Grafte, geeste en galgehumor: ’n besinning oor die Afrikaanse gotiek – Gerda Taljaard

Daar is ’n fyn lyn tussen die natuurlike en bonatuurlike, tussen lewe en dood, tussen die tydelike en ewige. Vir my is hierdie fenomene nie teenoorgesteldes nie, maar verwante begrippe, twee kante van ’n dun, deurdringbare muur. My voorsate was mense wat leërskares engele gesien het, wat voorbodes gekry en deur afgestorwenes besoek is. My ma en ouma het oor hierdie dinge gesels asof dit alledaags was, gewoonlik by die kombuistafel waar hulle boontjies gekerf of gesit en hekel het. Hulle het dit nie as teenstrydig met hulle Calvinistiese oortuigings gesien nie. Daarom is dit seker nie verbasend dat die gotiek in my romans neerslag sou vind nie, vanaf ’n Engel in die hoenderhok (2009), regdeur tot by Die grafdigter (2025).

Nog ’n faktor wat waarskynlik bygedra het tot my fassinasie met die makabere, is die verskeie kere wat ek, soos my ouma dit gestel het, ’n “flirtasie met die dood” gehad het. Toe ek drie jaar oud was, het ek amper in die bure se swembad verdrink. Ek was al blou in die gesig toe my pa my daar uitduik. Op vyf word ek deur ’n immer haastige buurvrou se Ford Capri getref, maar beland wonderbaarlik in ’n struik, nie op die teerpad nie. ’n Paar jaar later stap ’n vreemde man met ’n mes in sy hand by ons agterdeur in. Ek en my suster, wat op daardie stadium alleen by die huis was, vlug gang-af en kruip onder my ouers se dubbelbed in. Die man stap die kamer binne, om die bed, maar kry ons nie. Hy vat niks. Nie eens my pa se hopie kleingeld wat oop en bloot op sy bedkassie lê nie. As agtienjarige word ek amper deur ’n mak gemsbok se horings deurboor. Hierdie noue ontkomings maak my bewus van die dood se koue asem, van die dowwe blaar in elke roos, ’n druppel gal in die soetste wyn; sodat die donker stroom van my onbewuste gedurig deur die oppervlak van my bewussyn dring, en in my denke, drome en skryfwerk manifesteer. Dit is waarskynlik ook die rede waarom ek die musiek van The Cure, Siouxsie and the Banshees, Nick Cave en The Sisters of Mercy onweerstaanbaar vind.

Soms kry die paranormale in my boeke gestalte as magiese realisme – waar die bonatuurlike heeltemal natuurlik en sonder verskrikking in die verhaal voorkom. Ander kere weer, verskyn die bosinlike as gotiese, “unheimliche” verskynsels, maar nooit sonder ’n psigologiese motivering, of sonder ’n goeie skoot humor nie.

In Hilary Mantel se roman Beyond Black merk haar hoofkarakter op: “Fear the living, not the dead.” Dis nie die bonatuurlike wat jou van vrees moet laat sidder nie, maar veel eerder mense se wreedheid. Dít is waaroor gotiese tekste eintlik gaan, om die leser se aandag deur middel van die paranormale te vestig op die werklikheid van geweld, onderdrukking, onverdraagsaamheid en uitbuiting. Menslike brutaliteit is by verre meer skrikwekkend (én meer onverstaanbaar) as spoke of bose geeste se gruwelikheid. Wanneer die realiteit te angswekkend raak, soek ons dikwels ’n bosinlike alternatief, word ons werklike vrese na die onwerklike gekanaliseer.

Die wette van oorsaak en gevolg kan nie op alle psigiese fasette van toepassing gemaak word nie. Carl Jung het erkenning aan die bonatuurlike gegee, maar hy moes toegee dat dit empiries onbewysbaar is, dat dit verby die menslike vermoë strek om dit op logiese wyse te verklaar, dat ander reëls vir die boaardse geld; vandaar die ontstaan van die parapsigologie. Letterkundiges wat derhalwe literêre werke met gotiese elemente daarin tot “ontvlugtingsvermaak” afmaak, en boonop van die standpunt af uitgaan dat hierdie tipe letterkunde nie enige sinvolle bydrae tot die literêre kanon lewer nie, is bloot oningelig oor die psigoanalitiese én literêre waarde daarvan. Sterk gotiese elemente kom immers voor in gerekende skrywers soos Ingrid Winterbach, Reza de Wet, D.J. Opperman, Henriette Grové (onder die skuilnaam Linda Joubert) en Anna M. Louw se skryfkuns. Hierdie skrywers se werk word dikwels gekenmerk deur ’n atmosfeer van misterie, onheil, spanning en vrees, asook ’n onherbergsame omgewing wat deur voorbodes, drome, visioene, onverklaarbare gebeurtenisse en gekwelde karakters met ’n doodsobsessie oorheers word. C. Louis Leipoldt, I.D. du Plessis, M.E.R., Elsa Joubert, Eugène Marais en T.J. Haarhoff het hulle trouens met die spiritisme bemoei, sodat dit ’n sterk invloed op hulle lewe én skryfwerk gehad het. Dit is vernaamlik Eugène Marais wat die eksponent van Afrikaanse gotiese literatuur is, veral wat sy Die boom in die middel van die tuin (1933) betref.

Die gotiek is ’n spreekbuis vir sosiale vrese en is dikwels metafories vir traumatiese ervarings. Aangesien die lesers én skrywers van gotiese romans vroeër jare meestal vroue was (Mary Shelley, Ann Radcliffe, die Brontë-susters), en vroue gemarginaliseer was, is ook die gotiese roman vir dekades lank gemarginaliseer. Eers taamlik onlangs het psigokritici die sinvolheid daarvan besef en het dit ’n hoër status begin geniet, want gotiese romans is tekenend van aktuele kwessies, veral wat die onderdrukking van die vrou betref. Die verskrikking in gotiese romans kan met ander woorde nie uitsluitlik toegeskryf word aan die bonatuurlike nie, maar ook aan die werklikheid van verkragting en mishandeling wat dikwels daarin ter sprake kom. In eietydse gotiese verhale gaan dit veel eerder oor die knellende atmosfeer, asook die groteske, as wat dit oor paranormale verskynsels gaan.

In een van Tsjeckof se kortverhale, “Terror”, filosofeer ’n gekwelde karakter, genaamd Dmitri Petrowitsj, dat hierdie sigbare lewe, sowel as die lewe anderkant die graf, ewe onverstaanbaar én skrikwekkend is. As jy die bonatuurlike vrees, meen hy, moet jy vir die natuurlike ook bang wees, aangesien ons begrip van albei beperk is. Die eintlike doel van die gotiek is om (op versluierde wyse) uit te wys hoe vreesaanjaend die werklikheid van byvoorbeeld natuurrampe, volksmoord of oorloë is.

Vir my persoonlik is die realiteit meer angswekkend as wat enige paranormale verskynsel kan wees. Ek het ’n ontsettende vrees vir weerlig, padongelukke, reeksmoordenaars en vir verwerping. Ook vir enige vorm van mishandeling, hetsy fisiek of emosioneel: baie meer as vir onaardse fenomene. Vir my is dit makliker om okkultiese verskynsels te verklaar en te verteer as mense se wraaklus en inhaligheid. Ek hanteer eerder ’n skaduwese as ’n geslepe, manipulerende mens wie se nare intensies agter ’n masker van vriendelikheid verskuil word.

Partymaal is ’n realistiese literêre styl te beperkend vir die uitbeelding van traumatiese ervarings, dan moet die grens van die realistiese oorskry word, daarom is dit interessant om te sien watter werklike vrese agter die vrees vir die bonatuurlike in gotiese tekste lê.

Kerkhofpoësie is uiteraard ’n deurslaggewende gegewe in my roman Die grafdigter. Soos my karakter Zhanna, dwaal ek graag in begraafplase rond. Grafte vertel stories. Dit gee ’n nostalgiese blik op die verlede, op ’n stukkie geskiedenis wat saam met verweerde grafskrifte dreig om in die vergetelheid te verdwyn.

Kerkhofgedigte, as voorloper van die gotiese literatuur, vorm deel van die ars moriendi-tradisie (sterwenskuns-konvensie), en is somber, filosofiese bepeinsings oor die verganklikheid van die mens binne ’n begraafplaasmilieu. Die konsep van ’n grafdigter mag dalk op die oog af volksvreemd lyk, tog is daar heelparty Afrikaanse digters wat al kerkhofpoësie geskryf het, onder andere Ingrid Jonker:

Lied van die grafgrawer

Tussen die dooie liggame van gister

waaroor die skraal sipresse waak

moet ek twee nuwe grafte grawe

en soos ’n digter my vermaak

sal ek bepeins hoe die siel ontvlug

en hoe die stoet wat hier sal staan

’n dooie maat begraaf en dan 

verleë oor hom huis toe gaan

en meer modern sal ek dink

hoe lê my lewe in die stof 

en telkens om my op te beur 

sing ek vir my ’n lied van lof

maar elke dag sal ek onthou 

hoe jy vertrek het uit my huis 

tussen die grafte voel ek my

vandag en elke dag meer tuis

hier waar die skraal sipresse waak

het ek ook jou begraaf my kind

sonder gebed of ’n lied of ’n graf 

net ek en die winterwind

            (Uit: Versamelde werke 1994:100)

Op ’n manier is elkeen van my karakters in Die grafdigter ’n grafdigter, want elkeen bepeins die mens se verganklikheid op sy of haar manier, asook die vooruitsig van ’n lewe ná die dood. Kerkhofpoësie (én die gotiek) herinner ons dat die dood nie iets is wat “ander mense” tref nie, maar dat dit die grondslag van ons bestaan vorm. Juis daarom is die begraafplaas ’n sfeerbepalende element in my roman. Die grafdigter gaan egter nie net oor die lewe se kortstondigheid nie, maar ook oor die vreugdes daarvan:

Dit is die uur net voor die son sak, die mooiste uur. Wanneer die voëls terugkeer nes toe, wanneer bome en geboue omgewe word deur goue lig, wanneer alles stiller en stadiger raak. Die uur waarin die dooies die lewendes hul lewe beny.

Ek maak my mond oop, drink die vogtige lug in, ruik nat grond, stuifmeel en blare; word opeens oorweldig deur die vreugde van ’n aardse bestaan, sodat ek tussen die grafte wil dans. Soos ’n berkeboom in die wind.

(Uit: Die grafdigter, 2025:120)         

Geraadpleegde bronne:

Loots, M.J. 2007. Gotiese elemente in François Bloemhof se debuutroman Die nag het net een oog. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Mantel, H. 2005. Beyond Black. Londen: Fourth Estate.

Tsjeckof, A. 2021. Fifty-Two Stories. Londen: Penguin.