Mediaverklaring
PEN Afrikaans spreek sy diepe kommer uit oor die moontlikheid dat die geskiedkundige Afrikaanse koerant Volksblad tot niet gemaak gaan word. Ons kan ons nie uitspreek oor die sakeredes agter Media24 se planne om dié koerant deel te maak van die Beeld-entiteit nie. As belanghebbendes is ons wel deeglik bewus van Volksblad se plek in die Vrystaatse lewe – sy groot bydrae as koerant van rekord en kultuur vir Afrikaanssprekende Vrystaters – en wil voorspel dat hierdie aspekte, asook die noue band wat die koerant met sy Vrystaatse lesers en adverteerders het, nie sonder meer deel sal word van Beeld en alles wat die Johannesburgse koerant behels nie.
PEN Afrikaans, as organisasie waartoe sowel skrywers as joernaliste behoort, is veral bekommerd oor die verskraling van geleenthede wat só ’n stap inhou. Ons doen ’n beroep op Media24 om die belange van Vrystaatse lesers en Afrikaanse skrywers in ag te neem wanneer die finale besluit geneem word.