Vyf jaar ná die verskyning van die veteraanjoernalis Jacques Pauw se megaverkoper, The President’s Keepers, ’n boek wat bewerings van grootskaalse korrupsie onder oudpresident Jacob Zuma blootlê, verskyn die opvolg Our Poisoned Land wat tans deur grotendeels dieselfde reaksie as sy voorganger begroet word, naamlik:
- Regdreigemente en eise dat die boek aan die mark onttrek word; en
- Die onregmatige verspreiding van die boek in PDF-formaat.
Kort ná die publikasie van die boek het die regspan van die Economic Freedom Fighters (EFF) in ’n brief aan NB-Uitgewers geëis dat die boek onmiddellik aan die mark onttrek word en dat beide die uitgewer en die skrywer onvoorwaardelik om verskoning vra aan die partyleier Julius Malema, Floyd Shivambu en Mbuyiseni Ndlozi vir die kwaadwillige publikasie van aantygings wat volgens hulle onwaar en lasterlik is. Die aantygings hou verband met Malema se omstrede verhouding met die vermeende sigaretsmokkelaar Adriano Mazzoti, wat na bewering gereeld EFF-lede sou trakteer met wilde partytjies en geld.
Soos in 2017 verwerp PEN Afrikaans die pogings, weliswaar van ander rolspelers, om vir Pauw en sy uitgewer te intimideer en te sensureer. PEN Afrikaans onderskryf vryheid van uitdrukking, vryheid van denke en van meningsuiting, wat uiteraard vrye kritiek insluit, binne die perke van regmatigheid, waarin die vraag van openbare belang ’n sentrale rol speel.
PEN Afrikaans veroordeel pogings tot verdoeseling van inligting wat regmatig gepubliseer is en met kundigheid, moeite, omsigtigheid en durf aan die leserspubliek beskikbaar gemaak word – teen groot risiko vir beide skrywer en uitgewer in die geval van opspraakwekkende ondersoekende joernalistiek soos in Pauw se boeke vervat.
Ons doen ten slotte dus ’n beroep op lesers om daardie insette en sorg van die skrywer en uitgewer na waarde te skat en nie ’n onregmatige PDF-kopie van die boek op sosiale media te versprei nie. Sodanige rooflees is nie net ’n outeursregoortreding, en dus onwettig nie, maar dit berokken groot skade aan die betrokke skrywer en uitgewer en aan die groter boekbedryf.