Skrywersverblyf vir Afrikaanse skrywers

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans kondig met trots die suksesvolle aansoekers aan vir die skrywersverblyf wat hierdie jaar weer deur dié twee organisasies aangebied word.

Die skrywersverblyf word gebied aan skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde vertel is nie.

“Ons is baie opgewonde oor die sterk aansoeke en die uitgelese groep skrywers wat vanjaar van die verblyf gebruik gaan maak,” sê Theo Kemp, uitvoerende hoof van die Jakes Gerwel Stigting.

Die geleentheid sal die skrywers in staat stel om vanaf 1 tot 27 Julie 2020 aan ’n manuskrip te slyp in die prentjiemooi Paulet Huis in Somerset-Oos. Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf, insluitende Internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), ’n retoerkaartjie na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe.

“Dit is vir PEN Afrikaans wonderlik om weer hierdie skrywersverblyf aan ons lede te kan bied. Baie dankie aan die Jakes Gerwel Stigting wat sulke gulde geleenthede vir skrywers moontlik maak,” sê Marga Stoffer, voorsitter van PEN Afrikaans. “Hier is opwindende skryfprojekte oor ’n verskeidenheid genres in die pyplyn en begaafde skrywers wat die konsepte tot volvoering kan bring. Ons hoop dat die skrywers hul verblyf op Somerset-Oos baie sal geniet en ten volle sal benut.”

Die volgende ses skrywers is as die suksesvolle kandidate aangewys:

André Trantaal

André Trantaal skryf, illustreer en vertaal. Hy is mede-outeuran die strokiesprentboeke Coloureds en Stormkaap. André Trantaal werk saam met die historikus Koni Benson om haar tesis oor die geskiedenis van Crossroads in Kaapstad in ’n toeganklike strokiesprentreeks te verwerk. Sy strokies- en tekenprente, geskryf in Kaapsafrikaans en Engels, verskyn in Die Burger, Beeld, Rapport, die Cape Times en die Cape Argus. Sy werk is reeds in Amsterdam, Hamburg en Kaapstad uitgestal. Sy vertalings van sy broer Nathan Trantraal se gedigte verskyn in die New England Journal. André Trantaal se vertaling van Jason Reynolds se bekroonde roman Ghost vir die middelgrade verskyn met die titel Spoekie in Kaapsafrikaans. In opdrag van Lapa Uitgewers, skryf en teken André Trantaal tans ’n reeks kinderboeke met bruin karakters.

Olivia M Coetzee

Olivia M Coetzee is in Mariental in Namibië gebore, maar het in Electric City in Elsiesrivier grootgeword. Sy voltooi haar meestersgraad in kreatiewe skryfkuns in 2017 aan die Universiteit van Kaapstad. In 2019 debuteer sy met Innie Shadows, ’n misdaadroman in Kaaps. Sy is ’n gereelde skrywer vir LitNet en werk tans aan die vertaling van die Bybel in Kaaps.

Khadija Tracey Heeger

Khadija Tracey Heeger is ’n digter, aktrise, dramaturg en kulturele aktivis en fasiliteerder van die Kaapse Vlakte.

She het reeds twee multimedia poësie-teaterstukke geskryf en opgevoer, naamlik Stone words in opdrag van Spier in 2007 en uHadi in medewerking met ander kunstenaars vir die 2013 Festival d’Automne in Paris. In 2013 publiseer Heeger haar eerste digbundel Beyond the delivery room en haar tweede sal later hierdie jaar verskyn.

Heeger verskyn in die KykNET-reeks Sara se geheim, in die film Ellen, the Ellen Pakkies story en die dokumentêre drama van ITV What lies beneath. Heeger werk mee met Jazzart Dance Theatre in die vertel van stories, soos Cape of ghosts, deur die medium van dans en poësie.

Heeger se filmwerk in opdrag van die Centre for Curating the Archive (CCA) fokus op die lewe van slawe-wasvroue aan die Kaap terwyl Kirsten Dunbar Chace haar opdrag gegee het om poësieteks te skryf vir ’n kortfilm oor die bruinmense van die Kaap. Heeger werk ook mee met die Distrik Ses Museum, The Daily Music Show en die Instituut vir Geregtigheid en Versoening.

Veronique Jephtas

Veronique Jephtas is ’n drie-en-twintigjarige skrywer, aktivis, digter, regisseur en aktrise van die Paarl. Sy het haar honneursgraad in drama en teaterstudies in 2019 aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en in kreatiewe skryfwerk gespesialiseer. Sy het haar debuut as dramaturg by die 2020 Woordfees gemaak met die teks Hoe change hulle met Marlo Minnaar, onder leiding van Lee-Ann van Rooi. Sy was ook onlangs te sien in die Kanna-bekroonde produksie van Malan Steyn Jakkals en Wolf Onbeperk.

Jeremeo le Cordeur

Jeremeo le Cordeur, gebore en getoë in Wellington in die Wes-Kaap, het ’n kreatiewe siel. Sedert hy aan City Varsity se Skool vir Media en Skeppende Kuns gegradueer het, werk Le Cordeur as kunsfotograaf en neem hy verskillende rolle in die teaterwêreld op.

Le Cordeur is die entrepreneur agter Vulture Productions, ’n produksie- en ontwerpplatform vir kreatiewe en oorspronklike Suid-Afrikaanse teaterstukke.

As vervaardiger en regisseur het Le Cordeur reeds vele suksesvolle teaterproduksies gelewer. In 2014 behartig hy die regie van Tannie Dora goes bos, Warren Meyer se skreeusnaakse spannings- en moorddrama wat tydens die Kunstekaap se agste Kunstefees vir Vrouemenslikheid opgevoer is. In 2019 is hy die regisseur van Mama, die karakterstuk waaraan hy met Chenal Kock meegewerk het. In dieselfde jaar sien sy twee eenmanstukke Jerry, an unconventional hero en Dude, wa’s my bakkie? die lig. In 2019 ontvang hy die NATi Jong Sterre-toekenning by die Suidoosterfees.