Nuusbrief: Junie 2022

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Wenverhale: Toegang
 
Toegang, ’n kortverhaalkompetisie wat ons met PEN International se steun aangebied het, se wenners is aangekondig sedert ons vorige nuusbrief. Die beoordelaars sê hul taak was vir hulle uitgeknip met verhale wat elkeen in eie reg verras het:
 
“Tussendeur die vindingryke stories, aangrypende vertellings en verskeie baie slim uitgewerkte verhale het die wenverhaal, en die paar wat ’n kortkop agter hom was, egter iets heel anders reggekry. Dié handvol inskrywings het met hul eerlikheid en deernis in al drie lesers se gedagtes en gemoed bly vassteek. ’n Verhaal wat met deernis na die mens kyk en met eerlikheid vertel word, bereik presies dit wat ’n goeie kortverhaal moet: tydloosheid.”
 
Baie geluk aan die volgende skrywers wat die wenverhale gelewer het:
 
Eerste prys: “Die rooi tekkies” deur Hendie Grobbelaar
Tweede prys: “Nonnetjie van Aardt se laaste dag op aarde” deur Maretha Maartens
Derde prys: “Wind” deur Anton Döckel
Top 5: “Duine” deur Johann Crous
Top 5: “Hipoksie” deur Adelle van Wyk  

Die wenverhale kan by hierdie skakel as ePDF’s gelees word. Daar kan ook deurgeklik word na LitNet om die verhale aanlyn te lees.
 
Ons sien uit na die voorlesings van die top-3 verhale op RSG se Kortom. Ons sal die datum van die uitsendings deel wanneer dit beskikbaar is en die klanklêers daarná beskikbaar maak.
 
PEN Afrikaans se verklaring oor die voorgestelde naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument

Die volgende verklaring is verlede maand deur PEN Afrikaans uitgereik:
 
PEN Afrikaans neem met kommer kennis van die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, se voorneme om die naam van die Afrikaanse Taalmonument (ATM) te verander, aldus ’n verklaring deur dié instansie.

Enigeen wat ag sou slaan op die werksaamhede van die ATM ná ons land se demokrasiewording sal weet dat hierdie instansie enorm baie gedoen het om sosiale kohesie en eenheid te bewerkstellig en inklusiwiteit te bevorder.

Daar is min instansies wat sigself so deeglik herbesin het as juis die Afrikaanse Taalmonument en -museum. Nie net is dit veelrassig nie, dit is ook een van die min ruimtes wat die slaweherkoms en die wesenlike invloed van die Islam op Afrikaans openlik vier en tentoonstel.

Met inagneming van wat deur die ATM opgebou is, is die sin van die beoogde naamsverandering te betwyfel.

Fondse en hulpbronne wat daarvoor geoormerk sou word, sou sekerlik beter aangewend kon word deur die bied van konkrete ondersteuning aan kuns- en kultuurbedrywighede in Suid-Afrika, deur byvoorbeeld meer kulturele geleenthede te laat plaasvind, oral in die land, ook by die ATM, en in alle inheemse tale.  

PEN Afrikaans doen ’n beroep op die besluitnemers om ’n naamsverandering vir die ATM met groot omsigtigheid te benader. Misplaaste en ondeurdagte inmenging van hierdie aard kan groot skade tot gevolg hê.

PEN Afrikaans sal aan die beraadslagingsproses deelneem en die beplande openbare vergadering eerskomende Saterdag bywoon.

 
Die genoemde openbare vergadering is deur ons voorsitter, Bernard Odendaal, bygewoon.
 
Hy getuig dat die vergadering, wat terselfdertyd gedien het as die ATM se viering van Internasionale Museumdag, geopen is met ’n lesing oor “Die mag van museums” deur Beverley Thomas, direkteur van die Amazwi Museum of South African Literature in Grahamstad. Daarna het die raadsvoorsitter van die ATM, Jean Meiring, die gesprekvoering oor naamsverandering-moontlikheid ingelei deur te beklemtoon dat nog geen besluit oor die voorgestelde naamsverandering geneem is nie. Die ATM-raad het wel tydens hul besprekings op die twee dae wat die openbare vergadering voorafgegaan het, besin oor standpunte en strategieë vir die onderhandelinge met die ministerie van sport, kuns en kultuur wat voorlê.
 
Hierna is verteenwoordigers van ’n groot verskeidenheid Afrikaanse kultuurinstansies, asook onverbonde indiwidue, die geleentheid gegun om hulle opinies te lug oor die naamsveranderingkwessie. Deur die bank is onthutsing oor en standpuntinname teen die minister se aanbeveling uitgespreek.
 
Dit is dus met verligting en blydskap dat verneem kon word dat president Cyril Ramaphosa laat verlede week in die parlement die versekering gegee het dat die ATM-raad nie gedwing sal word om die voorgestelde naamsverandering te aanvaar nie. Hy het dié versekering gegee in antwoord op ’n vraag van die Vryheidsfront Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, oor die aangeleentheid.  Meer besonderhede oor president Ramaphosa se versekering is te lese in ’n berig deur Jean Oosthuizen op Voertaal. Klik hier om dit te lees.
 
Rufus Gouws ontvang die Jan H Maraisprys 
 
Prof. Rufus Gouws, leksikograaf verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se departement Afrikaans en Nederlands, is aangewys as vanjaar se ontvanger van die gesogte Jan H Maraisprys vir ʼn uitnemende bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal. Die prys word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns geadministreer.
 
In sy aanvaardingstoespraak gebruik hy die bonsai as treffende metafoor:
 
“’n Taal kan kunstig versorg en beskerm word en deur beperkte gebruik in slegs sy lae funksies steeds woordryk en sinvol om die gesinstafel en die braaivleisvuur gebruik word. Dit kan ’n suksesvolle kommunikasiemiddel wees vir ons oggend- en aandpraatjies, maar sonder literêre vrugte of takke wat die sterk winde van hoëvlak-kommunikasie kan trotseer.
 
Dit is nie al waarvoor Afrikaans bestem is nie. Afrikaans mag nie ’n linguistiese bonsai word nie. Dit moet kan groei en skadu aan die volle taalgemeenskap kan gee. Dit moet sy ontwikkeling voortsit om in die hoë én die lae funksies gebruik te kan word.”
 
Lees die volledige toespraak hier.
 
Hartlik geluk aan prof. Gouws en baie dankie vir die groot bydrae tot Afrikaans se vrugte en takke.
 
Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg seil voort
 
Die Portefeuljekomitee vir Handel en Nywerheid het tydens ’n komiteevergadering op 8 Junie, wat daarná bekragtig is op 10 Junie, die hersiene weergawe van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg aanvaar. Daar was komiteelede wat ’n mosie ingedien het dat die wetsontwerp verwerp en herskryf moet word, maar die meerderheidstem het die saak beklink en die wetsontwerp gaan nou na die Nasionale Vergadering met die komitee se aanbeveling dat dit bekragtig word.
 
Dit is ’n terugslag vir die skeppende bedrywe aangesien slegs geringe veranderinge aan die kommerwekkende wetsontwerp gemaak is, ten spyte van soveel jaar se beraadslaging, belanghebbendes se voorleggings, en selfs presidensiële ingrype.
 
Die Kopieregkoalisie, waarvan PEN Afrikaans deel vorm, het ná die vergadering die volgende laat hoor:

 
 
In ’n onlangse verklaring het die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA) ’n uiters problematiese aspek van die wetsontwerp belig, naamlik die gebrek aan ’n impakstudie. PASA het daarom reeds jare gelede aan PwC opdrag gegee om ’n impakstudie te doen. PwC se bevindings dui op groot verliese vir die uitgewersbedryf, en by implikasie vir skrywers.

Lees PASA se verklaring hier: https://www.litnet.co.za/press-release-no-impact-assessment-underlying-the-economically-destructive-copyright-amendment-bill/
 
Maandelikse resensie-oorsig

 

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Mei 2022 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsigte sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Die resensies wat in die jongste uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde verskyn het, is hierdie keer weer ingesluit. Lekker lees!
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Junie 2022
 
Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Ten slotte:
Baie welkom aan Hannes Pieterse wat onlangs as lid aangesluit het.
Ons beste wense vergesel die skrywers wat tans die skrywersresidensie meemaak wat ons saam met die Jakes Gerwel Stigting aanbied. Mag die skryftyd by die Paulet-huis op Somerset-Oos ’n hoogtepunt wees.  

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans