
Ek is nie ’n beplanner nie. Ek is meer van ’n ploeteraar. ’n Begewenaar. Want ek begewe my meestal in situasies. Soos baie ander dinge in my lewe, was die skryf van jeugboeke iets wat geheel en al sonder aanloop of fokus gebeur het. Die moontlikheid dat ek, Zelda Bezuidenhout, op die rype ouderdom van 56 met jeugliteratuur geassosieer sou word, was so onwaarskynlik soos ’n Lotto-wen. Natuurlik met aansienlik minder finansiële voordele. Ek gaan julle nie verveel met die storie van my skryfloopbaan nie. Laat ek maar net sê: ek skryf nog my hele lewe lank vir geld. Nou skryf ek blykbaar vir die liefde van die saak.
Op ’n manier voel ek ná ses jaar en sewe jeugboeke nog steeds soos the new kid on the block. Die wêreld van jeugfiksie is ’n eienaardige en uitdagende omgewing. En soos in die geval van ’n lewensmaat kies of kinders grootmaak, kom dit nie met ’n handleiding nie. ’n Skrywer leer maar so algaande. Veral as jy ’n skrywer is wat nog nooit regtig jeugboeke gelees het nie – nie eens as jeugdige nie. Ek het in ’n huis sonder boeke grootgeword, in ’n plek sonder ’n biblioteek. Daar was wel fotoboekies en comics en die wonderlike tienertydskrif, Tina, waaraan ek onredbaar verslaaf was. Gelukkig was my tienerjare kompleks en deurdrenk met teleurstelling en selftwyfel. Ja, gelukkig, want waaroor sou ek geskryf het as ek nie ’n onbeholpe misfit as tiener was nie? My hoofkarakters is almal ’n bietjie eensaam in hulle andersheid, want dit is hoe ek my eie bildung onthou.
“Ek is gatvol vir issue-boeke,” lamenteer iemand by ’n skrywerspartytjie, en ek wonder of die klagte in my rigting gemik word. Skrywers is bekend vir hulle dunvelligheid, en ek is g’n uitsondering nie. “Ek mis boeke oor normale tieners uit funksionele huishoudings,” was ’n slim professor se versugting in die media ’n klompie jare gelede. Ek hoor julle, wil ek sê. En daar is definitief ’n saak te maak vir komiese verligting en suiwer ontsnapping. Die hemel weet, tieners en jong volwassenes moet deesdae met veel meer cope as in die tagtigs. In my eie jongdae, was daar nie kuberboelies nie. Ek kan ook nie onthou dat ouers en skole so ’n ontoepaslike gedoente van prestasie gemaak het nie. Maar daar ís Afrikaanse jeugboekskrywers wat uitstekende wetenskapfiksie, fantasie en heerlike ligte vermaak skryf. Ek skryf oor nie-inpas-nie, want dit is wat ek ken en verstaan.
“Onthou hoe dit gevoel het om vyftien te wees,” was die waardevolle raad van een van my jeugboekuitgewers. Ek het die frase op die muur bokant my lessenaar vasgeplak sodat ek dit kon lees elke keer as ek opkyk van my rekenaar. Dis nie vir my moeilik om so ver terug te onthou nie. Dis veel moeiliker om te onthou waar ek my bril of my gehoorstukke neergesit het. En dis natuurlik ook ’n ding: die vreemde verskynsel van ’n sixty something wat vir tieners skryf. Is dit ’n goeie idee? Is ek on trend; gebruik ek die regte taal? Ek weet nooit regtig nie. Toe ons dogter, Mia, nog as tiener in ons huis gewoon het, kon ek my manuskripidees en taalgebruik op haar toets. Nou woon sy nie meer by ons nie, en is self nie ’n leser nie. Ek vermoed sy beskou haar ma se skryfwerk as ’n stokperdjie. Dat ek boeke skryf omdat ek nie kan hekel nie. Soms dink ek sy is reg.
’n Jeugboekredakteur wat haar sout werd is, help natuurlik met hierdie soort goed. Terwyl ek my jongste jeugroman, Quinn se jaar van kwik, geskryf het, was daar magiese sinergie tussen my en my redakteur, Nandi Lessing-Venter van Lapa Uitgewers. Sy was uit die staanspoor opgewonde oor die storie en het bitter min daaraan gekarring. Die terugvoer wat sy wel gegee het, was van onskatbare waarde. Die boek het ’n #MeToo-tema, en daar was tonele wat met groot omsigtigheid geskryf moes word. Nandi het my hand gevat en my sagkens om die slaggate gelei. So het dit vir my gevoel. Daar was oomblikke van euforie wat ek nooit sal vergeet nie. Soos een aand in ’n gastehuis in Graaff-Reinet. Ek was op pad om ’n draaiboekskryfkursus naby De Rust te gaan bywoon, en het besluit om in die mooi Karoodorp te oornag. Quinn se proewe het op my rekenaar gewag, en ná aandete (skaaptjops, natuurlik), het ek begin werk. In die eindtoneel van die boek, luister Quinn en ’n vriend na ’n song in haar bakkie. Die snit was oorspronklik Journey se Don’t stop believing. Skielik, asof daar ’n portaal na ’n kreatiewe plek iewers verskyn, kom Manfred Mann se treffer, Mighty Quinn, by my op. Ek soek dit op Spotify, luister daarna en begin ronddans in my koel Karooslaapkamer met sy hoë versiersuikerplafon. Ek stuur Google se soekenjin na die album waarop die liedjie verskyn. Ek luister na verskillende weergawes daarvan. Wat van ek verander die liedjie waarna hulle in die bakkie luister na Mighty Quinn? vra ek vir Nandi. Dis immers ons hoofkarakter se naam. Nandi is opgewonde oor die idee. Ons vier vir Quinn met die song, sê sy. Nou begin alles uitkring soos water waarin ’n klippie gegooi is. Linki Brand, Nandi se talentvolle suster wat in Noorweë woon, ontwerp die boek se omslag en inkorporeer die liedjie slim op die voor- en titelblad. Ek pas die teks aan. Alles voel meteens presies reg. Miskien skryf ek jeugboeke vir hierdie oomblikke van jeugdige euforie.
Ondanks wat jeugboekskrywers jou vertel, is almal se grootste droom dat hulle boek by skole voorgeskryf moet word. Dit gaan nie net oor die beduidende hupstoot in tantième nie. Ek dink om jou jeugboek as deel van ’n opvoedingsillabus te hê, gee dit ’n soort ikoonstatus. Vir baie leerders, gaan dit die enigste Afrikaanse boek wees wat hulle in hul leeftyd lees. Hartseer, maar waar. Of hulle dit dus geniet of verpes, hulle sal waarskynlik in lengte van dae daaruit kan aanhaal. Die naaste wat ek nog aan so ’n boek kon kom, was my heel eerste jeugroman, As mens geluk kon proe. Dit was eintlik maar my eie grootwordstorie, hier en daar verdoesel sodat ek nie herken sal word as Arnelia, die onsportiewe hoofkarakter nie. Iewers het iemand gesê ’n skrywer se debuutwerk is altyd biografies. Ek glo dit nogal, maar dan weer: is alle skryfwerk nie maar biografies nie?
Ek het al romans vir volwassenes ook geskryf. Die titel wat die meeste lesers sal herken, is Die dekonstruksie van Retta Blom, moontlik omdat die fliekweergawe daarvan amptelik in 2025 vrygestel gaan word. Waaraan skryf ek die maklikste? Dis ’n vraag wat onderhoudvoerders dikwels vra. Die antwoord: volwasse fiksie kom vir my makliker omdat ek (darem meestal) ’n volwassene is. Ek hoef nie in my diep-onthou te gaan rondkrap vir die emosies van ’n vyftienjarige nie. Waarom bemoei ek my dan enigsins met boeke vir die jeug? Dalk het ek nog altyd ’n voorliefde vir moeilikheid gehad. Plus, ek hou régtig van jongmense. Daardie ongerepte broosheid van hulle. Hulle oneindige nuuskierigheid oor alles – die lewe, die liefde, hulle lywe. Die groot en dikwels pynlike soeke na hulle plek in die groter prentjie. ’n Jongmens is vir my soos ’n eksotiese voël in ’n kou. Die karakters in my boeke moet nog volgens die reëls van volwassenes leef, maar wat sal gebeur wanneer hulle hul vlerke sprei? Die moontlikhede is eindeloos! Wat het Arnelia van As mens geluk kon proe gaan swot? Het sy vandag haar eie besigheid wat gesonde kitsmaaltye vir korporatiewe mense maak? En Kara Immelman van Toe ons oneindig was? Woon sy in San Francisco? Is sy ’n swemafrigter en het sy liefde gevind? Is haar liefde ’n donkerkopmeisie in ’n kreatiewe bedryf? Dalk ’n mode-ontwerper? Ek los my hoofkarakters altyd op ’n goeie plek, sodat hulle die wêreld kan gaan verower. En ek wonder gereeld waar hulle nou is en wat hulle aanvang.
Met elke nuwe jeugmanuskrip bevind ek my op die rand van ’n afgrond. Ek duik in en hoop vir die beste. En, al word die boek op die ou end goed ontvang, word die meeste lesersindrukke en resensies deur grootmense geskryf. Soos nou weer met Quinn se jaar van kwik. Ek kry soveel positiewe resensies, en ek is oorstelp en dankbaar, maar daar is nog nie regtig terugvoer van jong lesers nie. Daar mag dalk nooit wees nie, tensy die boek voorgeskryf word en leerders gedwing word om lesersindrukke te skryf as deel van die leerplan. ’n Jeugboekskrywer skryf dus dikwels “die newels in”, en moet staatmaak op volwassenes vir terugvoer. Is dit ’n suksesvolle jeugroman as volwassenes daarvan hou? Hoe weet ’n mens regtig?
Die bemarking van jeugboeke bly vir my ’n raaisel. Ouers koop immers kinderboeke vir hulle kleuters en kinders op laerskool. Maar wie koop Afrikaanse jeugboeke? Ek vermoed bitter min tieners met toegang tot sakgeld koop boeke. Onlangs kuier ek met ander skrywers wat by Lapa uitgee, en ons praat oor hierdie einste probleem. Daar word soveel moeite gedoen om ’n pragtige boek uit te gee, maar ná die eerste maand of twee se hoe-ha in die media, sterf die boek dikwels ’n stille dood. Ons gesels oor TikTok en Boekstagram, ruil idees uit. Daardie aand kyk ek een na die ander YouTube-tutoriaal oor hoe om ’n TikTok-video oor Quinn se jaar van kwik te maak. ’n Stemmetjie in my kop sê, “Pasop dat jy nie ’n gat van jouself maak nie.” Nou-ja, ek dink ek het dalk ’n gat van myself gemaak. Ek wíl mos ’n voorliefde vir moeilikheid hê.