Beste lid of vriend van PEN Afrikaans
Die jaar is reeds flink aan die gang, maar ek wil tog graag vir al ons lede en vir diegene wat in PEN Afrikaans belangstel ’n voorspoedige 2019 toewens.
PEN Afrikaans kan terugkyk op ’n vol en produktiewe 2018, en ons is trots op die bydrae wat ons verlede jaar as organisasie kon maak. Ons het gereeld stelling ingeneem teen die beperking van uitdrukkingsvryheid en die verreikende verswakking van kopieregbeskerming wat skrywers van hul bestaande regte en inkomstestrome sal ontneem. Ons het deelgeneem aan inisiatiewe ter bevordering van taalregte en meertaligheid. Ons het letterkunde gevier en bevorder deur poësievoorlesings en ’n paneelbespreking by Tuin van Digters, boekrubrieke in Taalgenoot, maandelikse resensieoorsigte, en gereelde kommunikasie met ons lede en die wyer gemeenskap.
Ons beoog om in 2019 op ons aktiwiteite van verlede jaar voort te bou. Hoewel ons uiteraard nog nie weet wat die jaar vir ons inhou nie, het ons reeds ’n aantal lekker planne – party daarvan kan ons eers later aankondig wanneer daar meer sekerheid is, maar onderstaande is reeds in die vooruitsig of aan die gang:
- Voortgesette protes teen die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, wat nou deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur moet word voordat dit op die wetboeke kom.
- Netwerk24 en NB-Uitgewers bied in samewerking met PEN Afrikaans op 9 Maart ’n resensiekursus by die Woordfees aan. Dit fokus op volwasse fiksie en Kerneels Breytenbach is die aanbieder.
- WOW-slypskool in samewerking met PEN Afrikaans op 2 Maart by die Woordfees
- Voortsetting van die rubriekreeks “Boeke wat skrywers laat skryf” in Taalgenoot.
- Voortsetting van ons maandelikse nuusbrief en artikelreeks, wat vanjaar ingaan op meer algemene sake wat skrywers interesseer, en minder op regskwessies.
- Deelname aan die Tuin van Digters.
- Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se befondsing van buitelandse uitgawes van Afrikaanse werk in vertaling. Die Vertaalfonds het sedert sy ontstaan in 2017 al 11 vertalings van Afrikaanse werke befonds. Klik onder vir meer inligting oor die suksesvolle aansoeke tot dusver.
Ons nuusbrief bereik ’n groot aantal skrywers, akademici, joernaliste, vertalers, uitgewers en mense wat op die een of ander manier betrokke is by Afrikaanse skrywers en boeke, maar ons wil baie graag ons formele ledetal vergroot – sodat ons ’n sterker mandaat het om namens ons lede op te tree, en ook in die hoop dat hulle meer en meer aktief sal deelneem.
Ek doen dus graag ’n beroep op jou om weer vanjaar by ons aan te sluit en, as jy nog nie ’n lid is nie, om een te word. Diegene wat nog nie aansoek om lidmaatskap gedoen het nie, kan ons aansoekvorm aanlyn invul by https://www.litnet.co.za/pen-afrikaans-aansoekvorm/. Bestaande lede sal vandeesmaand ’n faktuur kry om hul ledegeld te betaal.
Ek herinner jou ook weer aan ons sentrale doelstellings, wat ons aktiwiteite in die loop van die jaar sal rig:
- Die bevordering van Afrikaanse skryfkuns – sowel die huldiging van nuwe gehaltewerk as die aanmoediging en ondersteuning van jonger skrywers en kreatiewe skryfwerk in gemarginaliseerde gemeenskappe.
- Die bewusmaking van en die vreedsame, demokratiese aandrang op taalregte met die oog daarop om bondgenote te vind onder belangegroepe en individue wat hulle ook beywer vir die bevordering van ander inheemse tale en moedertaalonderrig.
- Aktiewe deelname aan die stryd teen alle vorme van sensuur en daarmee saam die verdediging van uitdrukkingsvryheid – nasionaal en internasionaal.
Baie dankie vir die ondersteuning en ek sien uit na nog ’n sinvolle en produktiewe jaar van PEN Afrikaans saam met ons lede.
Vriendelike groete
Marga Stoffer
VOORSITTER: PEN AFRIKAANS