Toegang-kortverhaalkompetisie: Lees die wenverhale hier

Eerste prys: Die rooi tekkies deur Hendie Grobbelaar

Lees die verhaal op LitNet

Luister hier na die voorlesing op RSG se Kortom.

Oor die skrywer

Hendie Grobbelaar is ’n vryskut kommunikasie- en skakelwesekonsultant, woonagtig in Gouritsmond, Wes-Kaap. In 2015 begin sy fiksie skryf en publiseer ’n paar stories in Vrouekeur, LitNet en as deel van ander saamgestelde bundels. Sy publiseer ook drie kortverhaalbundels, waarvan twee selfpublikasies was [Potskerwe (2016) en Striksvye (2017)]. In 2021 publiseer sy Maskermense deur Naledi. In 2020 debuteer sy as dramaturg met die radiodrama “Johanna se Elvis” as deel van RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie. Die volgende jaar verower sy die tweede plek in dieselfde kompetisie met “Sterrereën”. Sy is deel van die Writers’ Guild of South Africa en is een van die WGSA Muse Award 2022-finaliste vir Radiodrama.

Tweede prys: Nonnetjie van Aardt se laaste dag op aarde deur Maretha Maartens

Lees die verhaal op LitNet

Luister hier na die voorlesing op RSG se Kortom.

Oor die skrywer

Maretha Maartens is die skrywer van ongeveer 1000 koerant- en tydskrifartikels, heelwat kortverhale en 160 gepubliseerde Bybel-, biografiese- en algemene romans, dramatekste, jeugverhale, kinderboeke en geestelike werke. Sy woon in Bloemfontein saam met haar hospitaalleraar-eggenoot.

Derde prys: “Wind” deur Anton Döckel

Lees die verhaal op LitNet

Luister hier na die voorlesing op RSG se Kortom.

Oor die skrywer

Anton Döckel is op Laingsburg gebore en getoë. Hy het jare as ’n programmeerder en rekenaarkundige in Suid-Afrika en Skotland gewerk. Sedert 1964 skryf hy gedigte. Sy jeugroman, Om te wen (1987), en kortverhaalbundel, Terug na Klein Paradys (1990), het by Human & Rousseau verskyn. ’n Kortverhaal oor die Laingsburg-vloed is in Die Afrikaanse Kortverhaalboek.  In 2017 is van sy gedigte in die bundel Nuwe Stemme 6 ingesluit. Hy werk tans aan ’n roman.

Top 5: “Duine” deur Johann Crous

Lees die verhaal op LitNet

Oor die skrywer

Johann Crous is ’n modenavorser wat onlangs afgetree het. Naas Onderwys het hy ook kwalifikasies in Kuns, Drama, Tekstielontwerp, Draaiboekskryf, Regisseurswerk en Fotografie verwerf. Hy het hom sedert sy aftrede begin toespits op sy liefde vir die geskrewe woord en het die afgelope drie jaar al verskeie kortverhale en tekste vir TV-reekse ontwikkel. Dramatiese komedie is sy gunstelinggenre.

Top 5: “Hipoksie” deur Adelle van Wyk

Lees die verhaal op LitNet

Oor die skrywer

Die regswêreld betaal Adelle van Wyk se rekeninge, maar haar hart is by haar skrywery, wat in 2019 in erns begin het. Ná ’n kortverhaal die eerste plek verower het by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, het die US Woordfeesbundel gevolg, daarna vordering tot die voorlaaste fase van die KykNet Silwerskermfees (kortfilms) en ’n eerste posisie in Sanlam/RSG se radiodrama-skryfkompetisie. Sy werk tans aan ’n roman.