Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds vertalings van Harry Kalmer en Jaco Jacobs

PEN Afrikaans kondig met trots die jongste suksesvolle aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds aan. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys en ter wille van die bevordering van die Afrikaanse letterkunde in die buiteland.
Na oorweging van die aansoeke wat teen die Mei 2020-sperdatum ontvang is, sal die volgende twee vertalings befonds word: ’n Nederlandse vertaling van In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer ’n Nederlandse vertaling van ’n Goeie dag vir boomklim deur Jaco Jacobs. In ’n land sonder voëls, die laaste roman van ontslape skrywer Harry Kalmer, sal deur Rob van der Veer vertaal word en na verwagting in Februarie 2021 by Uitgeverij Aldo Manuzio verskyn. Dié distopiese roman het in 2019 by Penguin Random House verskyn, kort voor die dood van die skrywer, wat bekend was vir sy oorspronklikheid en vakmanskap – nie net in sy bekroonde werk in die advertensiewese nie, maar ook as dramaturg, kortverhaalskrywer en romansier.
In 2018 is die gesogte Barry Ronge-prys vir fiksie aan Kalmer toegeken vir A Thousand Tales of Johannesburg, die Engelse uitgawe van sy stadsroman ’n Duisend stories oor Johannesburg.
Uitgeverij Aldo Manuzio het ’n groeiende lys van Afrikaanse titels in Nederlandse vertaling. Pieter Rouwendal, uitgewer by Aldo Manuzio, meld in sy aansoek sy trots om Kalmer by dié lys te voeg en aan hom die groter, internasionale gehoor te help gee wat hy verdien.
Oor In ’n land sonder voëls skryf Jean Meiring in ’n resensie: “[e]nduit is dit ’n meesterlike en uiters vindingryke verbeeldingsvlug.”
Uitgeverij Ploegsma, ’n afdeling van WPG Kindermedia, bestaan al meer as 100 jaar en is ’n vooraanstaande Nederlandse uitgewer van hedendaagse en klassieke kinder- en jeugboeke. Hierdie gerekende uitgewery voeg eersdaags Jaco Jacobs se trefferroman ’n Goeie dag vir boomklim (LAPA) by hul lys van vertaalde werke.
’n Goeie dag vir boomklim het in 2016 die kykNET/Rapport-prys in die filmkategorie gewen en filmregte is aan M-Net toegeken.
Die roman het sedertdien by voorste buitelandse uitgewers in vertaling verskyn: in Engels by Oneworld Publications en in Italiaans by Rizzoli. Die jurie van die roemryke Hans Christian Andersen-prys het dit ook onlangs uitgesonder as een van ’n lys van merkwaardige boeke waartoe kinders vanoor die wêreld deur vertaling toegang behoort te hê.
Uitgeverij Ploegsma sal die boek in hardeband en e-formaat uitgee. Tjalling Bos, ’n hoog aangeskrewe vertaler met meer as veertig jaar se ondervinding, is vir die Nederlandse vertaling verantwoordelik.
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.
Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.
Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: http://www.litnet.co.za/reglement-vir-die-pen-afrikaans-vertaalfonds/

Jeanne Goosen
Jeanne Goosen, die geliefde skrywer van onder meer Ons is nie almal so nie en ’n Paw-paw vir my darling, is 3 Junie op die ouderdom van 81 sag by haar huis in Melkbosstrand oorlede. Die verlies van hierdie geliefde skrywer is ’n gevoelige slag vir die Afrikaanse letterkunde. Die bestuur van PEN Afrikaans salueer haar met innige dankbaarheid vir ’n enorme en grensverskuiwende bydrae tot ons letterkunde.
Klik hier om Erika Terblanche se ATKV/LitNet-skrywersalbum oor Jeanne Goosen se lewe en werk te lees.
Danie Marais, PEN Afrikaans se ondervoorsitter, het op Facebook geskryf:
“Jeanne Goosen se vertrek stem my bitter droef. Sy laat so ’n unieke en geweldige leemte.
Ek het in 2013 die kans gekry om met haar ’n onderhoud vir BY te voer en wanneer ek aan daardie Saterdagoggend dink, spoel daar altyd ’n warm gevoel deur my.”
Klik hier om dié onderhoud te lees.
’n Spesiale manier om Jeanne te gedenk, is om na hierdie voorlesing van haar gedigte deur Nicole Holm te luister: https://youtu.be/O9nIPl15s-I
In ’n mooi huldeblyk skryf die oud-uitgewer Hettie Scholtz:
“’n Boekklubvriendin laat weet dat êrens anders nou ’n interessanter plek geword het. Vir my voel dit of die vlae gerus halfmas kan hang uit erkenning aan hierdie wederstrewige, groot gees.”
Klik hier om die huldeblyk te lees.
Die bestuur van PEN Afrikaans is dit roerend met Hettie eens.
Wenners van die Akademiepryse, ATKV-Mediaveertjies én Taco Kuiper-prys aangekondig
Die afgelope paar weke is die wenners van verskeie vooraanstaande literêre en mediapryse aangekondig.
Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het die wenners van ’n rits belangrike pryse en eerbewyse bekend gemaak.
In die Afrikaanse letterkunde is die mees prominente prys sekerlik die Hertzogprys, wat jaarliks om die beurt toegeken word vir poësie, drama en verhalende prosa op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie. Baie geluk aan Johan Myburg wat vereer is met die Hertzogprys vir poësie vir sy bundel Uittogboek wat by Protea Boekhuis verskyn het.

Elsa Joubert ontvang vanjaar die L.W. Hiemstraprys vir niefiksie vir Spertyd (Tafelberg) en Johan Jack Smith is die wenner van die Eugène Maraisprys, ’n prys vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk, vir sy debuutroman Zola (Penguin Random House). Hartlik geluk.
’n Volledige mediaverklaring oor die SA Akademiepryse 2020 is hier beskikbaar.
Die ATKV het oudergewoonte vanjaar weer uitblinkers in die Afrikaanse mediawêreld vereer deur die toekenning van die gesogte ATKV-Mediaveertjies. Hiermee word uitnemendheid in drie kategorieë (lees, luister, kyk) vereer.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê dis noodsaaklik om die media te vereer, en vanjaar – te midde van die Covid-19-pandemie – soveel te meer.
“Ons het die afgelope paar weke opnuut bewus geword van die kritieke rol wat die media ook in tye van krisis en uitdaging speel. Dit is die media wat ons ingelig hou; ons opvoed oor alle aspekte van onder meer die pandemie, nie slegs plaaslik nie, maar ook internasionaal; en wat vermaak, iets wat veral nou broodnodig is.
“Ons salueer die hele spektrum van die media, en veral ons 2020-wenners. Julle uitstaande bydraes verdien verering en erkenning. Doen so voort!”
Baie geluk aan die wenners. Meer inligting is hier beskikbaar.

Die gesogte Taco Kuiper-prys vir ondersoekende joernalistiek is vanjaar aan Pieter-Louis Myburgh toegeken vir Gangster State, sy topverkoper boek oor Ace Magashule waaroor die beoordelaars die volgende sê gehad het:
“Every now and then, there comes along a piece of work that is so impactful and convincing that it comes to define the way the public sees someone, and that is the case with Pieter-Louis Myburgh’s deeply-researched book and its subject, senior politician Ace Magashule.”
Baie geluk ook aan Pieter-Louis Myburgh.
Oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg
Klik hier om ‘n belangrike artikel oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg op Daily Maverick te lees.
Die volgende aanhaling kom daaruit:
“The world has changed since the Copyright Amendment Bill was passed by parliament. The national lockdown occasioned by Covid-19 brought almost the entire economy to a grinding halt. The creative and cultural sector came to an abrupt standstill virtually overnight. The bill, which posed a considerable threat before, could be the fatal blow to a sector employing more than one million people (directly and indirectly).”
Die skrywer, Collen Dlamini, is die voorsitter van die Koalisie vir Effektiewe Kopiereg, waarvan PEN Afrikaans lid is.
Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer
“Die wêreld van die skrywer” is ’n reeks artikels wat PEN Afrikaans sedert 2019 kwartaalliks publiseer. In die reeks besin skrywers op ons uitnodiging oor temas wat met hul ambag, loopbaan of die praktyk van skryf te doen het.

In hierdie aflewering vertel bekroonde spanningskrywer Irma Venter meer oor die rol van navorsing en aktuele kwessies in haar spanningsverhale. Hoe pak sy daardie deel van die skryfproses aan en hoe gaan sy te werk om navorsing met die storielyn te integreer?
Lees Irma se artikel hier.
Die eerste Woordfees Teaterskryflaboratorium
Die US Woordfees en NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) bied vanjaar die eerste Toneelskryflaboratorium aan. Skrywers wat gekeur word, kry finansiële ondersteuning terwyl hulle skryf.
Die doelwit van hierdie drie maande Laboratorium is ’n nuwe voltooide toneelteks van 60 tot 90 minute. Die US Woordfees en NATi is op soek na verhale wat nie gereeld op Suid-Afrikaanse verhoë gesien word nie. ’n Premie word op nuwe Afrikaanse werk geplaas, maar Engelse en meertalige tekste word ook oorweeg.
Nadat die Covid-19-inperkings opgehef is, sal al die voltooide tekste deur ’n geselskap van akteurs voorgelees word as afsluiting van die Laboratorium. Die US Woordfees sal een of twee tekste kies wat as volwaardige produksies ontwikkel sal word vir die 2021-fees.
Die Laboratorium word in Afrikaans en Engels aangebied en staan onder leiding van die Toyota US Woordfees-direkteur, Saartjie Botha, veteraanregisseur Janice Honeyman en bekroonde aktrise Lee-Ann van Rooi. Daar word van deelnemers verwag om mekaar se werk te lees en terugvoer te gee. Aanlyn ontmoetings sal een of twee maal per maand plaasvind en deur die fasiliteerders aangebied word.
Die slutingsdatum vir aansoeke is 10 Junie 2020.
Klik hier vir meer inligting en om aansoek te doen.
Klik hier om ’n kort onderhoud met Cornelia Faasen, die uitvoerende hoof van NATi, oor die Teaterskryflaboratorium te lees.
Skryf in vir 2020 kykNET-Rapport-resensiepryse

Boekresensente word genooi om in te skryf vir die 2020 kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse waarmee uitnemende resensies in Afrikaans van Afrikaanse boeke bekroon word.
Met dié pryse word erkenning gegee aan Afrikaanse resensente wat boeke en die leesgenot van boekliefhebbers bevorder deur die wêreld van Afrikaanse boeke vir die breë Suid-Afrikaanse publiek toeganklik te maak. Dit dien ook as aanmoediging om hoë standaarde in die Afrikaanse boekjoernalistiek te handhaaf.
Resensente word genooi om in te skryf in drie kategorieë: Resensie: Afrikaanse fiksie (alle genres) Resensie: Afrikaanse niefiksie (alle genres) Langer resensie: 1 500 woorde of meer oor Afrikaanse fiksie of niefiksie Met die derde prys vir langer literêre resensies word erkenning gegee aan resensente wat Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde ook op hierdie vlak verhelder en verruim.
Die wenner in elke afdeling ontvang ’n kontantprys van R25 000.
Die 2020-pryse word toegeken vir resensies wat tussen 1 Januarie 2019 en 31 Desember 2019 in die drukmedia en hoofstroom- aanlyn media verskyn het. Transkripsies van radioresensies word ook aanvaar. ’n Resensent mag ’n maksimum van drie resensies per kategorie inskryf.
Slegs Afrikaanse resensies van Afrikaanse fiksie en Afrikaanse niefiksie kom in aanmerking.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 26 Junie 2020.
’n Paneel van drie keurders met Bibi Slippers as sameroeper sal die wenners aanwys uit die resensies wat ingeskryf is.
Met die beoordeling van inskrywings sal die vernaamste kriteria wees dat resensies toeganklikheid vir hul waarskynlike lesers demonstreer en die leesplesier van Afrikaanse boeke bevorder. Daarbenewens sal die keurders op die uitkyk wees vir werk wat: oorspronklike insigte weergee oor boeke wat waarde toevoeg tot die Afrikaanse letterkunde ’n relevante verwysingsraamwerk en konteks toon ingeligte oordeel met goed gemotiveerde en opbouende kritiek weerspieël lesers lus maak om te lees nie op sensasie en afbrekende kritiek fokus nie, en getuig van uitstekende en verfrissende skryfwerk. Die keurders sal ruimtebeperkings in ag neem.
Die inisiatief om in te skryf berus in die eerste plek by die deelnemer, maar boekeredakteurs en redakteurs word versoek om resensente aan te moedig om deel te neem.
Inskrywings word elektronies ingedien. Waar van toepassing moet inskrywings van gepubliseerde resensies vergesel wees van PDF-weergawes van die resensies soos dit oorspronklik verskyn het tensy vooraf anders ooreengekom met die administrateur van die pryse.
Die volledige regulasies, inskrywingsvorm en ander besonderhede is verkrygbaar by die administrateur, Anita van Zyl, by anita@vanzylpr.co.za. Rig telefoniese navrae aan haar by 083 709 6677.
Maandelikse resensie-oorsig
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Mei 2020 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Nuwe Afrikaanse boeke in Junie 2020
Laastens deel ons oudergewoonte die gekombineerde lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn.
Die publikasielys kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke die lig laat sien.
Kom ons ondersteun ons skrywers, uitgewers en boekhandelaars met dié dat die wiele van die bedryf nou weer stelselmatig begin draai.
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans