, met die kongrestema: ‘Writers in a World at War’.

Dit was vir ons ’n eer om ’n gedigvoorlesing deur Diana Ferrus te kon instuur as PEN Afrikaans se inskrywing vir ’n videoprojek van PEN International se Komitee vir vertaling en taalregte. Dié projek is gemik daarop om inheemse tale en taaldiversiteit te vier deur tussen Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) en Internasionale Poësiedag (21 Maart) daagliks ’n nuwe video te plaas waarin gedigte in verskillende tale te hoor is. Baie dankie aan Diana Ferrus vir die voorreg om haar gedig te kon indien.  

  • Om die belange van Afrikaans en spesifiek Afrikaanse publikasies te dien.

Hierdie doelwit streef ons na deur projekte soos ons maandelikse resensie-oorsig, ons lys van nuwe Afrikaanse publikasies, en die aanbied van artikelreekse en onderhoudreekse wat die kollig op Afrikaanse skrywers en vertalers plaas. In die besonder:

  • Ons het vanjaar voortgegaan met ons artikelreeks, Die wêreld van die skrywer. In hierdie artikels, wat kwartaalliks verskyn, vra ons skrywers om te besin oor onderwerpe wat met die praktyk van skryf te doen het. Ons kon vanjaar lees oor hoe ’n skrywer te werk kan gaan om geslaagd oorlog te skryf, danksy Francois Smith, oor taalkeuses wat die digter Ryan Pedro maak wanneer hy skryf, en oor ruimtebeelding in spekulatiewe fiksie, in die mees onlangse artikel deur Carina Stander.
  • In Taalgenoot bied ons die #Vinnigevrae-insetsel aan, wat behels dat ’n lid van PEN Afrikaans telkens ’n stel vrae beantwoord. So leer ken Taalgenoot-lesers Afrikaanse skrywers – en hul inspirasies en invloede – van naderby. Hierdie jaar was Danie Marais, Rudie van Rensburg, Lynthia Julius en Irma Venter aan die beurt.
  • ’n Nuwe projek vanjaar, danksy bestuurslid Ruchelle Lombard, is ’n reeks onderhoude met vertalers, om die kollig op dié belangrike, maar dikwels agter-die-skerms bydrae tot die boekewêreld te plaas. Kobus Geldenhuys, Elsa Silke en Alfred Schaffer het al ons vrae beantwoord. 
  • Ons het ’n paneelbespreking by Tuin van Digters aangebied waaraan Martina Klopper, Bibi Slippers en Jolyn Phillips deelgeneem het. Hulle het met Andries Visagie gesels oor die saambestaan van mens en natuur, en mens en masjien, en hoe dit in die digkuns neerslag vind.
  • Ons het saam met NATi, die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief, ’n aanlyn kursus aangebied oor die skryf van teaterresensies. Diane de Beer, ’n gesoute kunsjoernalis, het die kursus aangebied en haar uitstekend van haar taak gekwyt.
  • Die PEN Afrikaans Vertaalfonds het ’n stewige oes vertalings vanuit Afrikaans moontlik gemaak, soos Bernard reeds in sy voorsittersverslag aangedui het. Gister was die November-sluitingsdatum vir aansoeke en ons sien uit om eersdaags verslag te doen oor die suksesvolle aansoeke wat hierdie ronde aansoeke opgelewer het. Die Vertaalfonds dra konkreet by tot die aansien van die Afrikaanse taal en letterkunde in die buiteland en dit bly een van die groot projekte op ons jaarprogram.
  • Nog so ’n fokuspunt  is die jaarlikse skrywersresidensie wat ons saam met die Jakes Gerwel Stigting aanbied. Dit heet deesdae die PEN dit neer-residensieprogram en dit vind by die Jakes Gerwel Stigting se Paulethuis op Somerset-Oos plaas. Verskillende PEN-sentrums of skrywersverenigings word jaarliks genooi om saam met PEN Afrikaans hieraan deel te neem. Vanjaar was PEN South Africa, PEN Togo, en PEN Noorweë van ons vennote. Willem Anker en Anzil Kulsen het PEN Afrikaans se beskikbare plekke in die skrywershuis gevul.
  • Ander geleenthede wat ons geskep het om hopelik ons lede en die groter skrywersgemeenskap in Suid-Afrika ter wille te wees, was die Skrywerskamer wat ons by die US Woordfees aangebied het, sowel as ’n onlangse aanlyn gesprek deur die Deense taalkundige, dr Sabine Kirchmeier, oor kunsmatige intelligensie en hoe dit letterkunde en skrywers raak.

’n Volgende punt op ons missiestelling is:

Om die belange van woordkunstenaars te dien ten opsigte van wetgewing, kopiereg, en outeursregte; spesifiek om stelling in te neem teen alle vorme van sensuur.

Wat die kommerwekkende Wysigingswetsontwerp op Outeursreg betref, het PEN Afrikaans in Februarie vanjaar saam met PEN South Africa, ANFASA en PASA ’n gesamentlike protesaksie teen die aanvaarding van dié wetsontwerp deur die Nasionale Vergadering geloods.    

Ons petisie is wyd gedeel en is binne enkele dae deur meer as 4200 mense onderteken.

Dit het helaas nie die uitkoms van die sitting oor die wetsontwerp verander nie. Die ANC se meerderheidstem het die saak beklink: die wetsontwerp is opnuut aanvaar. Onlangs het president Cyril Ramaphosa egter aangekondig dat hy nie die wetsontwerp gaan onderteken nie, maar eerder na die Konstitusionele Hof verwys om die grondwetlikheid van sekere bepalings daarin te bepaal. Dit is ’n stap wat deur PEN Afrikaans verwelkom is.

Ons sal deelneem aan stappe vorentoe en ons lede op hoogte hou van verwikkelinge.

Samewerking met PEN South Africa is ’n prominente punt op ons visie- en missiestelling van jare gelede. Vanjaar het dit deur die skrywerspetisie konkreet geword, sowel as deur ons ondersteuning van PEN South Africa se stellingname oor die belangrikheid van ’n skietstilstand in Gasa, en die kritiek teen PEN America se versuim om standpunt in te neem teen die voortslepende aanvalle daar.

PEN Afrikaans het PEN International se verklarings hieroor ondersteun, ter beywering vir ’n skietstilstand en ’n prioritisering van medemenslikeid en vrede in die streek. Helaas gaan die byna ondenkbare, grootskaalse aanvalle en uitwissing steeds voort.

Volgende, as deel van ons visie en missie, is:

Om geletterheid, belangstelling in die Afrikaanse boek en kreatiewe gebruik van Afrikaans op alle vlakke van die gemeenskap te bevorder.

Dit was ons voorreg om Die onsigbare kind, ’n Moemin-verhaal deur die gevierde Finse skrywer Tove Jansson, in Afrikaans en isiXhosa te laat vertaal en in boekvorm uit te gee met die vergunning en ondersteuning van PEN International en Moomin Characters.

Die boek was in die algemene handel beskikbaar en is goed ontvang, met die Afrikaanse uitgawe wat selfs herdruk moes word.

Fiona van Kerwel, een van ons bestuurslede en ook bestuurder van die Woordfees se WOW-projek, het aan die stuur gestaan van die skole-komponent van hierdie projek. Sy het ’n wonderlike fasiliteerdersgids ontwikkel aan die hand waarvan Die onsigbare kind by vyf skole in Stellenbosch-omgewing aangebied is, naamlik: Lückhoff Hoërskool, St Idas Primêr, Idasvallei Primêr, Bruckner de Villiers en Kayamandi High. Laasgenoemde in isiXhosa. Die handleiding vir die aanbied van die boek is gratis beskikbaar vir ander fasiliteerders om die boek ook by ander skole aan te bied.

Die doelwit van die projek was om leerders se liefde vir lees en skryf ’n hupstoot te gee, en die temas van inklusiwiteit, verdraagsaamheid en respek met hulle te behandel. Ook om hulle te inspireer om kreatief daarmee om te gaan.

Die leerders neem tans deel aan ’n Die onsigbare kind-collage en -gedigtekompetisie, waarvan die wenners (2 uit elke skoolgroep) by WOW se galageleentheid op Dinsdag 3 Desember aangekondig gaan word.

PEN Afrikaans het vanjaar ook weer, as deel van die WOW-komponent van die Woordfees-program, ’n slypskool vir hoërskoolleerders aangebied. Lynthia Julius het dit namens ons aangebied. Baie dankie, Lynthia.

Ook van hierdie leerders sal spesiale erkenning kry by WOW se galageleentheid. So wil ons, saam met WOW, geletterdheid, belangstelling in die Afrikaanse boek en die kreatiewe gebruik van Afrikaans probeer bevorder.

Nog ’n doelwit op ons missiestelling is:

  • Om ons op waardige wyse te beywer vir ’n vaste plek vir Afrikaans in Suid-Afrika. 

Dit het ons vanjaar probeer doen deur, onder andere, twee skryfkompetisies te loods ter viering van Afrikaans Amptelik 100, ’n veldtog wat al tot heelwat gesonde gesprekvoering en besinning gelei het.

PEN Afrikaans neem deel aan dié viering op dieselfde wyse wat ons ons ander projekte probeer aanpak en deurvoer, met ’n klem op inklusiwiteit en veelstemmigheid en ’n doelwit van die bevordering van die Afrikaanse woordkuns in sy ryke verskeidenheid.

Ons is dankbaar dat Kruger Internasionaal hierdie twee kompetisies moontlik maak. Die kortverhaalkompetisie word in samewerking met LitNet aangebied en die gedigskryfkompetisie in samewerking met Versindaba. Inskrywings sluit in Januarie 2025 en ons sien uit daarna om te sien watter inskrywings met die louere wegloop.

Ons wil ons ook beywer vir ’n vaste plek vir Afrikaans in die plaaslike medialandskap. Ons betreur die inkrimping van die Afrikaanse gedrukte media wat deur Media24 se beoogde herstrukturering in die vooruitsig is. Ons stellingname hieroor is in Julie vanjaar uitgereik.  

Dit is bittersoet dat ons artikelreeks vir oulaas in die gedrukte uitgawe van Rapport verskyn.

Dit bly belangrik om, vir Afrikaanse skrywers en ons ander lede, ons bes te doen om die welstand en groei van Afrikaans in ’n meertalige konteks te probeer verseker, om geleenthede te skep vir skrywers, om uitdrukkingsvryheid en persvryheid te probeer beskerm en versterk.

Enige iemand anders wat graag wil bydra tot die verwesenliking van hierdie of enige van die bogenoemde oogmerke word hartlik uitgenooi om met ons hande te vat om dit te doen.  

Baie dankie aan almal met wie ons reeds saamwerk. Ons waardeer die goeie jaar saam en ons hoop om volgende jaar daarop voort te bou.

Catrina Wessels

Bestuurder: PEN Afrikaans