PEN Afrikaans: Nuusbrief – Junie 2014

1.

Ek wil hierdie nuusbrief begin met iets wat my persoonlik raak. Ek het my loopbaan as joernalis in 1976 begin by die Kunsblad van Beeld. Dit is daar waar ek geleer het dat ’n koerant met ’n ordentlike kunsblad ’n koerant met ’n siel is.

Die besluit deur die bestuur van Beeld om dié koerant se Kunsblad te sluit, raak my dus persoonlik, omdat dit die joernalistieke waardes wat ek by Naspers geleer en uitgeleef het, verloën. Dit pluk die hart uit die koerant.

Dit is ’n besluit wat ek as joernalistieke barbaarsheid beskou en een wat, hoop ek, deur die bestuur van Media24 met dieselfde pragmatisme benader sal word as wat hulle aan die dag gelê het met hul misplaaste besluit om Volksblad se nek om te draai en dit deel van Beeld te maak.

Sekerlik sal daar redes aangevoer kan word vir die wegmaak van Beeld se Kunsblad en die verlies van kundige, gerespekteerde kunsjoernaliste. Deur die jare was dit altyd dat die blad nie advertensies lok nie (hoeveel lok die sport- en politieke blaaie?) en dat ’n minderheid van die koerant se lesers dit lees.

Daar word dikwels beweer dat die Kunsblad nie ’n sirkulasiebouer is nie. Seker nie. Maar dit is nie die huidige Kunsblad se inhoud wat Beeld se sirkulasiesyfers geknou het nie.

Die feit is net dat as daar nie ’n Kunsblad is nie, is daar geen rekord van die Afrikaner se kulturele belewenis in Beeld se groot verspreidingsgebied nie. Dit is op daardie bladsye waar mens kan sien wat die intellektuele en kulturele peil is wat Afrikaanse lesers kan nastreef. Dit is deur die Kunsblad wat lesers nie alleen hul eie kultuur sien leef nie, maar ook dié van die ander Suid-Afrikaanse kultuurgroepe.

Die groot prestasie van Beeld se Kunsblad was sedert 1974 die reikwydte van sy dekking, die gehalte van die skryfwerk op daardie blaaie, en die integriteit van sy kunsjoernaliste en medewerkers van die blad. Deur die jare was die Kunsblad – in al sy verskillende gedaantes, ek gebruik “Kunsblad” oorkoepelend  –  ’n vriend en vennoot van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse letterkunde. Sy sluiting is nie iets wat Afrikaanse skrywers nie kan bekostig nie – dit is een van die min plekke waar ons stemme nog gehoor kan word. Waar ons met en onder mekaar kan gesels. As ’n koerant soos Beeld sy Kunsblad sluit, begin hy swyg oor die dinge wat Afrikaanse skrywers, akteurs en akademici raak. Maak nie saak wat hul politiek is nie.

Dis was nog altyd vir my ’n saak van trots om mede-Suid-Afrikaners te wys op die maniere waarop die kunsblaaie van BeeldDie Burger en Volksblad die toon aangee en in meeste opsigte strate beter is as dié van hul eweknieë in plaaslike Engelse koerante. Voortaan sal ek maar by voorbaat moet toegee dat Beeld en die Star ewe vaal en voos is.

En dan onvermydelik die volgende vraag: Gaan die Boekeblad die mes van die winsjagters vryspring?

Dit is vir my moeilik om te aanvaar dat die koerant wat my in 1976 bekeer het tot die saak van Afrikaanse kultuurjoernalistiek, nou weinig daarvoor voel. Het Beeld ophou omgee oor Afrikaanse skrywers, dramaturge, toneelspelers, televisiemense, et al?

Tot sover my persoonlike gevoelens. Omdat PEN Afrikaans nie alleen Afrikaanse skrywers verteenwoordig nie, maar ook Afrikaanse joernaliste, dan die volgende:

Ek doen namens PEN Afrikaans ’n beroep op Beeld om sy Kunsblad in ere te herstel en daardeur na die belange van sowel sy lesers as die Afrikaanse kultuurbelewing in sy verspreidingsgebied om te sien.

Ek doen die beroep met inagneming van die feit dat Beeld die laaste plek in die noorde van ons land is waar Afrikaanse kulturele joernalistiek nog aktief bedryf word. Die sluiting van Beeld se Kunsblad is ’n marginalisering van die Afrikaanse kultuur vanuit eie geledere.

Dit gaan nie vir ons oor verandering en die oorlewing van die pers nie. Ons is bewus van die ongekende groei wat vir die Afrikaanse media in die kuberruim moontlik is. Ons is oortuig daarvan dat die Kunsblad daardie groei eerder sal bestendig as vertraag.

Ons doen ’n beroep op Beeld om getrou te bly aan die koerant se strewes met sy vestiging, naamlik om borg te wees vir die sake van die gees – op papier én op sy webwerf.

2.

Die lang gesloer met ons registrasie as nie-winsgewende maatskappy is agter die rug, en vir die eerste keer kan ons aktief begin funksioneer as ’n organisasie wat omsien na die belange van Afrikaanse skrywers.

Met die oog op die onmiddellike toekoms het die bestuur op 22 Junie byeengekom vir ’n dinkskrum. Met Theuns Eloff as fasiliteerder, was dit ’n besonder positiewe wisseling van idees oor hoe PEN Afrikaans nie alleen meer kan beteken vir sy lede nie, maar ook vir die leserspubliek. En as ons praat van leserspubliek, het ons gedink aan sowel diegene wat reeds lank aan die lees van Afrikaanse boeke voorkeur gee, as hulle wat nou op skool is en vir die eerste keer kennis maak met Afrikaanse lektuur.

Hieruit het voortgespruit gedagtes oor moontlike projekte waaraan ons in die volgende weke ernstig navorsing sal doen om te sien waar toepaslike wegspringplekke is.

Ons dink dat PEN Afrikaans veral aandag kan skenk aan gemeenskapsprojekte waardeur skoolbiblioteke ondersteun kan word (én dormante skoolbiblioteke geaktiveer kan word), asook opstelkompetisies; begeleiding van voornemende of nuwe skrywers; skakeling met leeskringe en ’n teenwoordigheid by geleenthede soos Aardklop en die KKNK; ons wil ons beywer vir die groter sigbaarheid en beskikbaarheid van besprekings van Afrikaanse boeke wat gepubliseer word.

Dit is alles nog net voornemens en met die hulp van PEN Afrikaans se bestuur sal ek in die volgende maande werk maak van die praktiese uitvoering van hierdie strategiese denke.

3.

Een van die dinge wat ons reeds geïdentifiseer het, is die probleme wat jong of nuwe skrywers ondervind met hul manuskripte. Te oordeel na die gereeldheid waarmee ek self deur mense gevra word om manuskripte te lees of raad te gee vir publikasie, is so-iets baie noodsaaklik.

‘n Manier moet gevind word om leiding en begeleiding te gee aan die mense wat Afrikaans op hierdie manier lewenskragtig hou. Vir my gevoel sal dit reeds oneindig baie help as ons aan ons lede, en toekomstige lede, gegewens kan gee van die mense wat op ’n professionele en betroubare basis manuskrip-begeleiding kan gee, of kan help om manuskripte gereed te kry vir voorlegging aan uitgewers.

In die jare wat ek aan ’n uitgewery verbonde was, het ons altyd gepraat van die slush pile –die hoop van manuskripte wat ongevraagd voorgelê word vir publikasie. Dit is nie vir uitgewers altyd moontlik om noukeurig aandag te gee aan al daardie manuskripte nie, en tensy hulle mense vra om dit vir hulle te beoordeel, kom dit gewoonlik daarop neer dat iemand die slush pile takel – en as ’n manuskrip nie binne die eerste twintig of wat bladsye die verbeelding van die leser aangryp nie, word dit teruggestuur.

As ’n skrywer gehelp kan word om ’n manuskrip voor te lê wat in sy geheel gelees en beoordeel word, het ons alreeds ver gevorder. PEN Afrikaans wil vir sy lede ’n databasis skep van mense wat manuskripte help ontwikkel. Ons is reeds bewus van verskeie sulke persone. Indien enigiemand sy/haar naam by só ’n databasis wil laat insluit, laat weet my asb. by penfrikaans@gmail.com.

4.

Ek het met die uitgewers van Afrikaanse boeke geskakel oor die bekendmaking van inligting oor alles wat in Afrikaans verskyn. Ek wil elke maand hier ’n lys verskaf van die titels wat in die voorafgaande maand verskyn het.

Enersyds sal dit mense help om by boekwinkels navraag te doen oor titels – en dit te bestel indien die boekwinkels dit nie in voorraad het nie. Of die vingerroete Amazon en Kalahari toe te slaan.

Ondervinding het geleer dat boekliefhebbers nie te kampe het met drempelvrees nie, maar as hulle in boekwinkels kom en nie weet na watter titels hulle moet of kan soek nie, sal leser en boek nooit by mekaar uitkom nie.

Hopelik sal die inligting teen die tyd wat die volgende nuusbrief moet verskyn, begin instroom.

5.

Nog ’n saak wat genoem tydens ons dinkskrum, is die behoefte wat daar by skrywers is om helderheid te kry oor sake rondom die kontrakte wat hulle met uitgewers moet sluit.

Outeurskontrakte was iets waarop ek skerp gefokus het in my tyd by H&R en NB, en ek het geleer dat ’n eenvoudige gesprek dikwels help om groot wrywing uit te skakel.

Ek wil ons lede aanmoedig om my te kontak oor sulke sake. Ek sal help sover ek kan, andersins hulle verwys na kundiges op die gebied van kontrakte. Indien die lede se reaksie dit regverdig, sal ek ondersoek instel na ’n meer formele kanaal.

6.

Ek sal ander sake voortspruitend uit die dinkskrum mettertyd opneem: Gereelde byeenkomste vir lede van PEN Afrikaans; ’n Afrikaanse boekeweek; kortings vir lede by boekwinkels, en so meer. Maar die belangrikste saak sal heel eerste aan die beurt kom.

Die bestuur het besluit om bestuurder aan te stel wat op ’n deurlopende basis kan sorg dat ons projekte glad verloop, omsien na lede en hul navrae, en in die algemeen sorg dat kommunikasie behoorlik geskied na alle kante toe. Die persoon sal gemoeid wees met die werwing van nuwe lede, identifisering van nuwe projekte, die bepaling van die uitvoerbaarheid en die aktivering daarvan. Uiteraard sal die finansies en administrasie van PEN Afrikaans ook onder die bestuurder se verantwoordelikhede tel.

Dit is dringend nodig. Ek sal nog voor die volgende nuusbrief meer besonderhede oor die pos en sy inhoud uitstuur.

Kerneels Breytenbach
Voorsitter