Nuusbrief: September 2025

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
PEN Afrikaans veroordeel die sluipmoord op Bouwer van Niekerk ten sterkste
 
PEN Afrikaans betreur en veroordeel die sluipmoord op Bouwer van Niekerk. Dit is ’n tragiese en skokkende verlies van iemand wat bekend was as ’n onkreukbare regspraktisyn, ’n toegewyde landsburger, en ’n geliefde vriend en familielid. Dit is ook ’n laakbare aanval op ’n grondwetlike demokrasie waarin korrupsie geen plek behoort te hê nie en waarin regspraktisyns, geregsdienaars, joernaliste, skrywers en fluitjieblasers sonder vrees vir vergelding en geweld hul werk moet kan doen om dit aan die kaak te stel.
 
Van Niekerk is na bewering op 5 September in ’n raadsaal by sy werksplek deur sluipmoordenaars doodgeskiet wat hul as kliënte van die regsfirma SmitSew Prokureurs voorgedoen het. Bouwer, ’n insolvensiepraktisyn, het volgens berigte al jare lank doodsdreigemente ontvang wat verband hou met die hoëprofiel-sake waaraan hy gewerk het.
 
Bouwer van Niekerk was die seun van professor Anton van Niekerk, ’n gereelde rubriekskrywer, afgetrede professor van filosofie by die Universiteit van Stellenbosch, en ’n getroue en gewaardeerde lid van PEN Afrikaans. Die bestuur van PEN Afrikaans betuig ons innige meegevoel aan die Van Niekerks.
 
Die moord op Van Niekerk is voorafgegaan deur soortgelyke brutale aanvalle. Prominente voorbeelde is die sluipmoorde op insolvensiepraktisyns Cloete Murray en sy seun Thomas Murray in 2023, en die moord op Babita Deokaran, ’n fluitjieblaser wat in 2021 doodgeskiet is ná haar oopvlekking van grootskaalse korrupsie by die Gautengse gesondheidsdepartement. 
 
Hierdie tipe aanvalle op die dapper stemme wat opklink teen korrupsie is afgryslik en onaanvaarbaar. Dit is ’n bron van groot kommer vir almal wat wil woon in ’n land waarin billikheid, geregtigheid, vrede en die handhawing van menseregte die norm is.
 
Diegene wat hierdie gruwelike misdade pleeg om die waarheid te probeer verdoesel, werk ’n kultuur van wetteloosheid, uitbuiting, onregverdige bevoordeling en oneerlikheid in die hand.
 
Dit kan nie geduld word nie en ons veroordeel dit ten sterkste.    

(Hierdie verklaring is ook hier op ons webwerf beskikbaar.)
 
Tuin van Digters 2025

 

Ons sien uit na die Tuin van Digters-fees wat hierdie naweek by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaasvind. Opbetaalde lede van PEN Afrikaans mag die fees weer vanjaar gratis bywoon. Hartlik dankie aan die Breytenbach Sentrum vir hierdie spesiale vergunning! Lede se name sal op ’n lys by die ingang wees. Gratis toegang geld vir opbetaalde lede, maar nie hul metgeselle nie. Kontak ons gerus by penafrikaans@gmail.com met enige vrae oor ledegeldbetalings.
 
Vanjaar se Tuin van Digters-fees se tema is “wanatoe”, geïnspireer deur Breyten Breytenbach se woorde oor die voortbestaan en koördinering van Afrikaanse feeste – “waarheen en hoe loop die pad… en waarnatoe?” Die tema vra na die rigting van die digkuns ná Breytenbach se afsterwe op 24 November 2024 en word ’n uitnodiging om te besin oor ons bedoelinge, beweegredes, en die pad vorentoe vir gevestigde sowel as jong digters.
 
PEN Afrikaans bied op Saterdag 13 September ’n paneelbespreking oor die feestema aan. Ons hoop julle sluit by ons aan om na hierdie paneel te luister.
 

Klik gerus hier vir die volledige feesprogram.
 
Wenner van die Ingrid Jonker-prys aangekondig

 

Sedert ons vorige nuusbrief is Jaco Barnard-Naudé aangewys as die wenner van vanjaar se Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie.
 
Die Ingrid Jonker-prys word jaarliks toegeken aan die beste debuutwerk van Afrikaanse of Engelse poësie. Die prys word om die beurt toegeken aan bundels in dié twee tale, die tale waarin Jonker self geskryf het.
 
Dit is ’n besonderse prys – van digters aan digters. Die pryskomitee bestaan uit digters wat die administrasie vrywillig behartig, en die beoordelaars is ook digters.
 
Baie geluk aan Jaco Barnard-Naudé wat vanjaar vir sy debuutbundel, om my kastele in Spanje te sloop, met hierdie prys vereer word. Die prys sal Saterdag tydens vanjaar se Tuin van Digters-fees aan hom oorhandig word.  
 
Kortlyste vir Afrikaanse resensiepryse bekend
 
Die kortlyste vir die Netwerk24 kykNET Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse, wat vanjaar vir die tiende keer toegeken word, is pas aangekondig.
 
Meer as 100 fiksie- en niefiksieresensies is ingeskryf vir die pryse, waarmee jaarliks erkenning gegee word aan uitmuntende Afrikaanse resensies oor Afrikaanse boeke wat in die vorige kalenderjaar verskyn het.
 
Die fiksie- en niefiksiewenner ontvang elk R50 000.Die kortlyste is alfabeties volgens skrywer soos volg:

FIKSIE
– Willie Burger: LitNet-resensie oor Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach, 4 September 2024. LitNet: Onrus op Steynshoop
– Paul Kammies: “Nathan Trantraal se graphic novel oo hoe Bruin seuns ‘n wound asse gift gegie is” oor Die man wattie kinnes vang deur Nathan Trantraal, in Klyntji, 15 Julie 2024.
Klyntji: Die man wattie kinnes vang
– Ryan Pedro: “Assie lyke oppie nuus soes jou lyk” oor Die man wattie kinnes vang deur Nathan Trantraal, in Rapport, 26 Mei 2024. Rapport: Die man wattie kinnes vang
– Nathan Trantraal: “Roman oorie oolog is ’n epic” oor Rooisand deur Jeremy Veary, in Rapport, 3 November 2025 Rapport: Rooisand

NIEFIKSIE
– Willie Burger: “Daar is nie iets soos ’n ‘mooi dood’ nie” oor Sing, Mamma, sing deur Theresa Papenfus in Plus 50, Junie/Julie 2024
– Lindie Koorts: “Jopie Fourie: Hoog tyd vir bietjie feite” oor Jopie Fourie: ’n Besinning deur Albert Blake in Rapport, 15 September 2024. Rapport: Jopie Fourie
– Danie Marais: “Steeds geen pretensie, genadiglik meer beheer” oor Hoe ek dit onthou deur Francois van Coke en Annie Klopper, Netwerk24, 11 November 2024. Netwerk24: Hoe ek dit onthou

Baie geluk aan almal wat die kortlyste gehaal het.
 
Die volledige persverklaring is hier beskikbaar.
 
Algemene jaarvergadering
 
Ons herinner graag ons lede aan PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering wat op 8 Oktober om 18:00 via Zoom plaasvind. Bevestig asseblief bywoning by penafrikaans@gmail.com om die Zoom-skakel te ontvang. Almal is welkom, maar slegs opbetaalde lede sal stemgeregtig wees.
 
Daar sal tydens die vergadering ’n nuwe bestuur verkies word en dit is dus belangrik dat daar ’n kworum teenwoordig is en dus ’n behoorlik gekonstitueerde ledevergadering wat die verkiesing behartig.
 
Indien jy nie self die vergadering kan bywoon nie, wil ons vriendelik versoek dat ’n volmagvorm ingevul word wat ’n ander lid magtig om jou in die stemming te verteenwoordig. Die volmagvorm kan hier afgelaai word en voltooide volmagvorms kan asseblief na penafrikaans@gmail.com gestuur word.   
 
Suid-Afrika se beleidsraamwerk oor kunsmatige intelligensie en die geleentheid vir insette oor die oudiovisuele mark
 
Dit het onlangs onder ons aandag gekom dat die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologie al in 2023 en 2024 besig was met beraadslaging oor kunsmatige intelligensie met die oog daarop om Suid-Afrika se nasionale beleid oor KI saam te stel.
 
Die nuus oor hierdie inisiatiewe en belangrike gesprekke het egter nie die kreatiewe sektore bereik nie en dié sektore, wat bedrywe en ’n werkerskorps insluit wat van die mees kwesbare is vir die ontwrigtende gevolge van kunsmatige intelligensie, was ongelukkig nie deel van die gesprekke wat op die bekendstelling van die Suid-Afrikaanse Nasionale KI Beleidsraamwerk in Oktober 2024 uitgeloop het nie. Die geleentheid om hierop kommentaar te lewer was binne enkele weke verstreke.

PEN Afrikaans vind dit kommerwekkend dat geen skrywers, vertalers, redigeerders of ander persone wat met woorde werk, voltyds óf vryskut, by die gesprekke betrokke was nie.
 
Tans is daar die geleentheid om teen 26 September 2025 kommentaar te lewer op die Departement se “Draft White Paper on Audio and Audiovisual Media Services and Online Safety”wat op 10 Julie 2025 gepubliseer is. Die Departement het tydens ’n inligtingsessie op 29 Augustus aangedui dat kommentaar oor die Nasionale KI Beleidsraamwerk hierby ingesluit mag word.
 
Ons deel dus graag die tersaaklike dokumente – klik op die skakels bo om dit af te laai – en moedig belanghebbendes aan om teen die sperdatum kommentaar te lewer.
  
Rus in vrede, prof. Wilhelm Jordaan

 
PEN Afrikaans betreur die heengaan van prof. Wilhelm Jordaan (1943 – 2025) as ’n hartseer verlies. 
Jordaan was Die Burger se langsdienende rubriekskrywer van “Van alle kante”. Hy was ’n geliefde en gerekende figuur in die joernalistiek en die akademie, asook ’n gepubliseerde digter en skrywer. Sy volgehoue bydraes het Afrikaanse lesers verryk en laat nadink. Met kennis, deernis en opregte belangstelling het hy geskryf oor die lewe en oor die menslike toestand.
 
Sy akademiese vakgebied was sielkunde en hy is in 2021 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die Stalsprys vir Sielkunde vereer. Die openbare diskoers in Afrikaans is onteenseglik armer sonder sy waarnemings en insigte oor “die roeringe van die steeds ontvouende menslike verhaal” wat hy gulhartig aanhou deel het. Mag hy in vrede rus. Ons dink aan sy naasbestaandes in hierdie tyd.
 
Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Augustus 2025 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.  
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in September 2025
 
Baie geluk aan ons lede wat in September nuwe boeke op die rakke het.
Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Ten slotte: Hartlik welkom aan Johan Myburg wat as lid by ons aangesluit het.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans