PEN Afrikaans bring hulde aan Breyten Breytenbach (1939 – 2024)

Die bestuur van PEN Afrikaans betreur saam met lesers en skrywers wêreldwyd die heengaan van Breyten Breytenbach. Hy was ’n wêreldklas digter, skrywer, visuele kunstenaar en denker wat in velerlei opsigte ’n monumentale kulturele bydrae gelewer het, soos sedert sy afsterwe op 24 November 2024 uit ’n stortvloed huldigings duideliker en duideliker word.

Hy was ‘n uiters produktiewe skrywer, wat konsekwent werk van die hoogste literêre gehalte gepubliseer het, van sy debuut in 1964 tot sy mees onlangse publikasie in 2019.

Sy literêre ondervraging van die Suid-Afrikaanse geskiedenis en politiek het lesers van oor die hele wêreld in staat gestel om hulself te vergewis van die ervaring om ’n “albino-terroris” te wees; sy genadelose selfondervraging verryk ons verstaan van ​​hoe identiteit gekonstrueer word, asook wat die funksies van kuns is.

Dat sy stem nou stil is, is ’n enorme verlies. Dat sy nalatenskap groot en ryk is, is klinkklaar.

Ook in die totstandkoming en werksaamhede van PEN Afrikaans was sy bydrae onmisbaarbaar. Tydens ’n vergadering in Maart 2011 oor die totstandkoming van ’n organisasie wat sigself vir Afrikaanse skrywers beywer, lewer Breyten ’n betoog daarvoor dat so ’n organisasie vanuit die geledere van Afrikaanssprekende skrywers behoort te kom. Deur middel van só ’n organisasie sal skrywers ’n beter kans hê om hul stem te laat hoor. Gedeelde belange kan gedien word, was sy argument.

Suid-Afrika bevind hom in ’n drukgang na totalitarisme, sê hy voorts by dié geleentheid, met ’n afname in dissidente en alternatiewe denke.  Skrywers moet individualiteit lewend hou en protes nie prysgee nie. 

’n Skrywersorganisasie wat ’n mandaat het om namens skrywers te praat, is die enigste opsie.  Internasionale koppeling behoort ook aandag te geniet.  In dié verband meld hy die internasionale resonansie van PEN en beskou hy dit as “’n groot huis met allerlei vlakke”.

Ons eer sy nagedagtenis en dink met dankbaarheid aan sy helder visie van wat so ’n skrywersvereniging kan en behoort te wees, en aan hoe hy bereid was om PEN Afrikaans se pogings en projekte te steun – in woord en in daad, dikwels met die toevoeging van sy naam en sy verruimende perspektief.

Enkele voorbeelde is sy ondersteuning van ons protes teen die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg wat skrywers van bestaande regte en inkomstestrome sal ontneem; sy betrokkenheid by taal-aktivistiese verset teen sprake van die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal by ons land se universiteite, en spesifiek by Stellenbosch Universiteit; sy teenkanting teen die destydse voorgestelde Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting (die “muilbandwet”) en sy ondersteuning van inisiatiewe in solidariteit met die skrywer Salman Rushdie nadat hy in 2022 aangeval is tydens ’n openbare lesing.

Hy het die Afrikaanse landskap eindeloos verryk met sy vernuwende literêre werk, sy kritiese denke, sy bruisende kreatiwiteit, sy ondernemingsgees, sy onverskrokke verset teen inbreukmakings op demokratiese waardes en praktyke, insluitend alle vorme van sensuur.

Die handves wat PEN se bedrywighede wêreldwyd rig, begin met ’n bevestiging dat “(l)etterkunde geen grense eerbiedig nie en in weerwil van politieke of internasionale woelinge gemeengoed tussen mense moet bly”.

Daar is min skrywers wat hierdie oortuiging kenneliker beliggaam en uitgeleef het as Breyten Breytenbach.

Ons sal hom mis en dink met innige meelewing aan sy naasbestaandes.

****

Luister hier na sy voorlesing van sy gedig “wanneer jy die moedertong”: